Produksie tools |
DAG 13
Die afgelope paar dae moes ek die opname en produksie van die Goeie Vrydag diens behartig. Ek is aan die woord Vrydag, die een wat
nou die praatwerk voor die kamera moet doen vir die uitsending op Youtube (‘n
afgetrede vriend van my praat van die U-buis). Hierdie hele opname gebeur hier
in my studeerkamer. Dit was ‘n storie en het baie aanpassing gevra (ek vat
deesdae Darwin se woord ernstig op: Dit is nie die sterkstes wat noodwendig
oorleef nie, maar die wat die beste aanpas!”. Ek moes aanpas want my devices is
nie van die nuutstes op die mark nie en dan moet daar allerhande ander
omstandighede reg wees. Maar dit was ‘n interessante en senutergende ervaring.
Ek was nog meer opgestres as voor en met normale eredienste, wanneer die
boodskap moet probeer bring. Eers begin dit reën toe dit die dag van opname
moet wees, ek weet ek mag en sal nie daaroor kla nie, maar die lig is toe nie
reg vir my toestelle nie. Toe begin my liewe buurman kap met hamer asof hy vir
die Olimpiese spele moet kwalifiseer.
Maar ek het lekker gelag vir myself, ek kon darem so op
my eie lekker pret hê. Waarvoor ek eintlik ook in skaamte gelag het, was om
myselwers op te neem en dan vir myself te kyk en luister. Wat ek sien, was nie
noodwendig lekker nie, ek het maar gegrom-lag. Want sien, ek het hierdie
maniertjies, manerismes as ek dit reg het, en hierdie stemmetjie (dit klink
seker vir ander mense normaal). As ek vir myself moet opkom, weet ek dat ek
regtig ernstig is en dat die Woord mens kan gryp op ‘n manier wat jou springs
in jou bene gee. Maar dit is my preek-maniertjies en preek-stem wat my weer aan
die masker laat dink.
Preek-pakkie (ek het darem 'n baadjie ook aangehad) |
Soms voel ek en dink ek dat ons preek-mense wat op
daai verhoog klim en praat, praat met soveel "gesag" en "mag" en al daai dinge. ‘n
Mens kom in-karakter in, daar op daai
verhogie, jy klink anders as wat jy by die huis is of langs die braaivleis-vuur
is. Meesal lyk ons ook anders, jy is meer gepolish (ons moet mos darem nie afsteek
nie en ook nie jou huismense se name modderpoele toe vat nie), jy is meer opgestel
vir die “groot” praat en “groot” wees geleentheid. Dit het my ook baie aan ou
Spiderman en sy super-maatjies laat dink. Hulle is net super as hulle in-karakter in daai blokkiesmaagpakkies
van hulle rondspring. Hulle probeer ook baie hard dat mense nie uitvind wie
hulle is nie.
Ek dink maar net en sê dit ook nou maar net, dat ek en
my praat-maatjies loop dieselfde gevaar dat. Nou moet ek miskien ensovoorts sê.
Ek dink dat ek so paar dinge van hierdie hele masker-stories
en opneem van die boodskap geleer het. Waarskynlik weer geleer het.
Een: ek moet regtig nou leer om myself nie so ernstig
op te neem nie (daar is nogals ‘n sielkunde boek wat daarmee wil help en ek gaat
dit beloer). Dit was nogal lekker om na die opname en stres (hoekom was ek so
gestres?) lekker vir myself verder te lag.
Twee: ek moet net sorg dat ek so eg en eerlik as
moontlik leef. Ek word liefgehê deur God (in die eerste en laaste plek) en
daarom kan ek net ek wees, sonder die basbrand in my om tog opduime en nie
afduime van ander mense te kry nie.
Drie: Ek moet my eie lyf vat, my eie bene en arm en
spiere en nie-spiere en vetjies en rolle, my eie velle en my eie gesig en hare
en brein en stem en al daai hele alles van myself. Dit is nie waarin my waarde
lê nie en ek kan myself meer aanvaar en liefhê, net soos ek is. Ek kan dit dan
ook gebruik as ‘n wegspringblok om ander te aanvaar en lief te hê soos hulle
is. Dis nogals bevrydend.
No comments:
Post a Comment