DAG 9
Ek is nog altyd van die oortuiging dat woorde en taal
gelaai is met krag om wêrelde te verander, of nuwe wêrelde te skep. Ok, dit is nie
‘n nuwe gedagte nie, maar dit lê nogals op die handvatsels van my gedagtes. Goeie
woorde gee geboorte aan goeie dinge. Slegte woorde gee weer geboorte aan slegte
dinge.
Woorde en taal help ook om identiteit te skep en ‘n
bepaalde waarde aan iets te gee. Dit is egter ‘n langer storie vir ‘n ander
dag.
Die konstante gebruik van goeie en mooi woorde skep ‘n
omgewing waarin almal wat die omgewing deel, beter af is en op ‘n beter plek behoort te wees. Hoe hulle voel, hoe hulle
dink en hoe en wat hulle doen, word verander. Indien ek aan een van my huismense
‘n egte-opregte komplement gee en dit ook gereeld doen, gebeur daar
wonderwêrelde met daardie huismens en ook met myself. Dis soos ‘n saadjie wat
jy saai, dan versorg deur die ontkieming totdat dit ‘n plant is wat blom, jaar
in en jaar uit nuwe blomme gee.
Die beste Woord wat ek al teëgekom het is die Een
waarvan Johannes praat.
Iets soos,
“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die
Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en
sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe,
en die lewe was die lig vir die mense....”
Mag ons vandag Woord woorde gebruik wat nuwe
wonderwêrelde vir ons huismense skep waarin ons in die Lig lig kan saamleef.
No comments:
Post a Comment