DAG 12
Met ons grootword jare leer ons om maskers te maak wat
by ons pas. Kinderjare het ons in die sangklas gesing van ‘n jas wat netjies
pas. Die maskers het te doen met die stryd tussen ons ware selwers en die self
wat wêreld wil hê ons moet wees (of dalk veel eerder die self wat ons dink
wêreld wil hê ons moet wees). Dit is nie noodwendig die “bose” wêreld se
sogenaamde verwagtings nie, maar sommer die liefie-mense om jou, die naby-mense
van kinderdae af tot nou die wat nou saam jou onder die grendelstaat-dak
oorleef. Op grond van positiewe of negatiewe terugvoer vorm ons hierdie “veilige”
maskers. Hoeveel duime-op of duime-af het ons posts vandag gekry, maak nie saak
watter platform jy gebruik of op watter verhoog jy staan nie. Ons word ook
afhanklik daarvan en dit word ons soos ons suurstof, maar dit is besoedelde
suurstof. Dit is eerder besmette druppeltjies en ek moet maskers dra om te oorleef. Ons hoef nie die maskers by apteke
te koop nie, ons maak dit sommer by die huis en soos ek dag vir dag met mense
leef, enige plek. Jy hoef nie ‘n naaimasjien te hê en die regte materiaal aan
te koop nie. Die enigste prys van die maskers is die koste, nie die papier
soort of metaalagtiges nie. Die prys is jou ware self.
Maar soos ek gesê het, ons word masker-junkies.
Hierdie woorde voel skielik swaar, soos groot druppels
wat te ongemaklik om my hang, op die punt om die swaartekrag-ding te doen. Ek
soek nou skoon water en ontsmettingsmiddel om my gesig te was, my
masker-maak-hande twee keer te reinig.
Sommige sielkundiges sal sê dat dit nie so erg is nie
en nie so besmetlik hoef te voel nie. Ons het hierdie maskers eintlik nodig.
Wel, ook ‘n gesprek vir annerdag.
Daar is wel maskers wat ons nodig het. Hier in ons
geweste is ‘n paar inisiatiewe waarvan een #masks4all is. Met die Covid-19
bedreiging wil dit lyk of ons gewoond sal moet raak om, wanneer ons in publieke
areas beweeg, maskers te dra. Ek sukkel-sukkel daarmee, want dit voel benoud
(nie net die publieke areas nie, veral die maskers), maar sal gewoond raak
daaraan. Daar is ‘n groot tekort aan maskers en daag ons mense uit om, indien
jy ‘n naaimasjien het, vir jou huismense daarvan te maak en sommer nog 5 ekstra
(of meer, ons is moes goed om maskers te maak). Skenk dit vir ander mense, vind
plaaslik uit waar jy dit kan afgee (dalk by dokters, apteke, Brandweer of
SAPD). Kyk op die Internet vir (soos my skoonpa sal sê: resepte) patrone vir
maklike en redelik veilige maskers.
No comments:
Post a Comment