Blykbaar is ek baie kwaai met my honde. Nee, laat ek
net kwalifiseer, nie een van die drie honde is myne nie. Ek is baie lief vir
honde en ek dink die honde weet dit. Dit (my voorkeur-liefde vir hulle bo ander
troeteldiere) en my hare en gemoed wat soms woes staan, maak seker een of ander
indruk op hulle.
In my kinderdae het ek die Trompie boek-reeks verslind
en toe dit omgesit is in ‘n TV-reeks, het ek dit nie gemis nie. Een toneel wat
ek altyd sal onthou was ‘n honde-storie. Trompie het gaande geraak op hulle
Tuinman se hond (of so iets) en toe besluit hulle die hond moet self kies
tussen hulle twee. Hulle gaan staan toe so klompie tree wegweerskant van die
hond en roep en fluit gelyktydig vir die arme brak. Die hond kies toe die
“regte” persoon. In my eie gedagte-gang, weet ek dat al is nie een van die
honde op die werf myne nie, luister hulle in die eerste plek vir my. Om die
waarheid te sê dink ek hulle is die enigste asemhalende skepsels op die werf
wat tot ‘n redelike mate effektief reageer op my stem, arms swaai en versoeke.

Dan besef ek net weer dat wanneer hulle so lê en loer
(en maak asof hulle meer intellegent is as wat ons dink), dan is hulle gedagtes
en my gedagtes nie dieselfde nie. Die honde se gedagtes is op twee plekke,
volgens my terugkyk-mense-wysheid. Hulle wag dat ek opstaan sodat hulle vinnig
kan inbeweeg vir ‘n sarsie ekstra aandag by die ander mense op die stoep. Of
hulle wag dat iemand dalk ingaan en die kombuis se deur oopmaak en hulle self
ietsie te ete kan kry. So lê hulle en wag, die twee Labbies baie geduldig, maar
Gretjie wag whine-whine. Maar wag wag hulle.
Hond se gedagtes kry – verstaan ons dalk met iets in
die rigting van agterdogtig raak , wantrouerig wees oor iets of iemand. Maar ek
wil (dalk geforseerd omdat dit "my" honde is.....net ‘n grappie) "my" honde se gedagtes
anders lees in terme van die hulle commitment om te wag. Hulle vertrou, terwyl
hulle daar wag-lê, terwyl ons eet of kuier op die stoep, dat daar iewers in die
nabye toekoms iets nice vir hulle gaan wees. Hulle is ook ok om daar te lê en
wag, want hulle sien, hoor en ruik (proe ook, want iewers kort gelede het hulle
‘n paar lekke aan menslywe uitgedeel) ons daar op die stoep. Hulle lê dalk so
bietjie verder weg, maar hulle is steeds deel van die kuier en saamwees. Hulle
sou graag by ons, onder ons voete wou lê, dalk die geselskap so bietjie
oorvat en die onderwerpe van gesprekke word. Maar hulle wag eintlik heel
geduldig, maar angstig dat die inperking so gou moontlik opgehef kan word.
Ons leer verseker as deel van God se pad met ons om ook
te wag. Dalk kan ons so bietjie in-tap in ons honde se gedagtes.
Psalm 130 se bid-sanger wag so:
5Ek stel my vertroue in die
Here, ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
Mag ons vandag met vertroue wag op die Here!