Friday, December 24, 2010

Binnelanders, Kuslanders en Uitlanders, tongvalle en Kerstyd

Waar jy vandaan kom, het 'n groot invloed op die taal wat jy gebruik (ook die betekenis wat jy aan jou taal gee). Vat nou maar hoe die Amerikaners praat en hoe ons praat. Daar is "traffic lights" en "robotte", "ketchup" en "tomato souce", "awesome" (uitgespreek: aasem) en "beautiful", ens. Dan is daar ook die verskil in ons fisiese aanpak om "shopping mall" uit te spreek en te gebruik. Party, dalk meer na die binneland se kant toe, se monde is mos ronder en meer getuit (wanneer hulle praat), maar op so manier dat niemand die geronde lippe kan sien nie. Maar die tongklanke is anders. Kyk nou maar na hoe die tipiese woorde "strand" en "pa" en "ma" uitgespreek word. Hier na die kuskanttoe is ons klanke platter, dalk hoofsaaklik as gevolg van die see se plat gevoel as jy ver daaroor uitloer. Vir party is die "see" wel die see soos in die see by Vic'baai vir ander is dit die "ocean". Vir ons is die "ocean" weer die Stille, Alantiese of Arktiese oseane. As jy by die see gaan swem dan gaan jy see toe, vir ander is dit weer dat jy "beach" toe gaan. As jy strand toe gaan dink party hier onder naby die kus weer aan die Strand, naamlik die dorp daar naby die Kaap. Gepraat van die Kaap. Hier weg van die Kaap, is die Kaap enige plek in 'n omtrek van 100 km van Kaapstad se middestad. As jy daar in die "Kaap" woon, dan praat jy van "Stad"-toe gaan, dan is dit die regte Kaapstad.

Bloot op grond van hoe jou tong val, kan mens agterkom waar jou voete op die aarde val. Soms is dit 'n goeie ding want dan kan jy as mens-mens, voor God en saam met ander, sensitiewer met jou voete staan en ekstra moeite doen om beter te praat en te luister. Maar ander kere is dit nie 'n goeie ding nie. Vat nou maar as die November-blues jou beetgekry het. Dan is jy min lus vir selfs die spoortrappers in jou eie huis, wat nog te se van die  ander wat met 'n binnelandse of uitlandse tongval jou gehoorruimtes betree. 'n Langtou by 'n winkelsentrum maak jou  vinniger ge-irriteerd met hierdie ander klankmakers (om nie van die beperkte spasie op 'n nie-reenerige dag in die branders van Vicbaai te praat of die oor-besige strate vol anderse nommerplate nie en die parkeerkaartjie omdat jy nie kon plek kry in 'n "wettige parkeerarea" nie). Tongvalle kan dus tot misverstande lei, tot 'n oningeligde meningsvorming van ander sonder om hulle harte te hoor.

Ons is meesal maar vinnige om ons ore te spits as ander mense se tonge wat anders as ons eie val.
Kerstyd is juis 'n tyd wat ons harte en ore groter wil oopmaak om meer plek te maak vir ander en sagter te luister na ander se klanke.
Mag elkeen hierdie volgende paar dae en in die nuwe jaar, hard oefen om ongewone of net anderse klanke van ons mede-spoortrappers met 'n onverdiende goedheid te ontvang en die grense van die lande wat ons skei, af te breek.
Mag almal 'n Feestyd saam en alleen beleef en in die nuwe jaar in die goed en sleg met liefde reageer.