Monday, May 27, 2013

Lig aan die anderkant van die tonnel

Een van my oggend-fiets-uitstappies was nou anderdag die formidabelle Montagu-pas. Daarbo aangekom het ek 'n vroeëre gedagte om die treinspoor (of seker tramspoor) as die gekose pad huistoe die lig laat sien. Vroeër was dit net 'n donker onseker gedagte. Dit was 'n toets-ding om te sien of dit moontlik is om wel treinspoorlangs met 'n fiets te ry (volgende week wil ons 'n kortpad sny van Vondeling deur Swartberge al langs die treinspoorpoort). Nie te ver nie, oor die eerste bruggie en voor die eerste tonnel, het ek besef dat dit nie so wyse gedagte was nie. Maar ek wou my toughness aan myselwers bewys en besluit om die vroeëre gedagte wat nou gebore is, groot te maak. Dit was 'n klipperige,stamperige en onseker besigheid. Langs die treinspoor was daar nou en dan 'n afwissellende 40 cm spasie met 30m afgronde wat jou onnodig uitnooi, waarlangs ek vir so 50 meter op 'n slag lekker sag kon ry. Die stryd tussen grafitasie, om bo-op die fiets te bly en 'n nie-uitmergelende balanspunt te behou het meer energie getap as wat my lyf wou gee. As ek reg onthou was daar vier tonnels waardeur hierdie treinspoorroete met die wow-uitsigte see se kant toe en ook terug bergtoe in die klowe op, geloop het. Behalwe vir die emakulere uitsig is daar die ultra-stereo klanke van die berg se asemhaal met wind en voëlgesange (en nog iets/e iewers tussen die fynbos) en dan verseker my hartklop wat diep-bas respekvol in 'n skoner natuurritme probeer om die lewe in my lyf te behou.

Waar ek kon ry het ek gery, maar meesal vir 7km moes ek stap met skoene wat gemaak is vir ry. Die uitsig, die oomblik en die belofte van die huis wat iewers ver onder 'n geblurde spikkel was, het wel die gesukkel gelawe met die hoop dat ek in tyd weer normaal sal kan loop of sit. Maar my lyf het interessant gereageer binne sommige van die tonnels.
Wanneer die lig agter en voor my toegevou word deur die donker tonnelstanke, het hoendervleis onseremonieel op my lyf uitgeslaan en was ek seker dat ek sulke flierte van adrenalien geruik het. Dan het ek maar staat gemaak op my voete en bene se eweredige tree oor die sleepers van die treinspoor. Ek het myself getroos dat dit darem nie die Hugenote-tonnel se oneindigheid is nie. Maar soms het my tree te stadig gevoel en wou die lig aan die anderkant van die tonnels nie betyds gasvryheid betoon nie. Dit was dan dat my hart se diep-bas vlak in my ore sulke groot houe geklop het en daar nie spasie was vir die vibrasie van ander geluide nie. Die veiligheidsinhamme van die tonnels het nie veilig gevoel nie en het ek myself gevang knipoog loer vir 'n langrige dun seilende gesis, 'n gespikkelde gedierte of 'n verdagte figuur met 'n kierie of blinkgevryfde skerpding. Ek weet in elkgeval nie hoe ek hulle sou sien nie. My kop en asem het my nie tyd gegee vir 'n loofliedjie soos kindertyd op die plaas as ek die Lister-enjin in die donker moes gaan afskakel nie.
Heelaas het daar gelukkig 'n flouerige lig eeu-stadig in die nagskadu van tonnel nader gesluip tot ek weer my eie voete kon sien trap-trap op "veiliger" plekke. Die berg se ander lewe het dan groter as 'n groot soeklig my oë en hele lyf verblind en nuwe waardering vir lig en Lig gegee.

Ten spyte van die verrassende "nuwe" klowe wat elke kilometer se stap-ry nog langer gemaak het, my eie stink sweterige menslyf en die tonnels se nagvreemde gevoel, het die berg my warm vasgehou asof ek deel is daarvan en my nie uitgespoeg aan die onderkant as 'n onwelkome vertrapper of uitdower van die Lig wat dit bied op dit my lewe nie. 

Sal ek weer hierdie gedagte daar bo-op Montagu-pas die lig laat sien? Jip verseker......

Die bekende eeue oue liedjie-gebed het nou effe nuwe woorde gekry:
al gaan ek deur donker tonnels, sal ek nie bang wees nie, want......