Thursday, May 13, 2010

Die tyd vlieg


Ek sit nog steeds hier op die duin


Dis skielik ‘n snaakse ding om te sê: “Tyd vlieg”. Voor my sien ek vlerke, horlosies (want dit is ons tydhouers) met vlerke wat nie net verby vlieg nie maar ook rondvlieg. Dalk is dit te kinderlik om so konkreet en abstrak gelyktydig te wil wees. Ons almal weet wat ons daarmee bedoel. Vir myselwers is dit ‘n manier van woorde gebruik om ‘n onbeholpe gevoel hier binne my te beskryf. Daar is geen beheer oor tyd, sekondes wat driftig aan-tik, haastig oppad na die volgende minuut, uur, dag, week, maand, jaar, dekade, eeu en so kan ons aangaan. Dit klink amper angstig, maar dit is net realiteite........ alles wat so saam met tyd verby vlieg. Tyd is volgelaai met mense, verhoudings met mense, beelde-prentjies van ons ervarings met die lewe. Tyd is gelaai met die lewe self (avonture, verveelde oomblikke, kreatiwiteit en ek weet nie altyd wat nog nie). Daar is ook soms daardie oomblik in die tye van die lewe, dat dit voel of jy daardie spesifieke tydsbelewing wil vasvang. Jy weet jy kan nie, daarom wil jy niks doen nie, want dan laai jy tyd met ekstra dinge wat die vlerke vinniger laat klap of jy maak windbane waarmee tyd spoed optel. Jy wil net “wees” in daardie oomblik en absorbeer, opneem, integreer ens. As jy vanuit jou “doing”-funksie leef, dan kan jy tydmors as jy die momente wat tyd gee nie volmaak met sinvolle dinge soos geld maak, besig wees met goeie gesprekke en aktiwiteite, iets vir die lewe en almal wat saam-lewe op die tafel sit sodat dit gesien kan word, gevat kan word, verkoop kan word. “Moenie so sit nie, doen net iets” is eggo’s in menigte huishoudings en selfs in werksruimtes. Ons word gedwing om besig te wees en tyd uit te koop en beheer te neem van tyd. As jy aan die anderkant vanuit jou “being”-funksie met tyd te doen het, is die kans goed dat tyd beheer neem van jou en jou binnekant oopmaak vir nuwe ruimtes om te ontdek. Dit bring jou by tydsones wat niks met die Greenwich (op hierdie oomblik weet ek nie eers hoe spel mens dit nie) te doen het nie. Dit gaan ook oor meer as net “wees” in die tye. Dit is ‘n oorgegee wees en ‘n ingesteldheid teenoor die lewe waarbinne tyd sekondes aftel. Vir my is dit ‘n oorgegee wees aan God in wie se hand my tye is (Ps 31:16), dit is om in tyd (Spr 3) in te klim en elke oomblik as nou belangrik en van waarde te kan geniet (en te leer hoe om dit meer en meer te geniet). As ek iets doen met tyd dit voluit rondborstig in die oe te kyk. Of eerder in die tyd waarbinne ek nou leef dinge doen, ook dit voluit te doen en te geniet as ‘n gawe (die goed en sleg).
In alle sportsoorte (met balle) is tydsberekening een van die kernaspekte wat jou help om die sport sinvol te beoefen. Die raakslaan, vang, skop en aangee van ‘n bal bepaal die punte op te telbord. Dis ook soos ‘n engin se “timingbelt” wat reg ingestel moet wees om die vonk op die regte tyd te gee sodat die brandstof kan ontbrand ens. Nou wonder ek hier oor my belewing van tyd en tydsberekening. Ps 1 praat vrugte op die regte tyd (tydsbereking), Spr 3 wil dit hê dat elke ding sy/haar tyd het.
Hoe ons op die vlerke van tyd saamvlieg voel vir my bepalend met wat ons doen met elke sekonde.... Ek dink nou so: my timingbelt is belangrik sodat daar ‘n vonk kan wees om die lewe in die tyd (met vlerke en al) goed te ontbrand. My timing/tydsberekening met God, in die nou van elke sekonde, is deurslaggewend om alle tye alleen en saam goed te leef...... Dalk klink dit beter om dit so stel: my ingestel wees op wat God wil en wat Hy gee en my ingesteldheid daaroor maak van tyd goeie ruimtes waarin ek kan doen en wees...
Ek dink ek moet nog verder dink hieroor

3 comments:

  1. Yip, die Groot Kunstenaar se kwas was erg aktief om die wolke en enige iets anders in die pad van die sonstrale met geel en oranjes te kleur

    ReplyDelete
  2. http://metdiemaangepla.blogspot.com/2010/05/pinkster-2010.html

    ReplyDelete