Friday, July 13, 2012

Van een seisoen na 'n volgende

Met Herfs wat met hakkel-tyd ingestrompel het die Winter in en 'n koue natterige Winter in ons lywe kleef, word ek selwers diep bewus van mense se eie lewenseisoene. So nou en dan gly 'n berg-wind warm bedompig oor almal, maar hier in die Suid-Kaap is die weer 'n oomblik van stabiele koue gematigheid. Tog is kilheid van die voorson-opstaantyd en inkruip-tyd 'n goeie oproep dat die seisoen aangeskuif het. Dis nie meer dieselfde as in Januarie-Februarie se warm-gloede oor jou lyfbestaan nie. Dis ook nie meer die matige Herfverkleuring


Die effek van die seisoene wat aanskuif is soms 'n ontstellende (vir sommige angswekkende) ervaring. Dit het 'n rimpel-effek deur en oor jou hele lyf. Ek sal byvoorbeeld nie aan enigiemand wat so bietjie flankeer met angstigheid, aanbeveel om te gereeld geheel en al kaalbas voor 'n spieel te staan nie. Die rimpels is soms sagte flabberagtige (oorhangerige) swellinge met 'n fyner en genuanseerde plooitjie-agtigheid op die buitekantste velle. Ek sou kon aangaan oor die rimpel-effek van die seisoene, maar ekself raak nou kort-asem en dit is nie van opwinding nie. Net vir kennisname, ek is volledig geklee soos wat ek hier sit en griffel, maar die seisoene se aanskuif het 'n ewige prentjie in my korter geheue ingebrand.


Daar is tog 'n kant waar een seisoen 'n goeie en vrugbare skuif maak na die volgende. Ons word wyser met die tyd, so hoop ons regtig. Ek weet ook dat ek rustiger word (party van my naby-mense sal se ek word te rustig) alhoewel my geduld voel of dit korter word. Ek weet ook dat ek stadiger en beter begin luister na ander stemme as my eie. Die verskillende seisoene leer my van respek vir die lewe, vir die skepping, vir mense wat anders as ek dink, voel en leef. Dit leer my hoe weerloos-kosbaar elke oomblik is. Die tyd stap aan, "nou" as 'n moment van asemhaal is klaar weer verby en wag nie vir 'n oomblik nie.


Ons het vandag Elise se Ouma Nellie van Albertinia begrawe. Haar seisoen is nou verby, maar het kwalititeit aan ander se seisoene gegee. 


Hieronder volg 'n paar (meer as 'n paar) woorde aan en oor haar:


Liefste Ouma,

Toe ons klein was, was ouma vir ons soetkoekies, hertzogtertjies, groentesop met varsgebakte brood, rooi aanmaakkoeldrank en melktert. Ons onthou ook die gekraak van houtvloere, die klokhorlosie in die gang, die reuk van sterk swart koffie en die geluid van die toeklap van die koolstoof soggens vroeg as alles nog stil was. 

Maar wanneer ons vroegoggend in die kombuis gekom het, was alles klaar reg en het ons ouma en oupa gekry waar julle sit en wag.  Amper soos die bybel sê wanneer jy goed doenlaat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie”.  

Soos ons ouer geword het, het ons ook begin leer van en lief word vir die mense wat vroegmore reeds die drumpel begin deurtrap het en ons het verstaan hoekom ouma se huis altyd vol mense en lag en geselsies was.  En soos ons nog ouer geword het het ons ook meer en meer begin meeleef in die stywe drukkies en die stille trane as ons wegry en ouma en oupa vir lank nog vir ons staan en waai het. 

Ten spyte van die swaar tye oor die jare was ouma se glas altyd vol. Al was ons vir so lank in ons lewens ver van ouma en oupa, sal ons altyd die vreugde van ons saamwees koester.  Ons het by ouma geleer van eenvoud as die vreugde van die  lewe, die gee en neem  net wat daar is en die dankbaar eet van elke skewe snytjie brood wat liefde is.

Ouma het altyd net gelag as ons sê ouma moet vir ons kom kuier waar ons ver oor die waters of ander kant die berge was.  Maar ons is dankbaar vir elke oomblik wat ouma deel was van ons lewe. 

Hier in Diani  aan die ooskus van Afrika drink ons vandag saam met Ouma 'n koppie sterk swart koffie en sê ons baie dankie vir soetkoekies en 'n lewensuitkyk wat ons help vorm het.

Elise, Tiaan, Alana en die agterkleinkinders in Kenya

En toe het ek ook 'n paar woorde gewaag van my eie saamstap (net ongeveer 19 jaar van haar 92 jaar)  met haar. Ek besef nou eers dat dat ek haar langer geken het as my hero Oupa Andries Pretorius...........



Ouma Nellie was nie my eie bloed-ouma nie, maar het van dag een vir my soos huis laat voel.
Baie vinnig deur die jare was Ouma Nellie so goed soos bloed-familie. Na elke kuier-slag by haar, of dit ‘n vinnige verby-ry-inval of dalk ‘n oorslaap was, het sy met die groetslag se druk, ‘n mens so vinnig vasgedruk, so asof sy jou nie nou-al wou laat gaan nie. Sy het mense om haar gesoek.

Koffie-kuiers en al die inval-mense

Haar koffie in die sak in die ketel op die stoof was meer as net ‘n beker koffie. Dit was ‘n stop, ‘n sit, ‘n pouse, ‘n saam-wees met haar en ander wat daar is en deur die dag kom inval (tydig of ontyd). Dit was soos die sela van die Psalm-kore in die tempel van ouds. Dit was ‘n korte asem-teug wat sy geskep het maar ‘n ewigheidswaarde uitgestoom het in ‘n beker vol aroma en haar eiesoortige nederige liefde. Daar was altyd ‘n kou-ding by die koffie. Die het sy gaan haal in die donker toe kamer (seker op sy tyd ‘n eetkamer, maar dit het nie gedeug soos die kombuis-tafel se kuier nie). As ek soms skelm daar ingeglip het was die donker vol lig. Oupa Krisjan se pype het op die buvet-tipe kas versamel gestaan. Onder toegemaakte houers was daar altyd ‘n goudgeel melktert (waarskynlik iewers nog een van tant San), die houer met die Hertzoggies en dan die immergroen geliefde Ouma-koekies (soetkoekies). Die soetkoekies was ‘n ete in sy eie reg. Deur die dae wat ons wel by haar spandeer het, het was die huis meer as gereeld gevul met mense wat ‘n vinnige koffie kom drink het. Oom Samp het mens lankal gehoor voor jy hom gesien of geruik het...”my kwit....” dit was seker ‘n ander woord gewees, wat ek maar ter wille van Ouma wat blinkoog na my geloer het, geignoreer het. Oom Gert vir wie ons gereeld ‘n skelm stopsel Rum en Maple gebring het, het meer as gereeld ‘n dankbare beker koffie opgeslurp tussen sy skrapse woorde.

Koffie brand

Koffie het deur die loop van die jare vir my ‘n belangrike lewensmetafoor geword. Ouma Nellie se koffie het wel ‘n deeglike inbrand gehad in my verstaan wat koffie eintlik is. So kort na ons troue en ook nie te lank na Oupa Kitty se dood nie, bring ons vir Ouma Nellie ‘n groot pak lekker Mocha Java en Blue Mountain koffie. Klaar gebrand en gemaal. Sy het een slag daarvan gemaak, seker om ons tevrede te hou, maar baie gou haar ontevredenheid met die flouerige soort grand koffie wat ons daar aanbring, gewys. Ek glo nie daardie koffie was ooit weer in haar brousels gebruik nie. Op ‘n stadium het ek gereeld ‘n klompie groen koffiebone as geskenk gekry.Op ‘n stadium het ek besef dat Ouma Nellie se koffie-tradisie moet iewers in die familie aangevat word. Ek het gebel-waarsku en na haar in Albertinia gery, met ‘n kilo of twee groen koffiebone en sy moes my leer koffie brand. Daar was nie veel rituele-fanfare nie. Ek moes in die stoor met die gasstoof en swartpot gaan sit en en begin roer. Gereeld het ek gevra,”Nou wanneer is dit reg?” of “Wat moet ek nou doen?”, maar sy het net gesê ek moet aanhou roer, ek sal sien en weet as dit reg is. “Moet ons nie iets bygooi nie?” het op ‘n stadium benoud gevra. “Jy kan as jy wil so bietjie suiker hier op die laaste bygooi, as jy die bitter wil breek” het sy laat val en so ‘n Ouma-mate suiker oor die goue brandende bone gestrooi, “nou moet jy roer!” het sy ferm gesê. En so het ek begin leer hoe die koffie-brand geboorte gegee het aan ‘n liefdesdaad wat meer is as net ‘n beker vol stomende koffie.

Gasvryheid

Gastvrijheidt, soos die Hollanders dit praat, beteken vir hulle: die vryheid van die gas. Bedoelende dat jy as gasheer of gasvrou vir jou gas die vryheid skep waarbinne jy jouself kan wees. Daar in haar huisie, eenvoudig en netjies, het elke gas hulle plek geken (want daar was waardes en standaarde), maar elkeen het ook die vryheid gehad om hulself te kon wees. Sy het elkeen wat daar was, of dit vir koffie was, of dit sommer net ‘n kuier was, ‘n ruimte gegee waarin jy as mens gewaardeer en menswaardig gevoel het.

‘n Nederige sterk vrou

Daarby was sy ‘n nederige sterk vrou wat onder die ysterhand van Oupa Kitty ‘n mens in haar eie reg was. Haar geloof was ‘n onuitgesproke dienende soort geloof waarvan die ankers nou latere jare in die Ouetehuis met haar Bybelstudie-groep ‘n vaste punt was.

Moet net nooit ophou nie (hierdie is aangehaal uit 'n vorige blog-inskrywing van Aug 2011)

Ek het die storie al ‘n paar keer die afgelope paar jaar vertel. 'n Klompie jare gelede kuier ons by Elise se ouma Nellie wat op daardie stadium seker so 84 jaar oud was. Nadat een van ons kinders iets op Ouma se kombuisvloer mors (darem nie na 'n vloermoer nie), buk sy af met die flinkheid van 'n 20 jarige, maak die gemors skoon en kom net so egalig en spoedig op. Geen gekreun, steun en verskillende fases van vervattery nie, niks rooi in die gesig asof sy nou iets groots en moeilik gedoen het nie.
Ek spot nie oor hierdie tipe gedragsverskynsel (eerder gedragsbeperking) van mense wat stoei met die gebuk-gedoente nie. Ek het regtig heilige respek vir die ouderdom en die effek van gravitasie op ouer liggame (alles word mos nader grond toe getrek met die styg van die jare, krommer, kleiner en plooie is ook mos velle wat grond toe neig).

Haar kleindogter, dis nou myse beterhelfte, Elise, staan toe op daardie kontradiksie oomblik oopmond en verwonder haar aan haar Ouma se skatkis-buk-talent en vra: "Hoe kry Ouma dit reg?" Ouma Nellie se mond het soos altyd so 'n speelse trek gekry en haar oe vol wakker stout-lig toe sy antwoord: "Jy moet net nooit ophou nie!". Agterna het ons al verskeie kere in oues en jongeres se teenwoordigheid hierdie "kombuis-wysheid" van ouma Nellie van Albertinia aangehaal (ek het wel so spesmaas dat die toepassing van die wysgeit het ook te doen met daardie streek se gebrou en gebruik van karriebier, maar dit kan nie bevestig word deur navorsing nie).

Die ding van hierdie wyse boere-tannie-raad is dat dit tot in die dieptes van die lewe inkruip en met jou flankeer as 'n soort beproefde lewensbeginsel. Die toepassing daarvan het ons al baie laat dink. Vat nou maar die verhouding tussen 'n man en vrou. As hulle vir mekaar lief is en vir mekaar lief wil bly........moet net nooit ophou nie. Dis soos buk. As jy fiks, slank en soepel wil bly, moet net nooit ophou oefen en strek nie. Dis soos buk. As jy baie graag slim wil wees, moet net nooit ophou leer nie. Dis soos buk.
As jy weerloos is, seer is en ‘n groot gemis (soos vandag) ervaar, dan hou jy net aan om te glo....dis soos buk.... moet net nooit ophou nie.

As jy ophou, raak alles styf en word dit 'n gekreun en steun en vervattery

Ek was bevoorreg om haar begrafnis te hanteer, maar dit was 'n moeilike deel van 'n seisoen wat verby is. Ek het veral toe ek die koffie daar in die kerk aan die gang gesit het (ek het ter ere van haar 'n pot koffie op haar manier gebrou deur die loop van die erediens), erg geveg en gebyt teen die trane. ‘n Paar maal voor die tyd het ek wel konsistorie-toe gegaan en my neus deeglik gesnuit en diep asemgehaal en gebid vir krag. Op ‘n vreemde manier was my nerwe goed dun en het alles vlak gewag om uit te kom, want sy was uiteindelik ook my Ouma Nellie. Dit was vir my spesiaal dat niemand, veral Oom Jim van Zyl wat die bedankings gedoen het, na my verwys het as ‘n aangetroude kleinseun, maar wel as haar kleinseun.  Haar 92 jare het my  en ons almal kom raak op ‘n baie spesiale manier.


Die seisoene loop.........

Thursday, March 22, 2012

Beloning en mengeldrankies

Die afgelope tyd is die woord "belonging" baie gebruik in geselskappe waar ek was. Ekself het in 'n sekere mate die Ingelse woord ge-"imposeer" (vatso) omdat dit beter klingeling op die oor as die Afrikaanse eweknie "behoort aan". Om te behoort of te belong is 'n vel en been bestaans-eksistensie van mens, plant en dier. Veral ook omdat ons menslike spesie die meer redelike tipe van die skepsels is en tog doelbewuste keuses daaroor kan maak om aan andere om ons 'n ervaring van belonging te kan skep (selfs teen die dierlike instink in van "ek in my klein hoekie en jy in joune......en bly daarmee sover weg van my sodat ek nie skuldig voel as ek jou nie laat voel dat jy hier in my ruimte hoort nie.... of die lui-instink dat dit eenvoudig te veel moeite is, want dit vra baie tyd en opoffering van my). Meng hierdie oorlewingsinstink met ons vraatsug na ons eie behoefte-bevredigende-super-geestlikheid en jy het 'n dinamiese lewens -en verslawende drankie wat jou op 'n high laat inskop vir 'n onewige oomblik (totdat jy die volgende enetjie ......met eishh ja...... gevat het).  Dit klink dalk erg om dit so flagrant uit te "vloek", maar die ruimtes van beloning het soms 'n oppervlakkige westerse verbruikers ekskluwistiese eletistiese christelikheid geword, waarin dit uiteindelik net oor my eie koninkryk gaan. Die "natuurlike" grense van ouderdom, geslag, ras en kleur van jou vel, taalvoorkeure, seksuele voorkeure, inkomste groepe, woonbuurte, motors, kerkgroep, werkgewer/werknemer, die span waarin jy speel, intellegensie, voorkoms, ens maak dit erg moeilik om uit die staanspoor die "ander" (hulle) in jou ruimtes tuis te laat voel.

Ons probeer in die kerk, nee eerder gemeentelike opset, hierdie plekke van belonging bied. Dit is egter in baie gevalle hoogs gekontamineerde havens waarin die mengeldrankies jolig geklink word en goeie mense dronk rondval van hierdie ingegroeide synsruimte. Die anderkant is ook waar (dankie tog).

Daar is mense wat die vermoe het om opreg en met die regte redes mense in te nooi in hulle ruimtes in en terselfdertyd nooit die grensedrade span sodat die wat binne is 'n saamgekoekte spulletjie word nie en die wat nog soek na 'n plek om te hoort en aanvaar te word altyd welkom en ingesluit kan voel.

Die Nood vir plekke van belonging is groot, van fopspeen-dae tot en met bewerige hand op die kierie-dae. Ons wil almal iewers hoort. Ek besef ook dat hierdie inherente oorlewingsdrang is veel meer kompleks en dieper as wat ek in hierdie paar woorde vas kan vat. Maar die samehorigheidsmengeldrankies wat ons opdis aan die wat soos ek is, is vir my 'n goeie voorbeeld van ons eie selfsug en daarom 'n uiters verslawende en gevaarlike een. Die natuurlike grense en hekke na die plekke van belonging is net te sterk, te klein en goed geketting, vir die meeste van ons.

Die soberheid wat onvoorwaardelike liefde, woorde en optredes van menswaardigheid en aanvaarding bied, is 'n brose (sorry, ek weet ons gebruik die woord deesdae te veel) ingesteldheid, maar ook die suurstof wat ons nodig het om goed te leef.

Thursday, January 5, 2012

Krismis onder Wildeperskes en Uile in die nuwe jaar

Om die hitte van die dag uit te lê (op 'n bed wat gewind word deur 'n bergbries) en so gou moontlik 'n paar lekker dik spanningsboeke deur te werk....dit is mos hoe vakansies moet begin. Maar in die angstige volg van die spanningslyne van die stories het ek vinnig al die beskikbare bronne in die Swartberge deurgelees en deurgeleef. Tussendeur, veral teen 16:30 se kant van die son, was die lekkerte om te gaan "houtmaak". Die soek van gevalle Soetdorings (akasia karroo) gemeng met die cocktail van wakkerwees vir die gulsige ogies of tonge van Kaapse Kobras of een of ander luie Addergeslag het elke laatmiddag opgetower voor daar 'n vuur aangesteek kon word vir 'n lekker braai-kuier en inwag van nog 'n goeie Klein-Karoo betowerende aand. Tussen alles deur was die splash in die watergate, bergpoele, en geduldige bergstroom 'n lafenis wat enige Desember-vakansie 'n koele nagedagtenis maak. Dis hoe ons voorberei was vir die Krismis van 2011. Nog tussen-deur, voor die son sy vurige aanspraak kon maak op die dag, het ons gereeld gou 'n paar bulte of platste 200 m gelyktes voluit aangedurf, as oefenprogram vir die rustyd om te sorg dat enige aanspraak van 'n kilojoule of blaas-asem-lewenstyl die nek in geslaan kon word.

Behalwe vir die duisende Steekvlieë wat die tydelike met die ewige gewissel het in hulle pogings om ons dun witvelle aan te val en ook die hordes Reënspinnekoppe (net die wat ons erg bedreig het, is nie meer met ons nie), was daar Nehan se soektog na Bobbejaanspinnekoppe. Die ontdekking dat die ronde halwe-hand grootte gate in die grond nie slanggate is nie, maar pragtige neste van die geagte Bobbejaanspinnekoppe, het groot opwinding veroorsaak. Die steekvlieë het ons goed uitgedaag en het geen respek vir klere gehad nie. Ek is seker dat selfs 'n jeanbroek of baadjie nie bestand is teen hulle bloedige ywer en angstige aanvalle nie.

Uiteindelik (vir die kinders wat al na 'n week genoeg van die afgesonderde berge-bestaan gehad het) het Krismis onder die Wilde Perske aangebreek. Die geboorte van Jesus Christus is "gewoon" gelees en ontvang as 'n geskenk saam met al die eenvoud bedoelde presente aan mekaar as geliefdes. Die Wilde Perske en Bloubos het geskitter in die Klein Karoo maanstrale van al die tuis-en-berg-bedryfde versierings en was lewensgetroue rigtingwysers na God se teenwoordigheid.




Na goeie rus-tyd saam met mekaar, is ons gesin terug in George om voor te berei  vir die voluit van 2012. Na so paar dae terug in die tuig, het drie Kaapse Gevlekte Oor Uile met 'n skemer vermaaklikhei met ons in die nuwe jaar begin flankeer. Die vermoede is dat hulle iewers veilig in die forse en hoe takke in een van die omliggende Akkerbome gebroei het en nog die soogtyd hier neffens ons wil spandeer.  Ek kon op een van die flankerings tot ongeveer 3m van een uil kruip (hy/sy het op die grond gesit) om ampers makro-foto's te neem. Hulle koeel ronde goudgeel oë moedig my met elke oogkontak aan om wakker akker te wees in hierdie jaar. Afhangende van jou gemoedstoestand kan die uitdrukking in hulle oë so effense veroordelende blik uitstraal en jou laat skuldig voel oor iets wat jy gedoen het of nog gaan doen. Verder kan dit ook voel of hulle ietwat meerderwaardig na jou gluur omdat jy nie hier hoort nie, hulle was eerste hier (daaroor kan ons nog lank met hulle praat en 'n wyse teologiese interaksie telepateer (ek dink dis 'n nuwe woord....)). Ek dink tog dat hulle na die onlangse Eko-beraad in Durban so paar dinge vir ons hier in die Suid-Kaap wil oordra. 


Die nuwe jaar het deeglik teen ons velle kom sit, maar die Krismis onder die Wildeperskes is darem nog vars onder ons velle. Ek weet dit, want kort-kort klap ek 'n denkbeeldige steekvlieg as ek 'n geringe geritsel iewers op my lyf voel.