Monday, April 20, 2020

Hond se gedagtes


DAG 25


Blykbaar is ek baie kwaai met my honde. Nee, laat ek net kwalifiseer, nie een van die drie honde is myne nie. Ek is baie lief vir honde en ek dink die honde weet dit. Dit (my voorkeur-liefde vir hulle bo ander troeteldiere) en my hare en gemoed wat soms woes staan, maak seker een of ander indruk op hulle.

In my kinderdae het ek die Trompie boek-reeks verslind en toe dit omgesit is in ‘n TV-reeks, het ek dit nie gemis nie. Een toneel wat ek altyd sal onthou was ‘n honde-storie. Trompie het gaande geraak op hulle Tuinman se hond (of so iets) en toe besluit hulle die hond moet self kies tussen hulle twee. Hulle gaan staan toe so klompie tree wegweerskant van die hond en roep en fluit gelyktydig vir die arme brak. Die hond kies toe die “regte” persoon. In my eie gedagte-gang, weet ek dat al is nie een van die honde op die werf myne nie, luister hulle in die eerste plek vir my. Om die waarheid te sê dink ek hulle is die enigste asemhalende skepsels op die werf wat tot ‘n redelike mate effektief reageer op my stem, arms swaai en versoeke.


Wanneer ons op die stoep eet mag die honde nie op die stoep saamkuier nie. Dan het hulle geleer om so paar meter weg, af van die klippie-area te gaan lê-wag tot ons klaar is. Hulle luister nogals. Die een Labrador, Mila, is seker die gehoorsaamste hond wat bestaan. Sy doen dit sommer vanself. Tigger, wel getroue ou Tigger, hy is oud en stokdoof. Hy reageer net op gebare taal en op sy eie spoed soos sy lyf hom toelaat. Hy stap dan maar geduldig (nie heeltemal tevrede nie) af van die stoep en klippies. Die jonge dame Gretjie, sy is slim, probeer domineer, energiek en ‘n uitstekende kansvatter, maar luister darem ook. Wanneer hulle dan so ent weg van ons lê, loer hulle na ons met groot aandag. Daar is sulke storie-vertel kyke, partykeer bietjie leepoogagtig en ander keer wakker en spelerig grootoog (dit hang ook af hoe warm dit is op die spesifieke dag). Dis so asof hulle ons gedagtes wil lees en ons gesprekke volg. Hulle lê-wag regtig met oorgehaalde aandag. Dan gebeur daar klokslag 'n interessante ding. As ek opstaan om iets te gaan haal of te gaan doen en dan terugkom, dan is die vier blafskepsels stertswaaiend op die stoep. Gelukkig hoef ek nie eers te praat nie, ek gebare taal net om hulle weer op hulle plekke te laat lê-wag, terug in hulle eie gedagtes in.
Dan besef ek net weer dat wanneer hulle so lê en loer (en maak asof hulle meer intellegent is as wat ons dink), dan is hulle gedagtes en my gedagtes nie dieselfde nie. Die honde se gedagtes is op twee plekke, volgens my terugkyk-mense-wysheid. Hulle wag dat ek opstaan sodat hulle vinnig kan inbeweeg vir ‘n sarsie ekstra aandag by die ander mense op die stoep. Of hulle wag dat iemand dalk ingaan en die kombuis se deur oopmaak en hulle self ietsie te ete kan kry. So lê hulle en wag, die twee Labbies baie geduldig, maar Gretjie wag whine-whine. Maar wag wag hulle.

Hond se gedagtes kry – verstaan ons dalk met iets in die rigting van agterdogtig raak , wantrouerig wees oor iets of iemand. Maar ek wil (dalk geforseerd omdat dit "my" honde is.....net ‘n grappie) "my" honde se gedagtes anders lees in terme van die hulle commitment om te wag. Hulle vertrou, terwyl hulle daar wag-lê, terwyl ons eet of kuier op die stoep, dat daar iewers in die nabye toekoms iets nice vir hulle gaan wees. Hulle is ook ok om daar te lê en wag, want hulle sien, hoor en ruik (proe ook, want iewers kort gelede het hulle ‘n paar lekke aan menslywe uitgedeel) ons daar op die stoep. Hulle lê dalk so bietjie verder weg, maar hulle is steeds deel van die kuier en saamwees. Hulle sou graag by ons, onder ons voete wou lê, dalk die geselskap so bietjie oorvat en die onderwerpe van gesprekke word. Maar hulle wag eintlik heel geduldig, maar angstig dat die inperking so gou moontlik opgehef kan word.

Ons leer verseker as deel van God se pad met ons om ook te wag. Dalk kan ons so bietjie in-tap in ons honde se gedagtes.

Psalm 130 se bid-sanger wag so:
5Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.

Mag ons vandag met vertroue wag op die Here!

Saturday, April 18, 2020

Speler 23


Other Rugby - PLAYER 23 - SA RUGBY - GOLF SHIRT - SIZE: MEDIUM was ...DAG 23

Speler 23 is die ultimate erkenning van die ondersteuners se belangrike rol in rugby as ‘n sport. Een van die groot selfoon maatskappye het so paar jaar gelede ‘n hele reeks advertensies gemaak met die karakter Jan wat die nommer 23 Springbokrugby-trui in verskillende scenarios dra. Van toe af is Speler 23 ‘n soort kultus-idee as die nommer een ondersteuner van die sport.

Dit het ‘n positiewe swing gegee aan die toeskouer-mentaliteit (wat eintlik ook maar ondersteuners is), aan die neerdrukkende realiteit dat die beste “skeidsregters” altyd op die pawiljoen sit. Dit is die mense wat altyd “beter weet”, maar nie konstruktiewe bydraes maak om self positiewe oplossings te bied nie. Dit is met ander woorde die tipe ondersteuners wat op die kantlyn by sit en vrot naartjies gooi met hulle kritiek, oordeel en beterweterigheid (veral as hulle span begin verloor).

Speler 23 se ikoniese mentaliteit is die van ondersteuning wat aanhou om te ondersteun, wat opgewonde is oor die span, trots is op die span, lief is vir die span en weet dat die span is belangrik vir almal en vir die eenheid van almal.  

Paulus was definitief nie bekend met selfone en diensverskaffers se veldtogte om ondersteuning te kry nie. Hy praat nêrens van Speler 23 nie, maar wel van die Groot Speler wat ons lewensmentaliteit vry maak om met genade te leef. Hy het goed geweet wat gelowiges nodig gehad het om te hoor wanneer die moeilikheid van buite en van binne druk en die gevaar bestaan dat mense mekaar met naartjies gooi. In Romeine 12 praat hy met ons so:
9 Julle liefde moet opreg wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die
goeie. 10 Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Wees gretig om aan mekaar respek te betoon. 11 Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. 12 Verbly julle in die hoop; wees geduldig wanneer julle swaarkry; volhard in gebed. 13 Betoon meelewing met die behoeftes van die heiliges; lê julle toe op gasvryheid.
14 Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.
15 Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat
treur. 16 Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie.17 Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Geliefdes, moet julleself nie wreek nie,  maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf:
“Aan My kom die wraak toe;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20 Maar: “As jou vyand honger is,gee hom iets om te eet;
as hy dors is,gee hom iets om te drink.
Deur dit te doen, stapel jy vurigew kole op sy hoof.”
21 Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met
die goeie.
(‘n Direkte Vertaling)

Mag ek en julle vandag (23 April 2020) ‘n Speler 23 wees vir mekaar, vir die mense saam met ons onder die grendeldak en vir die ander mense met wie ons op een of ander manier kontak het en waarskynlik net soos ons voel.

Thursday, April 16, 2020

Die leeuloop

Lion Homepage
DAG 21

Daar is mos hierdie liedjie met ‘n wysie wat sy katnaels in die agterstewe van jou brein vasslaan, dan sit dit daar asof dit vir ewig is. Ek kan nie eers al die woorde onthou nie, maar iets van die wysie en so paar frases klad my gedagtes soms vas. Die woorde wat altyd vashak (soos sommige niks seggende liedjies wat oor en oor dieselde woorde herhaal tussen die boem-boem) is iets soos “......stap vir stap verduidelik....”.

Ek het in hierdie dae van inperking (ek dink ek moet anders dink hieroor, want die fisiese inperking maak ander geleethede oop, dwing dit eintlik oop na iets soos ontperkings toe), teen wil en dink besef daar is (onderandere) twee dinge wat ek nie baie goed kan doen nie. Ek kan dit doen, maar dit is nie goed nie.

Eerstens kan ek glad nie vir iemand verduidelik hoe om kos te maak nie. Dit is ‘n lang storie wat eintlik lagwekkend snaaks en harsteer is. In hierdie dae kry elkeen ‘n beurt met sekere huistake. Een daarvan is kosmaak. Een van my kinders (terwille van privaatheid en veiligheid word hulle name nie genoem nie), kon glad nie (LW kon) kos maak nie. So, hierdie dae is vir hierdie kind aardverskuiwende tye. Vir my en my vrou het dit op-die-kant-staan-geleenthede geword en te sien hoe dit nie net kosmaaktyd is nie, maar ook groeityd. Dan glimlag ons skelm vir mekaar totdat ek moet begin verduidelik hoe ‘n sekere maklike en voor die handliggende resep werk. Vat nou byvoorbeeld ‘n spagetti-bollenys of skaap-bredie in die stadige kookpot. Jy kry die nodige bestandele, kry die nodige potte en panne, doen die nodige voorbereidings soos tjop en sny (op ‘n sekere voor die handliggende manier) en gooi die bestandele in ‘n sekere volgorde in die vooraf warmgemaakde pot of pan. Redelik maklik en voor die handliggend. My verduideliking van die volgorde en wat ook al die voor die handliggende bestandele is, is skynbaar nie presies en duidelik genoeg nie. Dit is nie stap vir stap genoeg nie. Dit is dan wanneer die leeu in my begin wakker word, veral ook as hierdie kind so op die eenkant besig is met die blêrrie selfoon (verskoon tog die krasserige woord, of moet ek die verskoning ook stap vir stap verduidelik). Die frustrasie wat in my opkook, slaan oor my lyf uit soos iemand wat ‘n ‘n brandnekelbos inval. Dit slaan ook uit in my woorde, in die klank van my woorde en ek weet nie waar orals nog nie. Ongelukkig (word daar vir my gesê) kan almal my liggaam se woorde van ver buite kant die erf presies raaksien. Dit is nie nodig vir stap vir stap verduidelik nie.  

Step-by-Step setup. Video tutorial | Effective Tours Knowledge Base



Ek kan ook glad nie iemand leer om motor te bestuur nie. Dit is blykbaar nie ‘n mooi prentjie wat afspeel nie en ook nie aangenaam vir diegene saam in die voertuig nie. Daar was, met een poging van stap vir stap motorles, in die praktyk van bestuur, die hele leeuloop op video vasgelê. Dit is nie beskikbaar vir publieke besigtiging nie, want dit is traumaties om na te kyk.

 

So, binne die leeuloop wat ek het met sekere pedagogiese oomblikke, is die stap vir stap eerder ‘n resep vir misverstand en onbeholpe frustrasie waar die kat se naels op verkeerde plekke vashak.



Ek weet ek moet werk aan sekere vaardighede om beter te praat (met alles van my) en ek het commit om daaraan te werk. 
Juis in hierdie commit en oorgee om te werk hierdie soort leeuloop, of eerder om aan myself ook te laat werk, onthou ek die 10 goed wat die Here vir Moses gegee het om vir die wilde woestyn-Israeliete te gee om aan hulle stap vir stap te verduidelik hoe die lewe saam Hom werk. 

Ek onthou ook hoe Jesus dit in eenvoud opsom en ek onthou van die woorde in die gebed-lied van Psalm 119: 35
Begelei my op die pad van u bevele, want daarin vind ek vreugde.

En ook dan onthou ek ‘n ent verder in vers 105
U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.

Mag ons woorde (ook ons lyfwoorde) die stap vir stap lig van die pad sien en goed saamstap vandag!










Monday, April 13, 2020

Die rooivlaggies van beknopde spasies


The Red Flag Campaign The Red Flag Campaign-Overview

DAG 18


Ek kan my nie indink om in ‘n klein huisie met min of meer geen erf te bly in hierdie dae nie. Ook nie in ‘n woonstelblok waar jou woonstel die leefspasie is wat jy moet deel met ander nie. Ek het een jaar van my lewe ‘n woonstel gedeel met iemand. Ek het in die sitkamer gebly. Die woonstel was op die twee vloer. Hoewel dit in Stellenbosch en so te sê in die bekende en gewilde Laan was, het ek swaargekry. Ek en my woonstelmaat en vriend se vriendskap het so effe dip gevat, want die spasie het beknop geword.

Daarom voel ek nie so kwalifiseerd om te skryf oor spasies nie. Ook omdat ek nou al vir meer 20 jaar in ‘n massiewe huis op ‘n groot erf woon. Ek is bevoorreg tot die mag tien. Maar ek kom agter dat daar dejavu’s deur my tornado op tye wat ek dit nie verwag nie. Dit is die rooivlaggies van die saamwees (in die selfs fantasiese groot spasies) waarin alles spasies beknop word. Jy bedoel dit nie, maar jy flair soos ‘n vuurwerk op Guy fox. Maar in hierdie geval is dit nie mooi of aanskoulik nie. 

Slim mense sê dat mens hierdie irritasie-siklus kan breek deur ‘n paar praktiese dinge. Byvoorbeeld, bewaar die vrede deur iets positiefs te sê (of te doen). Negatiewe woorde en opmerkings (en gedagtes) is verdoemend vir verhoudings. Dit is ook nie 'n vuurwerk-gloeilamp-openbaring nie, maar die irriterende waarheid. Dit is nie net eenvoudig negatiewe opmerkings wat dinge skeef trek nie, maar eerder die ratio van negatiewe en positiewe opmerkings wat ‘n groot rol speel. Daar is gevind dat vir goeie verhoudings (wat lekker harmonie en balans bevat), daar vyf goeie opmerkings behoort te wees vir elke een negatiewe opmerking. Indien ‘n persoon glip (soos ek baie doen) en ‘n kritiek uitspreek of negatief kla oor iets, moet hy of sy dit onmiddellik en doelbewus opvolg met waarderende woorde. Dit breek die aanval en verdediging patroon en kan irratasie-siklus nie net afplat nie, maar opbreek.

Dit is goeie raad en gedagtes en gaan baie dissipline en baie onthou vra.
Dit klink eintlik ook na commensense.

Om een of ander rede, terwyl ek hier in die stilte van die oggend sit en griffel, kom daar weer ‘n lied in my kop op. Dis weer ‘n ou lied wat ouens gesing toe hulle op die pad was na ‘n fees in ‘n stad (ek weet dit voel vir ons nou vreemd en onregverdig, maar kom ons kom nou oor daardie gevoel). Die lied begin so: 

Ek kyk op na die berge:
Waar sal daar vir my hulp vandaan kom?
My hulp kom van die Here,
Wat hemel en aarde gemaak het......
Psalm 121

En julle weet hoe dit verder gaan....

Vandag wil ek in my (bevoorregte) spasie, voordat die rooivlaggies opskiet, ook weer inval by hierdie lied. Dit werk vir my beter om dit sing en nie net te lees nie. As ek dit lees, klink dit platter en verder. Maar as ek dit sing, word dit lewendig en voel dit naby, meer waar en sien ek kans om vyf keer meer mooi goed te sê en doen.

Saturday, April 11, 2020

Toe deure en oop deure


Red Door Open Images, Stock Photos & Vectors | ShutterstockDAG 16


Dit is nou die tweede dag na die nuus van ons President oor die besluit, waarskynlik wyse en groot prentjie besluit om nog twee weke te voeg by die huidige 21 grendelstaat-dae. In ons huishouding was die nuus ontvang met ‘n onbewuste kopskud: “Ok!”. Dit het op ‘n manier logies geklink en was die tweede respons gedagte en emosie na die “Ok” ook nog heel ok.

Maar toe slaan die deur toe op allerhande plekke. Vir my kinders, wel vir hulle was die deure groter en meer. Hulle sal maar self kan sê. Ek het wel net gehoor van branders, berg, Kaap. En daai deure maak vir hulle wye vrye vlaktes oop. 

Dit beteken ook nog meer toe deure in die huis se gang. Hulle het mos die semi tot heeltemal volwasse status aangeneem en soek meer privaatheid. Ek verstaan dit ook so. Ekself is ook nog in die semi tot heeltemal volwasse stadium. Hulle is relatiewe aktiewe mense en het hulle regtig baie goed gedoen om dinge in hulle grendel-roetine in te bring wat die opgehoopde energie kan losmaak en verbrand.

Die grootste deure wat toegeslaan is egter in die kop. Net die idee dat dit nog 14 dae ekstra is, is klaar soos ‘n 14 cm dikte staaldeur wat toeslaan en dat die suurstof binne die kamer beperk is en net beskikbaar is vir nog ‘n dag of twee (en nie noodwendig vir ander mense in die kamer nie). Binne hierdie konteks kom ons kort-asemgeit nie noodwendig van die virus nie, maar van die toe-deur in ons koppe.

Om die deur oop te maak, hang seker van jouself af. Van jou persoonlikheid, jou lewensingesteldheid, jou emosionele welstand, jou fisiese toestand, jou wynrakke se bottel-afwesigheid, jou eensaamheid en nog baie ander dinge. Maar ek dink daar is wel twee groter prentjies wat nie net die deur so 'n suurstof-skrefie kan oopmaak nie, maar ook soos oop vensters die lig en lug kan inlaat.

Die een prentjie, bietjie kleiner as die ander, is dat hierdie ekstra twee weke beter is vir ons, vir my en vir jou en vir die ou oorkant die straat, oorkant die spoor, oorkant in die shack en dit is beter vir ons hele land. Ek dink ook dis beter vir die natuur. Ek is doodseker ek het gister en vanoggend ‘n paar ander voëls bygehoor (ongelukkig is die flippen Hadeda’s oor weer skielik hier).

Die ander prentjie is beter as suurstof en ek sit vanoggend weer (soos die eerste dag van die grendelstaat) en word weer stil en haal asem, diep en rustig ........

“Wees stil en weet Ek is God!
“Wees stil en weet Ek is God!
“Wees stil en weet Ek is God!

Dis soveel beter as ‘n suurstof-masker of ‘n respirator. Dit maak die deur in jou kop oop sodat jy die toe deure en hekke van die huis en erf nie meer sien nie.

Thursday, April 9, 2020

Die Noordweste wind en spasies


Blowing in the Wind | What is wind, Blowin' in the wind, Geography ...
DAG 14

Laat ek gou verduidelik. Dit het als begin met die wind wat hier van die berg se kant begin waai op dag 13 en 14 van die grendelstaat. Dit is nie die eerste keer dat die wind waai nie. Ek onthou baie winderige dae. 

Grootword-tyd in Augustus op die plaas as dit koud en yl ‘n huil-lied om die hoeke van die huis sing. Die koggelwind deur die naalde van Swartkop (was toe nog my oupa se woonplaas) wat jou onder ‘n klip wil vasdruk. 

Hier is baie bome op die erf waarop ons nou bly. So jy hoor die wind soos die basklanke van ‘n subwoofer aangegolf kom deur die klowe en hoe dit met kragtige tree spring van boom na boom. Dit is eintlik mooi. Maar onthou ons is nou al 14 dae ingeperk in beperkte spasies. Ons erf met die baie bome is groot en ons huis ook lekker ruim. So die wind het baie instrumente om haar warm golwe te laat hoor en voel: Windhangertjies wat teen die glasdeur skuur, skuifdeure wat kraak, blare wat heeltyd oral skuifkruip dwarsdeur enige opening en die ergste van alles is die deure wat handeklap en encore roep vir die meesterlik uitvoering. Ek vang nie die ritme nie, dit voel nie opgewek en motiverend nie. Dit voel of al die groot leefruimtes (buite en binne) kleiner word met elke noordwest-wind-gemotiveerde ritmiese ritsel, skuur, rattle of klap.

Vanoggend, so met my Mzansi Marathon draf-shaffle al om en om die erf se nate, besef ek dat grote van die erf en die huis nog steeds dieselfde is. Dit is die spasie in my kop wat krimpend geskuif het. Ek sal plan moet maak met hierdie spasie. Dalk moet ek een van die bome klim of so bietjie op die dak gaan sit (al sing ou Jonathan dat dit nie meer lekker is op die huis se dak nie). Of dalk moet ek nog ‘n ekstra masker maak en later ‘n koshamper afgee by die Munisipaliteit se noodhulp drive-thru-diens. Dalk moet al die windgewaaide spasies met die besem ‘n goeie skoonvee gee.

Wednesday, April 8, 2020

(superHero)Maskers (3) en egtheid


Produksie tools
DAG 13



Die afgelope paar dae moes ek die opname en produksie van die Goeie Vrydag diens behartig. Ek is aan die woord Vrydag, die een wat nou die praatwerk voor die kamera moet doen vir die uitsending op Youtube (‘n afgetrede vriend van my praat van die U-buis). Hierdie hele opname gebeur hier in my studeerkamer. Dit was ‘n storie en het baie aanpassing gevra (ek vat deesdae Darwin se woord ernstig op: Dit is nie die sterkstes wat noodwendig oorleef nie, maar die wat die beste aanpas!”. Ek moes aanpas want my devices is nie van die nuutstes op die mark nie en dan moet daar allerhande ander omstandighede reg wees. Maar dit was ‘n interessante en senutergende ervaring. Ek was nog meer opgestres as voor en met normale eredienste, wanneer die boodskap moet probeer bring. Eers begin dit reën toe dit die dag van opname moet wees, ek weet ek mag en sal nie daaroor kla nie, maar die lig is toe nie reg vir my toestelle nie. Toe begin my liewe buurman kap met hamer asof hy vir die Olimpiese spele moet kwalifiseer.


Maar ek het lekker gelag vir myself, ek kon darem so op my eie lekker pret hê. Waarvoor ek eintlik ook in skaamte gelag het, was om myselwers op te neem en dan vir myself te kyk en luister. Wat ek sien, was nie noodwendig lekker nie, ek het maar gegrom-lag. Want sien, ek het hierdie maniertjies, manerismes as ek dit reg het, en hierdie stemmetjie (dit klink seker vir ander mense normaal). As ek vir myself moet opkom, weet ek dat ek regtig ernstig is en dat die Woord mens kan gryp op ‘n manier wat jou springs in jou bene gee. Maar dit is my preek-maniertjies en preek-stem wat my weer aan die masker laat dink.


Preek-pakkie
(ek het darem 'n baadjie ook aangehad)
Soms voel ek en dink ek dat ons preek-mense wat op daai verhoog klim en praat, praat met soveel "gesag" en "mag" en al daai dinge. ‘n Mens kom in-karakter in, daar op daai verhogie, jy klink anders as wat jy by die huis is of langs die braaivleis-vuur is. Meesal lyk ons ook anders, jy is meer gepolish (ons moet mos darem nie afsteek nie en ook nie jou huismense se name modderpoele toe vat nie), jy is meer opgestel vir die “groot” praat en “groot” wees geleentheid. Dit het my ook baie aan ou Spiderman en sy super-maatjies laat dink. Hulle is net super as hulle in-karakter in daai blokkiesmaagpakkies van hulle rondspring. Hulle probeer ook baie hard dat mense nie uitvind wie hulle is nie.

Ek dink maar net en sê dit ook nou maar net, dat ek en my praat-maatjies loop dieselfde gevaar dat. Nou moet ek miskien ensovoorts sê.

Ek dink dat ek so paar dinge van hierdie hele masker-stories en opneem van die boodskap geleer het. Waarskynlik weer geleer het.

        Een: ek moet regtig nou leer om myself nie so ernstig op te neem nie (daar is nogals ‘n sielkunde boek wat daarmee wil help en ek gaat dit beloer). Dit was nogal lekker om na die opname en stres (hoekom was ek so gestres?) lekker vir myself verder te lag.

        Twee: ek moet net sorg dat ek so eg en eerlik as moontlik leef. Ek word liefgehê deur God (in die eerste en laaste plek) en daarom kan ek net ek wees, sonder die basbrand in my om tog opduime en nie afduime van ander mense te kry nie.

         Drie: Ek moet my eie lyf vat, my eie bene en arm en spiere en nie-spiere en vetjies en rolle, my eie velle en my eie gesig en hare en brein en stem en al daai hele alles van myself. Dit is nie waarin my waarde lê nie en ek kan myself meer aanvaar en liefhê, net soos ek is. Ek kan dit dan ook gebruik as ‘n wegspringblok om ander te aanvaar en lief te hê soos hulle is. Dis nogals bevrydend.

Maskers (2)


Max Siedentopf apologises for coronavirus masks made of everyday items
DAG 12


Met ons grootword jare leer ons om maskers te maak wat by ons pas. Kinderjare het ons in die sangklas gesing van ‘n jas wat netjies pas. Die maskers het te doen met die stryd tussen ons ware selwers en die self wat wêreld wil hê ons moet wees (of dalk veel eerder die self wat ons dink wêreld wil hê ons moet wees). Dit is nie noodwendig die “bose” wêreld se sogenaamde verwagtings nie, maar sommer die liefie-mense om jou, die naby-mense van kinderdae af tot nou die wat nou saam jou onder die grendelstaat-dak oorleef. Op grond van positiewe of negatiewe terugvoer vorm ons hierdie “veilige” maskers. Hoeveel duime-op of duime-af het ons posts vandag gekry, maak nie saak watter platform jy gebruik of op watter verhoog jy staan nie. Ons word ook afhanklik daarvan en dit word ons soos ons suurstof, maar dit is besoedelde suurstof. Dit is eerder besmette druppeltjies en ek moet maskers dra om te oorleef. Ons hoef nie die maskers by apteke te koop nie, ons maak dit sommer by die huis en soos ek dag vir dag met mense leef, enige plek. Jy hoef nie ‘n naaimasjien te hê en die regte materiaal aan te koop nie. Die enigste prys van die maskers is die koste, nie die papier soort of metaalagtiges nie. Die prys is jou ware self.

Maar soos ek gesê het, ons word masker-junkies.

Hierdie woorde voel skielik swaar, soos groot druppels wat te ongemaklik om my hang, op die punt om die swaartekrag-ding te doen. Ek soek nou skoon water en ontsmettingsmiddel om my gesig te was, my masker-maak-hande twee keer te reinig.

Sommige sielkundiges sal sê dat dit nie so erg is nie en nie so besmetlik hoef te voel nie. Ons het hierdie maskers eintlik nodig. Wel, ook ‘n gesprek vir annerdag.



Daar is wel maskers wat ons nodig het. Hier in ons geweste is ‘n paar inisiatiewe waarvan een #masks4all is. Met die Covid-19 bedreiging wil dit lyk of ons gewoond sal moet raak om, wanneer ons in publieke areas beweeg, maskers te dra. Ek sukkel-sukkel daarmee, want dit voel benoud (nie net die publieke areas nie, veral die maskers), maar sal gewoond raak daaraan. Daar is ‘n groot tekort aan maskers en daag ons mense uit om, indien jy ‘n naaimasjien het, vir jou huismense daarvan te maak en sommer nog 5 ekstra (of meer, ons is moes goed om maskers te maak). Skenk dit vir ander mense, vind plaaslik uit waar jy dit kan afgee (dalk by dokters, apteke, Brandweer of SAPD). Kyk op die Internet vir (soos my skoonpa sal sê: resepte) patrone vir maklike en redelik veilige maskers.


Tuesday, April 7, 2020

Maskers (1)


Black Face Masks 10ct | Party City


DAG 11

Kan maskers jou beskerm of nie?

Dis ‘n baie relevante vraag en daar is verskillende kampe. Diegene wat reken dit kan help en ander wat reken nee, dit vererger alles. Indien jy wel ‘n maker dra, moet dit skoon wees en afhangend van die omstandighede moet jy ‘n beter masker dra as die normale een.

Ek het vir myself ‘n drie-laag een gemaak wat ek sal dra, maar daar lê nog so paar wat ek gemaak het en ek iewers sal gebruik as niemand dit gebruik nie. Dit is my spaar-maskers.

Daar is verskillende soorte maskers.

Ons dra maskers om onsself te beskerm, sal die sielkundiges sê. Dit kan ook emosionele maskers genoem word. Maskers waaragter ons wegkruip omdat ons bang is, met vrese lewe. Ons beskerm ons teen iets, omstandighede soms verhoudings met ‘n persoon of persone. Ons dra ook saam met die maskers sekere kostuums wat daarby pas en voel vir ‘n oomblik dan in beheer en sonder vrees. Ons is nie in my omgewing groot op Halloween nie, maar blybaar kom dit van ‘n antieke Keltiese vakansiedag af en mense geglo het dat indien hulle maskers dra, hulle beskerm sal wees bose geeste wat op aarde ronddwaal tydens All Hallows’s Eve. Akteurs het in die antieke Griekse teaters ook maskers gedra om hulle “ware self”, gedagtes en emosies soort van weg te steek en die gehoor net die maskers in-karakter sien en waardeer. Ons dra nog steeds maskers, sommige meer subtiel. Sommer ‘n (son)bril of grimering of ‘n hoed.
Tog wil dit lyk of dit beter is om die maskers te laat val. Susan Sparks in ‘n artikel The Masks that we wear in Psychology Today (Okt 2015) sê daar is veral drie redes om dit te doen:

           1)   Om binne en vanuit jou potensiaal te leef. Om die potensiaal te laat uitkom, want masker perk jou in.
           2)   Om verligting te ervaar. Dit is erg uitputtend om nie eg te leef nie en koes-koes bemasker rond te leef.
           3)   Om gesond te word. Maskers kerf aan ons waardigheid en help ons om te glo dat ons nie goed genoeg is soos ons is nie.

Ek wil vierde punt bysit. Om goeie eerlike verhoudings te kan hê.

Vandag wil ek dan sommer vra: Watter masker moet ek of jy laat val?

.........Maskers (2) volg binnekort in Dag 12

Sunday, April 5, 2020

Bevoorreg


DNR Responds to First Wildfires of 2019 - Lake Chelan News and ...
DAG 10
Ons sit langs en om ‘n vuurtjie in die Swartberge. Die nag vou haar sterre-kombers oor ons. Die soel bergbries kalmeer en masseer die eise van die dag se woel. Die water in die bergstroom bring jou binnestrome saam by ‘n rustige bergpoel. Ons eet die kos, maar ons eet en drink veel meer as kos. ‘n Heilige liturgie gebeur vanself. En dan kom dit, my vrou se kort cantata. 

     Sy begin so: 
          “Julle! Ons is.......”. 

     Almal wat saam is weet, hoe om in te val (soos ‘n respons-lied):  
          “........bevoorreg!” 

Dis so half “Ja-ja ons weet!”, maar almal weet die waarheid lê wyd oor die berge, hoër as die sterre, sagter as die bergbries en varser as al die strome en poele.

Vanoggend weet ek steeds ek en ons almal is bevoorreg. Dit is meer as ‘n nostalgiese onthou van ‘n geliefde plek. Waar ek sit of staan of lê of trap of vat, waar ek kyk en sien, luister en hoor, waar ek asemhaal –vinnig of stadig-, waar en wat ek proe en sluk, daar bly die voorreg van lewe ‘n waarheid-filter.

As ons vorentoe dink, mag ons ongeag die Covid 19-realiteite, wat soos ‘n modderpoel is waarin almal troebel voel, steeds kies vir die waarheid van ons Voorreg.

Mag ons wanneer ons vanaand voor ons oë toemaak, en môre-oggend weer voete uit die bed sit, begin met die respons: 
Julle, ons is..............!”

Saturday, April 4, 2020

Goeie Woord(e)


Ew” and other Words Added to the Scrabble Dictionary 2018 ...
DAG 9

Ek is nog altyd van die oortuiging dat woorde en taal gelaai is met krag om wêrelde te verander, of nuwe wêrelde te skep. Ok, dit is nie ‘n nuwe gedagte nie, maar dit lê nogals op die handvatsels van my gedagtes. Goeie woorde gee geboorte aan goeie dinge. Slegte woorde gee weer geboorte aan slegte dinge.

Woorde en taal help ook om identiteit te skep en ‘n bepaalde waarde aan iets te gee. Dit is egter ‘n langer storie vir ‘n ander dag.

Die konstante gebruik van goeie en mooi woorde skep ‘n omgewing waarin almal wat die omgewing deel, beter af is en op ‘n beter plek  behoort te wees. Hoe hulle voel, hoe hulle dink en hoe en wat hulle doen, word verander. Indien ek aan een van my huismense ‘n egte-opregte komplement gee en dit ook gereeld doen, gebeur daar wonderwêrelde met daardie huismens en ook met myself. Dis soos ‘n saadjie wat jy saai, dan versorg deur die ontkieming totdat dit ‘n plant is wat blom, jaar in en jaar uit nuwe blomme gee.

Die beste Woord wat ek al teëgekom het is die Een waarvan Johannes praat. 
Iets soos,

“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie. In Hom was lewe, en die lewe was die lig vir die mense....”

Mag ons vandag Woord woorde gebruik wat nuwe wonderwêrelde vir ons huismense skep waarin ons in die Lig lig kan saamleef.

Friday, April 3, 2020

Inspirasie en Inspireer


Don't settle for engagement — strive for inspiration
DAG 8

Rules are good, 
wisdom is better, 
and love is the best of all

Ek het so paar aanhalings wat ek so deur die loop van die jare raakgelees, raakgehoor het en iewers in my kantoor-grot opgeskryf het. Bogenoemde is een van hulle. Al hierdie aanhalings inspireer my, bring my tot stilstaan en dieperdink wonder-oomblikke, en aanpassings.

Op ‘n kritiese en tragiese oomblik, toe ek iets oor God en ‘n kind se dood moes dink en deel, toe hoor ek hierdie:

Ek die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.
Eksodus 34:6

Dit kalmeer nie net nie, maar maak my oop na buite toe sodat ek in woeste ongemaklike warm bergwinde mense in die oë kan kyk.

Op ‘n ander tyd weer lees iemand vir my Deutr 30: 19

I have set before you life and death. Therefore choose life.
The Message

Dit doen ‘n two-step met ‘n aanhaling wat ek nie kan onthou wanneer ek daarin ingeval het nie:
Every action is a choice of destination.






Maar dit is een van Jesus se uitnodigings in Matteus 11:28 wat my inspireer maar ook invat in die verantwoordelikheid om saam met ander ‘n beter ritme van leef te leef.

37 Prayers for Peace - STOP and PRAY for Comfort





Walk with me and work with me – watch how I do it.
Learn the unforced rhythms of grace.
The Message

Thursday, April 2, 2020

Hoop


DAG 7

In die begin van die grendelstaat het dit soortvan gebeur dat ons geweet en besluit het dat ons elke dag (of so gereeld as moontlik) moet oefening inkry. Ons omskep toe my sitkamer (vergadering en afspraakkamer) in ‘n oefenkamer. Kompleet met ‘n paar nodige oefen apparate. Ek en Elise skryf ook toe in vir die Mzansi Marathon (‘n uitdaging om in die 21 dae ‘n afstand van 42 km te hardloop/draf/stap). So op ‘n gereelde basis is iemand van die huishouding besig met oefen. Na my 3.5 km draf op die erf (baie dankbaar vir die ruimte) doen ek so paar ander oefeninkies en luister, net vir die gemoed en motivering (dit is immers Dag 7) na musiek. Ek kies toe Amanda Cook se City of Hope (Brave New World) https://youtu.be/KLtvB6D_lGs
(Woorde is hieronder.)

"City Of Hope"

Once we were a barren land
Dry from disappointment
But Heaven like a heavy rain
Revealed Your heart for us

Now we’re dusting off our instruments
In You we found our will to live
What was once a wilderness
Is teeming with new life

Cause You are mending the brokenhearted
You are making all things new
You’re rebuilding out of the ruins
A city of hope, with the ones You love

Adoption is our heritage
Chosen from the orphanage
The Father’s great inheritance
Bestowed upon us all

And we’re the ones You love




Na die lekker oefening-sessie, rooster ek gou ‘n vars batch koffiebone. Ons gebruik nogal hierdie kaffiëne drankie met groot gemak. Daarna het ek en ‘n vriend ‘n virtuele koffie-afspraak. Hy sit op sy plasie in Kleinbrak. Eintlik nie sit nie, want dit kan hy nie vir lank doen nie. My kinders het hom kleintyd “oom Mallie” genoem (sy naam is eintlik Murray), maar mens kan maklik verward raak met die “r” en “l”.


Sommer net alles, die som van alles, laat my verstaan en hoor. Ons is God s’n en ons is hier en daar en waar ook al. Ons verteenwoordig Hoop, ons het Hoop (as geskenk). Die Kruispad van Christus in Johannes 18 en 19 het ek ook vanoggend vroeg nog gelees. Dit is deel van die som. Deel van die hoor en verstaan. My mond was oop van die wonder en my hart het warm geword. Ek hoor ver klanke, ek sien ver prentjies, terug en vorentoe. Ek weet nou, ek is gedoop in Hoop.






Daarom steek ek vandag ‘n kers aan en laat dit sommer net brand. As iemand vra, dan sal ek vertel.