Saturday, April 11, 2020

Toe deure en oop deure


Red Door Open Images, Stock Photos & Vectors | ShutterstockDAG 16


Dit is nou die tweede dag na die nuus van ons President oor die besluit, waarskynlik wyse en groot prentjie besluit om nog twee weke te voeg by die huidige 21 grendelstaat-dae. In ons huishouding was die nuus ontvang met ‘n onbewuste kopskud: “Ok!”. Dit het op ‘n manier logies geklink en was die tweede respons gedagte en emosie na die “Ok” ook nog heel ok.

Maar toe slaan die deur toe op allerhande plekke. Vir my kinders, wel vir hulle was die deure groter en meer. Hulle sal maar self kan sê. Ek het wel net gehoor van branders, berg, Kaap. En daai deure maak vir hulle wye vrye vlaktes oop. 

Dit beteken ook nog meer toe deure in die huis se gang. Hulle het mos die semi tot heeltemal volwasse status aangeneem en soek meer privaatheid. Ek verstaan dit ook so. Ekself is ook nog in die semi tot heeltemal volwasse stadium. Hulle is relatiewe aktiewe mense en het hulle regtig baie goed gedoen om dinge in hulle grendel-roetine in te bring wat die opgehoopde energie kan losmaak en verbrand.

Die grootste deure wat toegeslaan is egter in die kop. Net die idee dat dit nog 14 dae ekstra is, is klaar soos ‘n 14 cm dikte staaldeur wat toeslaan en dat die suurstof binne die kamer beperk is en net beskikbaar is vir nog ‘n dag of twee (en nie noodwendig vir ander mense in die kamer nie). Binne hierdie konteks kom ons kort-asemgeit nie noodwendig van die virus nie, maar van die toe-deur in ons koppe.

Om die deur oop te maak, hang seker van jouself af. Van jou persoonlikheid, jou lewensingesteldheid, jou emosionele welstand, jou fisiese toestand, jou wynrakke se bottel-afwesigheid, jou eensaamheid en nog baie ander dinge. Maar ek dink daar is wel twee groter prentjies wat nie net die deur so 'n suurstof-skrefie kan oopmaak nie, maar ook soos oop vensters die lig en lug kan inlaat.

Die een prentjie, bietjie kleiner as die ander, is dat hierdie ekstra twee weke beter is vir ons, vir my en vir jou en vir die ou oorkant die straat, oorkant die spoor, oorkant in die shack en dit is beter vir ons hele land. Ek dink ook dis beter vir die natuur. Ek is doodseker ek het gister en vanoggend ‘n paar ander voëls bygehoor (ongelukkig is die flippen Hadeda’s oor weer skielik hier).

Die ander prentjie is beter as suurstof en ek sit vanoggend weer (soos die eerste dag van die grendelstaat) en word weer stil en haal asem, diep en rustig ........

“Wees stil en weet Ek is God!
“Wees stil en weet Ek is God!
“Wees stil en weet Ek is God!

Dis soveel beter as ‘n suurstof-masker of ‘n respirator. Dit maak die deur in jou kop oop sodat jy die toe deure en hekke van die huis en erf nie meer sien nie.

No comments:

Post a Comment