Saturday, April 18, 2020

Speler 23


Other Rugby - PLAYER 23 - SA RUGBY - GOLF SHIRT - SIZE: MEDIUM was ...DAG 23

Speler 23 is die ultimate erkenning van die ondersteuners se belangrike rol in rugby as ‘n sport. Een van die groot selfoon maatskappye het so paar jaar gelede ‘n hele reeks advertensies gemaak met die karakter Jan wat die nommer 23 Springbokrugby-trui in verskillende scenarios dra. Van toe af is Speler 23 ‘n soort kultus-idee as die nommer een ondersteuner van die sport.

Dit het ‘n positiewe swing gegee aan die toeskouer-mentaliteit (wat eintlik ook maar ondersteuners is), aan die neerdrukkende realiteit dat die beste “skeidsregters” altyd op die pawiljoen sit. Dit is die mense wat altyd “beter weet”, maar nie konstruktiewe bydraes maak om self positiewe oplossings te bied nie. Dit is met ander woorde die tipe ondersteuners wat op die kantlyn by sit en vrot naartjies gooi met hulle kritiek, oordeel en beterweterigheid (veral as hulle span begin verloor).

Speler 23 se ikoniese mentaliteit is die van ondersteuning wat aanhou om te ondersteun, wat opgewonde is oor die span, trots is op die span, lief is vir die span en weet dat die span is belangrik vir almal en vir die eenheid van almal.  

Paulus was definitief nie bekend met selfone en diensverskaffers se veldtogte om ondersteuning te kry nie. Hy praat nêrens van Speler 23 nie, maar wel van die Groot Speler wat ons lewensmentaliteit vry maak om met genade te leef. Hy het goed geweet wat gelowiges nodig gehad het om te hoor wanneer die moeilikheid van buite en van binne druk en die gevaar bestaan dat mense mekaar met naartjies gooi. In Romeine 12 praat hy met ons so:
9 Julle liefde moet opreg wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die
goeie. 10 Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Wees gretig om aan mekaar respek te betoon. 11 Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien. 12 Verbly julle in die hoop; wees geduldig wanneer julle swaarkry; volhard in gebed. 13 Betoon meelewing met die behoeftes van die heiliges; lê julle toe op gasvryheid.
14 Seën julle vervolgers; ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.
15 Wees bly saam met diegene wat bly is; treur saam met diegene wat
treur. 16 Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges. Moenie wys wees in julle eie oë nie.17 Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. 18 As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. 19 Geliefdes, moet julleself nie wreek nie,  maar laat ruimte vir die oordeel. Daar staan immers geskryf:
“Aan My kom die wraak toe;
Ék sal vergeld,”
sê die Here.
20 Maar: “As jou vyand honger is,gee hom iets om te eet;
as hy dors is,gee hom iets om te drink.
Deur dit te doen, stapel jy vurigew kole op sy hoof.”
21 Moenie dat die kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met
die goeie.
(‘n Direkte Vertaling)

Mag ek en julle vandag (23 April 2020) ‘n Speler 23 wees vir mekaar, vir die mense saam met ons onder die grendeldak en vir die ander mense met wie ons op een of ander manier kontak het en waarskynlik net soos ons voel.

No comments:

Post a Comment