Thursday, October 28, 2010

Ontveer

Nadat ek terug gekom het van 'n kamp met ons (gemeente)Tieners, is van die eerste ontstellend-opgewonde nuus wat ek kry dat die honde (en by name veral ons ou gryse boerboel Nandi, 11 jaar in mense jare) een van die spikkelveer raasrasper aan gehelp om te tydelike met die ewige te verwissel. Die nuus is effe ontstellend omdat ons gewoond geraak het aan en sentimenteel-lief geword het vir hierdie 3 survivors van die buurt. Nou is daar net die twee finaliste oor in hierdie stryd om te oorleef in ons "gevaarlike" omgewing. Africa is a tough country. Die opgewonde kant van die nuus was oor ons Boerboel wat haar so jeugdig-jaghond hou. Sy voel seker verantwoordelik teenoor Tigger (die Labrador) om hom die fynere kunsies van 'n Alfa-hond in die erf aan te leer. Saterdagaand was volgens die familie-nuusberigte 'n redelike warboel van opgewondheid in die erf. Tigger het soos 'n waffers verlee leeumannetjie eenkant in die erf gesit en toekyk, terwyl Nandi in hondetaal in gesprek was met die afgestorwe raasrasper. Heelnag lank.

Of die twee werfbewoners my iets wou laat verstaan van te min vleis in hulle dieet, die weet ek nie. Maar voor die agterdeur het 'n perfekte ontveerde tarentaal gele. Kompleet (sonder daai kleurvolle kop) asof hulle wil laat weet, so lyk vleis. Eintlik dink ek nie dit is die rede nie. As jy 'n  tarentaal moet opkook in 'n mens se kombuis, dan het die raasrasper blykbaar 'n sterk reuk en taaiheid wat met allerhande kombuismiddels tot 'n aanvaarbaarheid gedokter moet word. Omdat ons brakke dalk 'n verfynde smaak ontwikkel het, was dit miskien wat hulle verwag het: "'n goed opgekookte raasrasper met al daai lekker kombuisgeure by". Ek dink ook hulle hou nie van rou voels nie (die ontveerde eks-sanger van die buurt het twee lank onaangeraak net daar gele). Hulle hou net daarvan om dit te ontveer met perfeksie. Die volgende op die kirrukulum van Alfa-werfhond wat Nandi aan liewe Tigger moet leer, is die kursus "Vere-optel-202", want die erf se gedeelte waar hulle manewaleer, was gepluis met die spikkelvere. Gelukkig het die wind van die afgelope paar dae dit bymekaargehark iewers in 'n hoek.

Ek het 'n gespikkelde vermoede dat hierdie ontslape ontveerde raasraper die hoofsanger was, want dit is erg stil. Die reelmaat van die rasperklanke is gebreek (of is dit ontveer). Die twee ander lewende finaliste is in rou, so vermoed ek. Ek sal dalk iewers vandag 'n draai moet loop om aan hulle 'n paar menslike pastorale woorde te gaan uiter. Net dalk verstaan hulle my ek kan ek oor die natuur-grense heen ondersteuning bied.

Tuesday, October 26, 2010

"real"

'n Klompie jare gelede het 'n vriend my gewys op die "gladrap"-effek wat met baie mense gebeur wanneer hulle Sondae by kerkgeboue se deure instap. Dit is 'n misterieuse oogwink-eensklaps ding wat hulle oorkom sodra mense (die meeste of eerder baie) hulle lywe deur die kerkdeur beur. Dis asof, so beskryf my vriend dit, daar 'n kleefplastiek oor mense se gesigte kom vir die res van die volgende uur (hang af hoe lank die armsalige dominee'tjie tog preek). Dit maak nie saak wat verder gebeur in die erediens nie (dis nou nie na die preek nie), mense wat die gladrap-effek oorgekom het se gesigte bly dieselfde. Die emosies bly monotonies tydens die liedere (wat na aan tranetrekker lokettreffers kan wees) en ook volledig "straight face" (asof hulle een of ander kaart-speletjie speel wat jy nooit Sondae mag gespeel het nie) tydens die prediker se beste oratoriese hoogtes en laagtes. Net wanneer 'n obskure ding gebeur, soos wanneer 'n by 'n kind steek die knaap een van sy pa (of ma) se geliefde woorde gebruik, sal die gladrap begin skeur onder die druk van alles wat wil uitkom. Nie net die emosies bly staties nie, maar ook die lywe. Die bewegings is beperk van niks tot 'n stywe opstaan en gaan sit (en moenie die styfgeit vergeet as die kollekte in gegooi word nie). Wat in mense se koppe aangaan (as mens nou holisties oor hierdie tipe konkoksie van inhibisies dink).....dit sal 'n geheim bly, maar gewoonlik verraai die helderheid of dofheid van die oe die tipe konneksies wat op daardie stadium in die brein plaasvind.
Wanneer die seen aan die einde van die diens uitgespreek word, is dit asof mense nadat hulle deur die deure uitstap, vrygespreek is van die  gladrap-effek en kan hulle weer terugkeer na normaal. My vriend se opmerking is dan gewoonlik dat hierdie hele storie nie "real" is nie. Dit is 'n aangeplakte oor -en ingeoefende besigheid wat erg ontstellend ver verwyderd is van mense se dag vir dag spore trap en asemhaal buite die ruimtes van kerkgebou een keer vir een uur per week.

Dit het my baie laat dink, want ek is en was een van daai pedistallasie outjies daar voor wat deel is en was, wat dit moes meemaak en aanskou en sorg dat hierdie "heilige" gedoente binne 60 minute 'n einde moes kry. Dit het my ook uitgedaag oor hoe real en onaangeplak ek leef met myself, met God en mense. Ek het mettertyd ook verstaan dat hoe ek glo en my geloof saam ander (en ook alleen) uitleef, baie nou saamhang met hoe eg en geniune ek is.

Die geleerde boeke beskryf egtheid of "real" soos hy soms ook gepraat word in die gange as: nie nagemaak te wees nie; waaragtigheid, opregtheid, outentisiteit. Twee van die Bybel celebs, Paulus en Petrus verbind egte geloof met volharding en met hoop. Ek het al my eie lyf gevoel dat om real te wees, meer hoop (en Hoop) gee vir myself en ander mense as wat 'n kammagtige "gladrap" lewe doen.......
Een ding weet ek, as ek met 'n gladrap-effek leef, of dit in my kar is, voor die stoof, of in die kerkgeboue of by 'n eindstryd van 'n belangrike rugbywedstryd tussen die meesal kusbewoners, plaas dit druk op myself om meer te wees, iemand anders te wees as wat en wie ek is. Dan is ek toegerap met allerhande prentjies (afhangende van die situasie: kerk of braai) waarvan ek "bevry" moet word sodra ek deur die deure stap.
As my vriend van destyds se woorde ge-eggo word in die gange van  my lewe, kry ek 'n dankbare glimlag oor die tye saam met hom en almal so real soos hy.

Monday, October 18, 2010

As dit gereen het.....

Ek sit Saterdagoggend langs die Huisrivier in die Swartberge. Die rivier stroomsnel met 'n dankbare vol maag verby. Die Berg is vandag vrygewig met die water. Dis asof elke blinkwit borrel oor die klippe hande klap saam met die lied "Alle volke klap julle hande en juig tot eer van God". Alle ander lewendiges in die omgewing eggo hierdie gevoel tot 'n groter danklied wat die atmosfeer in die lug met speelse verwondering volmaak. Dit voel of die voeltjies se sang helderder vroliker is en swaeltjies se swiep deur wolklose skoon lug nog blouer in die oggendson is as gewoonlik.

Dit het lekker gereen in die Klein Karoo. Die Katbosse het nog nie hulle bekende vars en verrassende reuk uitgestoot nie, en mens kan nie wag daarvoor nie. Die takkies en die grashalms slaan die tromme van die rivier se maag ritmies en sonder ophou. Elke rotsbank en groter klip laat swel die skoon bergwater totdat dit 'n soelende dieper opgewonde grom laat hoor.

Die klanke en prentjies wat gevorm word, word deel van dankbare drink van meer as net gewone water. Dit is daardie groter Dors (nie daardie waarvan hulle altyd in die pubs sing nie of langs vure oor spot nie) wat in-"sync" kom met die aardse skoonheid van die bergwater-lewe. Jy wil net drink en drink, want iewers kom mens agter dat jou hart 'n nuwe beter Ritme klop en jou woorde inperk tot oorgee en dankgesange.

Monday, October 11, 2010

Langasem vasbyters

Vanoggend soos elke oggend gaan hierdie vyf koggel tarentale (spikkelveer raasraspers) uit volle bors voort om almal te laat verstaan dat hulle hier iewers in 'n boom sit. Ek dink enige kat wat geinteresseerd  sal wees in 'n wilde happie spikkelveer Nando's, sal hierdie vyf eerder bekruip en van kant maak uit irritasie as om hulle uit hongerte vir ontbyt te ontveer. Of hulle mekaar afwissel die weet ek nie, maar die rasperagtige toonhoogte klink geredelik dieselfde. My slotsom is dat hulle of hy of sy (uit respek wil ek hom/haar/hulle nie dit noem nie) met 'n langasem vasbyter op die atletiekbaan of sportveld vergelyk kan word. As hierdie die Statebondspele was het ek aan al vyf elkeen 7 gou medaljes gegee en gevra (hulle betaal) om die Spele te verlaat.

Tog het ek 'n respekte vir hierdie langasem vasbyt spikkelvere. Hulle is Survivors van 'n broeisels wat hierdie jaar weer in ons tuin uitgebroei tussen die hordes onkruid (tot my vrou se frustrasie, dis nou die onkruid). Aanvanklik was hulle agtien, maar kleintyd het hulle nog nie heeldag (en nag) hulle rasperlied geken nie, en het die katte toe nog 'n wilde happie of twaalf uitgesoek. En dalk ook het iewers een of twee van ons twee-poot diere 'n paar as troetelvoels gevang (sterkte vir hulle). My respek vir hierdie spikkelvoels is nie net hulle vasbyt oor lang ure en hulle oorlewingsvermoe nie, maar ook dat hulle 'n suiwer (ek sal nie regtig weet nie) rasperklank kan voortbring wat geen ander voel of dier kan nie. Dis hulle klank en hulle maak hierdie klank hulle lied (antromorfies gesproke).

Ek wil nie baie hoes, snuif en oogkrap op hierdie oomblik nie, maar ek dink dat ons klompie twee-been rubberspoortrappers wat so deur God liefgehe word, ons kan maar gerus met ons meer- as-'n-oerstam-brein-intellegensie kyk en leer by die langasem vasbyter spikkelvere (tsv hulle hoe toonhoogte). Dis nie net die miere nie, maar meer gereeld as wat ons dink is daar ander natuurskepsel wat ons 'n goeie lewensles of vyf laat sien en hoor. So in ons saamstap en spore maak kan ons so saam-saam, groep-groep dalk 'n langasem-vasbyt-saamstap en 'n nuwe respekte vir mekaar en ander gediertes aanleer.

Myse pa het hoeka nou anderdag gese dat die tarentale se gesingery maak hom rustig. Ek het nogals baie daaroor gedink.....

Tuesday, October 5, 2010

Plaastoe is huistoe






'n Anner vriend van my griffel ook op die wereldwye web so nou en dan. So ruk terug tokkel hy toe op 'n baie emosionele sentimentele snaar van menige mense. Dit was naamlik die dieperliggende heimwee van  elkeen se eie verlangentes na die tye op die plaas. Dit is verskillende dinge. Die gerammel en kreune van die windpomp, die werfhoender se unieke geskrop en gekraai, die sonsopkoms en ondergang, die reuke van die huis en kombuis, die klanke en klanke daar van die bees en skaapkraal se kant af met die perde se gestoei, die beeste se gebulk en iewers 'n verlate lammetjie wat blerrend na sy ma in die trop soek. Die somtotaal van al hierdie gedagtes of selfs net een daarvan roep 'n vredevolle huistoe-kom, 'n welkom terug, 'n tuiste of enige van daardie huis-gevoelens wat jou weer na 'n mens-mens laat voel. Dis daardie unieke dinge wat in jou geheue so ingeprent is, dat huistoe wel plaastoe is. Of andersom, plaastoe is huistoe. 

Die afgelope kort skole vakansie was weereens een van die talle saamwees tye (ek, Elise, Emme, Nehan en Henu) waar die plaas vir almal huis was. Die stap en ry in die veld, die koffie en hotchocolate drink in Boemsmanskraal se vervalle klipkraal, die ry van die nuwe bergpad en piekniek hou by die "fonteine", die bergklim tot heelbo op die kranse waar die wind jou na 'n witkruisarend laat voel, en dan ook ek en Nehan wat kilometers agter die paar wille springbokke aanloop en kruip. Twee keer was ons suksesvol met die bekwame hulp van myse geliefde in die getroue Condor. Die ram wat ek kon skiet was 'n langafstand gelukskoot. Maar dit was Nehan se eerste bok wat vir my uiters bevredigend was. Na dae se stap en beloer het ons so bietjie van die parmantige bokke se gedrag agtergekom en kon vanuit 'n sloot en agter 'n doringboom die onnadenkende (ha) en niksvermoedende troppie skelm inwag totdat Nehan met my .303 sy eerste (spring)bok, en 'n ram daarby, plattrek op ongeveer 80m (hy reken eerder 100m). Vir my was dit baie naby want die sprinkbokke vertrou geen beweging van enige soort en sukkel mens om nader as 400-500 meter van die "edelagtige spesie" te kom. Die meeste oggende se koffie op die stoep terwyl die son agter die Bamboesberge uitdans op die maat van die voels se klanke of saam met die wind se eentonige reelmaat om die hoeke van elke ding wat 'n hoek het, was en is tye van kyk en luister en dankbare woorde bid. 

Die suide-wind en die pikswart karoo-bossies help mens onthou dat alles nie altyd lekker ruik en lyk op 'n plaas nie, die droogtes knyp aan alles wat asemhaal en groen wil wees. Die land se politiek en internasionale markte laat jou lyf pyn van die slapelose nagte. Jou kop sing van al die planne maak om die ekosisteem van elke hektar op die plaas 'n sinvolle finansiele en volhoubare bestaansruimte te maak. Tog is elke klippie en bossie en grassie en diertjie en wolk in die lug die plekke wat aan hoop geboorte gee en mens dieper laat asemhaal om die kombuis en krale te ruik en die plaasklanke beter te laat klink as enige stereo cd-speler. Hier op die plaas laat alles en almal jou gereeld stop om te kyk en te luister.

Daar is iewers ook 'n liedjie wat se dat "jou huis is waar jou hart is". My hart is 'n plaas.....