Tuesday, May 17, 2011

Bidpredikers

Ek vang myselwers verlede week en vanoggend dat ek vir my kinders tydens 'n gebed preek. Ek sorteer sommer daar en dan in 'n gesprek met God my kinders uit en glo hulle gaan nou beter verstaan hoe die lewe werk. Toe ek myself so uitvang  is daar ook 'n hol ge-eggo in my ore, want ek hoor hoe ouers dit doen, hoe predikers (ek seker ook), hoe sangleiers tydens eredienste 'n duidelike boodskap, aan diegene in wie se midde hulle is, wil stuur. Party kere is die boodskappe subtiel gekamoefleer met lof en dankie-woorde, ander kere is dit weer direk en sommer by die naam ook. Ek het al baie kere ervaar hoe 'n prediker sy of haar hele preek onder gebed weer oorpreek. Soms kom die kern van die boodskap dan eers deur en as jy nie mooi oplet tydens hierdie preek nie, het jy die 20-30 minuut lange boodskap van vroeer heeltemal gemis.

Ek wonder of dit dalk 'n magtelose poging as laaste uitweg is. Of dalk is dit 'n self-terapie sessie om van dieper emosies ontslae te raak. Dalk is dit regtig 'n ernstige pleidooi by God om oor te neem en wonderbaarlik die situasie te beredder en gedragsaanpassings te bring. Dalk is dit in sommige gevalle 'n selfpreek, bedoelende dat ek en my mede-bidpredikers vir onsself preek om onsself te align. Maar ek wonder hoeveel van ons bidpredikers loer so onderdeur en bo-oor die woorde met een oop-oog om te sien of die hoorders luister, goed luister. En as niemand luister nie word hierdie "bidgesprek" nog langer en meer emosioneel.

Of dit goed of sleg, reg of verkeerd is, die weet ek nie. Dit is egter 'n interessante verskynsel en het die Here dalk so snak-kopskud-lag oor sy kinders wat op hierdie manier die lewe aanvat.