Thursday, January 5, 2012

Krismis onder Wildeperskes en Uile in die nuwe jaar

Om die hitte van die dag uit te lê (op 'n bed wat gewind word deur 'n bergbries) en so gou moontlik 'n paar lekker dik spanningsboeke deur te werk....dit is mos hoe vakansies moet begin. Maar in die angstige volg van die spanningslyne van die stories het ek vinnig al die beskikbare bronne in die Swartberge deurgelees en deurgeleef. Tussendeur, veral teen 16:30 se kant van die son, was die lekkerte om te gaan "houtmaak". Die soek van gevalle Soetdorings (akasia karroo) gemeng met die cocktail van wakkerwees vir die gulsige ogies of tonge van Kaapse Kobras of een of ander luie Addergeslag het elke laatmiddag opgetower voor daar 'n vuur aangesteek kon word vir 'n lekker braai-kuier en inwag van nog 'n goeie Klein-Karoo betowerende aand. Tussen alles deur was die splash in die watergate, bergpoele, en geduldige bergstroom 'n lafenis wat enige Desember-vakansie 'n koele nagedagtenis maak. Dis hoe ons voorberei was vir die Krismis van 2011. Nog tussen-deur, voor die son sy vurige aanspraak kon maak op die dag, het ons gereeld gou 'n paar bulte of platste 200 m gelyktes voluit aangedurf, as oefenprogram vir die rustyd om te sorg dat enige aanspraak van 'n kilojoule of blaas-asem-lewenstyl die nek in geslaan kon word.

Behalwe vir die duisende Steekvlieë wat die tydelike met die ewige gewissel het in hulle pogings om ons dun witvelle aan te val en ook die hordes Reënspinnekoppe (net die wat ons erg bedreig het, is nie meer met ons nie), was daar Nehan se soektog na Bobbejaanspinnekoppe. Die ontdekking dat die ronde halwe-hand grootte gate in die grond nie slanggate is nie, maar pragtige neste van die geagte Bobbejaanspinnekoppe, het groot opwinding veroorsaak. Die steekvlieë het ons goed uitgedaag en het geen respek vir klere gehad nie. Ek is seker dat selfs 'n jeanbroek of baadjie nie bestand is teen hulle bloedige ywer en angstige aanvalle nie.

Uiteindelik (vir die kinders wat al na 'n week genoeg van die afgesonderde berge-bestaan gehad het) het Krismis onder die Wilde Perske aangebreek. Die geboorte van Jesus Christus is "gewoon" gelees en ontvang as 'n geskenk saam met al die eenvoud bedoelde presente aan mekaar as geliefdes. Die Wilde Perske en Bloubos het geskitter in die Klein Karoo maanstrale van al die tuis-en-berg-bedryfde versierings en was lewensgetroue rigtingwysers na God se teenwoordigheid.




Na goeie rus-tyd saam met mekaar, is ons gesin terug in George om voor te berei  vir die voluit van 2012. Na so paar dae terug in die tuig, het drie Kaapse Gevlekte Oor Uile met 'n skemer vermaaklikhei met ons in die nuwe jaar begin flankeer. Die vermoede is dat hulle iewers veilig in die forse en hoe takke in een van die omliggende Akkerbome gebroei het en nog die soogtyd hier neffens ons wil spandeer.  Ek kon op een van die flankerings tot ongeveer 3m van een uil kruip (hy/sy het op die grond gesit) om ampers makro-foto's te neem. Hulle koeel ronde goudgeel oë moedig my met elke oogkontak aan om wakker akker te wees in hierdie jaar. Afhangende van jou gemoedstoestand kan die uitdrukking in hulle oë so effense veroordelende blik uitstraal en jou laat skuldig voel oor iets wat jy gedoen het of nog gaan doen. Verder kan dit ook voel of hulle ietwat meerderwaardig na jou gluur omdat jy nie hier hoort nie, hulle was eerste hier (daaroor kan ons nog lank met hulle praat en 'n wyse teologiese interaksie telepateer (ek dink dis 'n nuwe woord....)). Ek dink tog dat hulle na die onlangse Eko-beraad in Durban so paar dinge vir ons hier in die Suid-Kaap wil oordra. 


Die nuwe jaar het deeglik teen ons velle kom sit, maar die Krismis onder die Wildeperskes is darem nog vars onder ons velle. Ek weet dit, want kort-kort klap ek 'n denkbeeldige steekvlieg as ek 'n geringe geritsel iewers op my lyf voel.