Saturday, August 27, 2011

"Dark suckers"

Nou anderdag vertel iemand my (hy is 'n elektrisiën) dat daar 'n paar mense is wat met slim teorieë probeer bewys dat ligte, soos in gloeilampe, nie eintlik lig uitstraal nie. Die energie wat loskom deur die aanskakel van die skakelaar veroorsaak nie lig nie, maar absorbeer die donkerte. In hulle woorde: die donkerte word ingetrek, opgesuig, geabsorbeer. Ek neem aan die beginsel werk dieselfde vir enigiets wat ons normaalweg beskou as ligmakers of verskaffers van lig (kerse, vuur, flitse ens). Dit laat mens heeltemal anders dink oor lig en donkerte.


As 'n persoon vir iemand anders sou sê (bv. 'n outjie vir sy vroutjie): "Jy is die lig in my lewe!" dan bedoel hy einlik (itv die "dark sucker-teorie) "jy suig die donker uit my lewe uit" of beter "my ou donker-opsuigertjie!". Ek weet dit klink amper soos 'n Cardies-kaartjie of 'n modderskerm-plakker, maar mense verstaan wat daarmee bedoel word. Hoewel die vloei van die energie van verskillende kante kom (die een straal en sprei uit, en die ander trek in en maak minder), is die eindresultaat dieselfde.....'n lekke nice ligte lewe. 


Vroeer gister praat iemand woorde uit sy mond asof hy myne onbewustelik gebruik. Hy noem hoe swaar hy met die lewe omgaan, veral omdat sy geliefde pragtige vrou hom daarvan aankla dat hy baie min lag. Ek voel hierdie woorde aan my eie bas. Ek lag te min op my eie, sommer net omdat lag lekker is en die lewe oraait is (want ek glo in God se grootse liefde). Ek lag ook te min met ander mens-skepsels saam, omdat ek en hulle so gekompliseerd is. So eintlik is ons synsbestaan skuldig aan 'n donkermaan tonnellewe en dit terwyl iets soos lag die donkerte insuig, opsuig en absorbeer. Nie net mense nie, maar ook doen-dinge soos lag kan darksuckers wees. 


Christus se woorde: "julle is die lig vir die wêreld" maak net nog meer sin, al verstaan mens dit anders om (in die donker-insuig-manier-van verstaan).



Tuesday, August 16, 2011

Moet net nooit ophou nie

Ek het die storie al ‘n paar keer die afgelope paar jaar vertel. 'n Klompie jare gelede kuier ons by Elise se ouma Nellie wat op daardie stadium seker so 84 jaar oud was. Nadat een van ons kinders iets op Ouma se kombuisvloer mors (darem nie na 'n vloermoer nie), buk sy af met die flinkheid van 'n 20 jarige, maak die gemors skoon en kom net so egalig en spoedig op. Geen gekreun, steun en verskillende fases van vervattery nie, niks rooi in die gesig asof sy nou iets groots en moeilik gedoen het nie.
Ek spot nie oor hierdie tipe gedragsverskynsel (eerder gedragsbeperking) van mense wat stoei met die gebuk-gedoente nie. Ek het regtig heilige respek vir die ouderdom en die effek van gravitasie op ouer liggame (alles word mos nader grond toe getrek met die styg van die jare, krommer, kleiner en plooie is ook mos velle wat grond toe neig).

Haar kleindogter, dis nou myse beterhelfte, Elise, staan toe op daardie kontradiksie oomblik oopmond en verwonder haar aan haar Ouma se skatkis-buk-talent en vra: "Hoe kry Ouma dit reg?" Ouma Nellie se mond het soos altyd so 'n speelse trek gekry en haar oe vol wakker stout-lig toe sy antwoord: "Jy moet net nooit ophou nie!". Agterna het ons al verskeie kere in oues en jongeres se teenwoordigheid hierdie "kombuis-wysheid" van ouma Nellie van Albertinia aangehaal (ek het wel so spesmaas dat die toepassing van die wysgeit het ook te doen met daardie streek se gebrou en gebruik van karriebier, maar dit kan nie bevestig word deur navorsing nie). 

Die ding van hierdie wyse boere-tannie-raad is dat dit tot in die dieptes van die lewe inkruip en met jou flankeer as 'n soort beproefde lewensbeginsel. Die toepassing daarvan het ons al baie laat dink. Vat nou maar die verhouding tussen 'n man en vrou. As hulle vir mekaar lief is en vir mekaar lief wil bly........moet net nooit ophou nie. Dis soos buk. As jy fiks, slank en soepel wil bly, moet net nooit ophou oefen en strek nie. Dis soos buk. As jy baie graag slim wil wees, moet net nooit ophou leer nie. Dis soos buk.
As jy ophou, raak alles styf en word dit 'n gekreun en steun en vervattery.