Monday, February 11, 2013

Aandag!!

Ek was nie in die weermag nie, net in die Kadette (nogals in die prestige drilpeletonnetjie). Wanneer die korporaal of generaal of een tussen-in geroep het: "Aaaandag!" dan gaan staan die hele spulletjie van ons kierts regop met hande langs die sye (of so iets, kan ook nie meer lekker onthou nie) en jy luister en is gereed vir aksie. Enige bevel wat kom word stiptelik en onmiddellik deur almal gelyktydig uitgevoer. Indien almal dit nie reg en saam doen nie, dan gooi daai rang-omie of rang-mater met die strepies of sterretjie (ek dink dit was strepies) 'n hewige tantrum (ek dink hulle doen van standerd 7 af  'n kursus in tantrums). As die tantrum klaar was het ons teen daardie tyd aangeneem ons moet een of ander fisiese aktiwiteit doen wat oor 'n langerige afstand spoedig afgehandel moes word. Ons kon nooit presies uitmaak watter soort taal die ou gebruik nie, maar ek dink vandag word so paar van daardie woorde in die nuwe HAT beskryf. Daarna word weer vir AANdag gevra en dan doen-oefen ons die hele opdrag weer van voor af totdat dit perfek genoeg gedoen word na die aandag-mater se smaak. Ons (die peleton of so iets) het al met die eerste keer gedink dit is perfek, maar hy het iets geskreeu van 'n ander skool wat altyd kwansys beter as ons was. Volgens hom het ons geklink en gelyk soos 'n flou poging vir 'n meksikaanse golf op die Boet Erasmus Stadion as die WP halftyd 45-0 teen OP voor is (dit was in 80's van die vorige eeu). Daai ander skool het blykbaar soos 'n geweerskoot geklink met alles wat hulle ingestamp het. Dit het gewoonlik ure en dae se AANdag en oefen geverg.

Met die tyd van tyd het ek geleer dat om AANdag van mense te kry, verskil van kontinent tot kontinent, land tot land, streek tot streek, van familie tot familie en van persoon tot persoon. Hiervoor het mens blote verbeelding nodig om die feite daarvan te staaf (ek het geen wetenskaplike navorsing om my persoonlike mening te verifieer nie, sorry). Party mense se aandag word gespanne tydens die SuperRugby-seisoen en ander staan op aandag as jy begin praat van geld en beleggings. Daar is selfs diegene wat op aandag sit as jy iemand begin bespreek waarby hulle interesse het. Om my eie AANdag te kry kan iemand bloot oor bome of renosters begin praat en my ore en lyf is geweerskoot op aandag.

Ek wonder die afgelope tyd oor die AANdag ding. In my eie beroep-konteks is dit interessant om weekliks te sien hoe gelowiges die moeite doen om na 'n erediens te kom en tenspyte van hulle moeite hulle aandag gefilter is deur tyd, musiekvoorkeure, predikergedrag -en vermoëns, tegnologiese smoothness, estetiese inkleding van die sit-ruimte en selfs ander erediensgangers se kleure, reuke, tale en voorkoms. Tussen al die veelvuldige elemente deur roep God na hulle aandag in 'n drang van Liefde. Dalk klink ek krities en selfs veroordelend, maar heelaas, ek roep soos die aandag-mater van die kadette saam met God met al my oratoriese, kreatiewe en kontemporêre beperkinge na die aandag van ons almal om vir 'n wyle uur in God se aandagspan mens te wees. Dis asof ons almal aandag-disleksies is om sonder ons eie verwagtinge en voorkeure aandagtig te hoor en luister hoe God uit sy ewige liefde ons nader trek binne die konteks van ons saam-wees. 

As ek so herfs-aandag probeer asemhaal is my wens dat ons mag oefen en oefen en oefen om nie noodwendig in perfeksie te marseer nie, maar met liefdevolle gebrokenheid voor die God van alle tye en drange te dans op die ritme van eeue oue ewige genade.

Mag ons ook soos Elia (1 Kon 19:12) ontdek hoe God na ons AANdag vra in die stilte van Sy teenwoordigheid wat groter is as ons eie verbruikersgekleurde behoefte