Tuesday, March 31, 2020

Praat-rye en Praat-beurte


DAG 5

Speak, speaking, talk iconEen van my kinders het kleintyd ‘n frase in ons gesin gemunt. ‘n Frase wat my in elkgeval bybly en in die grendelstaat tyd weer getoets is. Hy was destyds besig om iets te sê en toe val iemand anders hom in die rede. Hy protesteer toe met hierdie voor die handliggende: “Jy praat voor my in!”. Hy weet mos by die skool mens mag nie voor iemand anders in die rye indruk nie. Dit maak so sin. Dis duidelik! Jy kry die prentjie sonder om daarvoor te soek. “Jy gebruik jou woorde om voor my in te druk in die praat-ry, ek was reeds hier en dit is my beurt.” Die spore van respek vs disrespek, naasteliefde vs oordrewe selfliefde, ruimte gee vs ruimte opeis loop dik deur hierdie sand. Jy hoef nie te kan spoorsny om dit raak te sien nie.
Dit gebeur ook dat ons te veel woorde gebruik, selfs al staan jy voor in die praat-ry. Wanneer dit jou beurt is, praat jy so baie dat ander nooit voor in die ry kan kom nie. Die gevaar is dat jy dan kan dink niemand anders wil praat nie en nou praat jy maar, want jy het so baie woorde om op te gebruik voor die dag verby is. Ek wil nie ingaan watter dik spore in hierdie sand vars getrap is nie.

In Spreuke 18:21 word wyse woorde gepraat. Ou Salomo kan maar my plek in die praat-ry en woorde-ry kry.

Die tong het mag oor dood en lewe;
dié wat lief is om te praat, sal die gevolge dra.

In ons saamtyd met ander onder dieselfde dak, mag ons in die praat-ry wag tot dit ons beurt is. En wanneer ons beurt kry, praat die regte en mooi woorde sodat ander ook beurt kry.

(ns. Hierdie geld seker ook vir wanneer ons sosiale media praatjies maak, op telefone praat en al daai ander lekker kommunikasie devices wat ons gebruik –al die praat-rye en praat-beurte)

Monday, March 30, 2020

Nie met die voëls gepla

DAG 4


Toe die dag se lig skramsweg kop uitsteek, was die voëls vanoggend weer sterk besig met hul lofliedjies. Ja, ek noem dit maar lofliedjies. Daar was nie paniekliedjies nie. Ook angsliedjies of vlugliedjies nie. Net lofliedjies. Hulle, die voëls is nie in ‘n grendelstaat nie. Hulle klink meer vry (moediger) is voorheen. Maar ek weet dit is nie so nie. Hulle word nie aangejaag om betyds te wees of by nog iets uit kom nie. Hulle is net waar hulle nou moet wees en sing soos hulle kan sing.

So in die skemerte is ‘n Kaapse Ooruil besig met ‘n laaste wyse lied voor die dag volkome oopbreuk. Die Kaapse Glasogies, altyd teenwoordig, en vanoggend voor in die koor so asof hulle groter as ‘n witkruis is. Die Swartkopwieliewaal klokhelder op die noot wat in die leë strate nog verder gehoor kan word. So halfblok weg skerts ‘n Kardinaalspeg met die ander in kort en kernagtige lied (die meeste lidmate sal wens die dominees se preke is so kort en kragtig). ‘n Tortelduif koer ‘n rustige lied en die Groot Ringnek duif val met ‘n dieper lied in, iewers drie takke verder. Die Mikstertbyevangers se vriendelike oor-aktiewe lied laat my eerste voet uit die bed val en ek my oggend-danklied binne-toe brom. Gelukkig hoef geen van die nootvaste vere-skepsels my te hoor nie. Dalk sal hulle lofliedere verander in lagliedjies. Maar dit maak seker nie saak nie.

Gewoonlik word voëls, vir ons mensvel-skepsels, gesien as boodskappers. Boodskappers van vrede, verandering, vryheid en mag. Martin Luther het die voëls in die Swartwoud gesien as teoloë wat ons leer om suiwer aan ons Godlied te sing. Ek hou daarvan.

Jesus noem in Matt 6:26 die wilde voëls die “objekte” van God se Vadersorg.

Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Sy woorde help om te fokus op God as Vader wat liefhet en sorg. Juis daarom kan ons sing.

Kry jou lewe-lied, al hoor niemand anders dit nie. Sing dit binne-toe, buiten-toe. Al voel jy soos ‘n Glasogie lyk, klein. Sing asof jy ‘n Witkruis is. Wat groot met wye vlerke vlieg en vry is. 

Jy is geliefd en word voor gesorg. 
Sing maar!


Nuttelose inligting


     Die Amerikaanse Hummingbird is die enigste voël wat agteruit kan vlieg.
     Die pikkewyn is die enigste nie vlieënde voël wat kan swem.



Sunday, March 29, 2020

Wysheid is om ons


Dag 3

A wise man can see more from the bottom of a well than a fool can from a mountain top .
Unknown

Ek het iewers gelees of dalk gehoor dat wysheid het onder andere te doen met die vermoë  om kennis, insig en verstaan te integreer in die daaglikse lewe op so manier dat dit op ‘n praktiese wyse (soms voor die handliggend) lig aan enige persoon gee om te leef, om keuses te maak en sinvol met ander te konnek.

Die Bybel is nogal baie direk daaroor.

 

Soms is dit makliker om wysheid by ouer mense raak te sien of te hoor. Hulle kyk verder en dieper en kalmer en het baie keer meer gereedskap om alles bymekaar te bring. Maar soms sien en hoor jy wysheid by ‘n kind, ‘n tiener, ‘n jongmens of iemand nog nie so oud nie.


Mag ons almal in hierdie inhok dae nie net self Wys wees nie, maar wysheid om ons raaksien, raakhoor en raakleef.

Saturday, March 28, 2020

Bewus-wees en rubberhandskoene

DAG 2

GLOVE NITRILE POWDER & LATEX FREE MEDIUM 100PCS
So twee weke gelede gaan koop ek items by ‘n apteek om my eie handontsmetters te maak. Alle klaar vervaardigde handontsmetters was reeds uitverkoop en ons hande moet mos ontsmet word. Die kassier-dame het sulke blou rubber handskoene aan, gereed om gereed te wees en die apteek se beleid om ‘n veilige en ‘n kliniese omgewing vir die klient te bied. Ek plaas my items voor haar neer en net voor sy dit neem gebeur die onverwagte. Dit is asof alles in stadige aksie gebeur, want die sinapses van die boodskappertjies in my brein is verstar in ongeloof, en hulle koes-koes (darem nie hoes-hoes) voordat hulle voortgaan om te doen wat hulle moet. Die kassier-dame gee so lekker gewone nies, gelukkig vir haar het sy haar handskoene aan en is haar nies-hand veilig. Sy het darem met die nies weggedraai van my en veilig in die hand genies. Daarna gaan sy dood luiters aan en vat my items wat voorheen heel skoon en ok was en bedoel was om self in ‘n ontsmettingskonkoksie gebruik te word, en lui dit op. Niks snaaks het mos eintlik gebeur nie. Maar dit is 12 ure na ons President ‘n noodtoestand aangekondig het en ons volk geleer het van nies en groet.


Gelukkig kom daar ‘n kalmte oor my, na my aanvanklike verbasing en verstardheid. Dieselfde breinboodskappers laat my blitsig insien hier kan nou verskillende senarios afspeel en ek moet die beste een kies wat my nie op nasionale TV sal laat beland nie. Dalk was dit eerder die gerieflikste een. Ons land het nie nou konflik nodig nie en die ouens met die rooi oorpakke in die parlement gooi genoeg kinderagtige vloermoere. Ek vat toe my goed en trek ferreira. Vir ‘n tyd gaan daai apteek my nie weer sien nie (totdat ek weer iets nodig het en hulle ‘n special het en ek weer uit my huis mag gaan om dit te gaan koop).

Onkunde is saligheid

Daar is ‘n gesegde in Engels “Ignorance is bliss” (uitgeneem uit ‘n gedig van die 18e eeuse digter Thomas Gray) wat waarskynlik in Afrikaans vertaal kan word met “onkunde is saligheid” (Google). Dalk het sy nie van beter geweet nie en is sy nog steeds salig onbewus van alles en is haar hand ten minste skoon. Sy het mos haar rubberhandskoene aangehad. Maar dalk het ek gekies in daardie oomblik om nie te weet nie, want wat ek eintlik weet gaan my te veel ontstel en die koers van my dag op ‘n ongemaklike pad sit. Ek maak maar eerder asof ek nie gesien het nie. Ek is dan mos nie bewus van wat gebeur het nie. So, “ignorance is bliss”.

In die Bybel is daar ‘n hele boek waarin al die verhale skouer skuur hiermee. Een van die frases wat gereeld gebruik word in Rigters is “en elkeen het gedoen wat goed was in hulle eie oë” en een van die groot redes was dat hulle of vergeet het van God se pad met hulle en daarom onkundig was. Of hulle het so half en half subtiel gerieflik gekies het om nie te weet of wil weet van God se pad nie. Dit is baie makliker om te doen wat goed is vir myself. Die gevolge kan rampspoedig wees.

Die ander kant is ook waar. Om terug te kom na God en sy Pad te vat, bewustelik en daarop te bly loop en sy Wil te leer ken en deur Hom gevorm te word, so tussen die niese, handontsmetters, pandemie en slot-af-tye.

As ek nou hierdie bewustelike oomblik beleef, wat behoort ek nou te doen aan die apteek-nies-situasie? Ek kan nou niks daar gaan doen nie, maar ek gaan dit in ‘n grappie-kas van my brein stoor en kies om daaroor te lag. Dit was “iets”, maar ek is nog ok en tog was dit op ‘n manier snaaks. Dit hang af hoe ek dit vertel en ek het mos so bietjie kennis opgedoen deur die stap van die Pad.

Kennis is mag, het my ouma altyd gesê, en ook bevrydend wanneer dit reg, goed en tot voordeel van almal gebruik word.

Mag ons vandag bewus wees, van God, van mekaar en met insig lewe!

Friday, March 27, 2020

slotaf: STILTE

Stilte
Vanoggend word ek wakker (dankie tog), al wat ek hoor is die voëls. Geen voertuie in die strate en teen die Outeniqua-pas. Geen honde wat blaf vir vreemdelinge in die strate of mekaar soos telefoontjie-telefoontjie-speletjie aanblaf nie.

Die voëls het die verhoog vir hulself. Amper soos dit hoort.

Maar dit is die ironie. Dit vat ‘n onmoontlike virus om weer die skoonheid van oorspronklike oggendklanke duidelik te hoor.

Dit is ‘n mooi en vreemde stilte.

Ek dink, so hier by myself terwyl die dag blou breek, dit is ‘n goeie tyd om terug te kom na ‘n voedingsbron van ons oorspronklike Konneksie. Konneksie met hoofletter. Ons kan weer die vreemde stiltes gebruik om weer en weer stil te wees voor God, te fokus op God, te luister en te hoor, te fokus op hulle om my onder die dak waar ek nou moet wees.

Ek hoor vanoggend weer die ou lied:
Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Ps 46: 11 (1983-vertaling)
of
“Wees stil en weet Ek is God!
Ek sal vereer word deur die nasies,
verhewe wees oor die hele aarde. (NLV)

Daar is ‘n lied in die kerk wat hierdie woorde eggo:
"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek, en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.

"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, Ek gee jou krag.

"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Kom bring na My jou kommer en vrees.
Ek sal vir jou 'n toevlug wees.

"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos Ek beloof."

Ek bid dit vandag vir elkeen in hierdie nuwe-ou-vreemde stilte!