Stilte
Vanoggend word ek wakker
(dankie tog), al wat ek hoor is die voëls. Geen voertuie in die strate en teen
die Outeniqua-pas. Geen honde wat blaf vir vreemdelinge in die strate of mekaar
soos telefoontjie-telefoontjie-speletjie aanblaf nie.
Die voëls het die verhoog
vir hulself. Amper soos dit hoort.
Maar dit is die ironie.
Dit vat ‘n onmoontlike virus om weer die skoonheid van oorspronklike
oggendklanke duidelik te hoor.
Dit is ‘n mooi en vreemde
stilte.
Ek dink, so hier by myself
terwyl die dag blou breek, dit is ‘n goeie tyd om terug te kom na ‘n
voedingsbron van ons oorspronklike Konneksie. Konneksie met hoofletter. Ons kan
weer die vreemde stiltes gebruik om weer en weer stil te wees voor God, te
fokus op God, te luister en te hoor, te fokus op hulle om my onder die dak waar
ek nou moet wees.
Ek hoor vanoggend weer die
ou lied:
Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Ps 46: 11 (1983-vertaling)
of
“Wees stil en weet Ek is God!
Ek sal vereer word deur die nasies,
verhewe wees oor die hele aarde. (NLV)
Daar is ‘n lied in die
kerk wat hierdie woorde eggo:
"Wees
stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek, en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.
Ek spreek, en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.
"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, Ek gee jou krag.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, Ek gee jou krag.
"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Kom bring na My jou kommer en vrees.
Ek sal vir jou 'n toevlug wees.
Kom bring na My jou kommer en vrees.
Ek sal vir jou 'n toevlug wees.
"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos Ek beloof."
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos Ek beloof."