Friday, March 27, 2020

slotaf: STILTE

Stilte
Vanoggend word ek wakker (dankie tog), al wat ek hoor is die voëls. Geen voertuie in die strate en teen die Outeniqua-pas. Geen honde wat blaf vir vreemdelinge in die strate of mekaar soos telefoontjie-telefoontjie-speletjie aanblaf nie.

Die voëls het die verhoog vir hulself. Amper soos dit hoort.

Maar dit is die ironie. Dit vat ‘n onmoontlike virus om weer die skoonheid van oorspronklike oggendklanke duidelik te hoor.

Dit is ‘n mooi en vreemde stilte.

Ek dink, so hier by myself terwyl die dag blou breek, dit is ‘n goeie tyd om terug te kom na ‘n voedingsbron van ons oorspronklike Konneksie. Konneksie met hoofletter. Ons kan weer die vreemde stiltes gebruik om weer en weer stil te wees voor God, te fokus op God, te luister en te hoor, te fokus op hulle om my onder die dak waar ek nou moet wees.

Ek hoor vanoggend weer die ou lied:
Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Ps 46: 11 (1983-vertaling)
of
“Wees stil en weet Ek is God!
Ek sal vereer word deur die nasies,
verhewe wees oor die hele aarde. (NLV)

Daar is ‘n lied in die kerk wat hierdie woorde eggo:
"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek, en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.

"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, Ek gee jou krag.

"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Kom bring na My jou kommer en vrees.
Ek sal vir jou 'n toevlug wees.

"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos Ek beloof."

Ek bid dit vandag vir elkeen in hierdie nuwe-ou-vreemde stilte!

3 comments:

  1. Dankie vir hart-raak woorde. Hou aan om met woorde te skilder...

    ReplyDelete
  2. Dankie Cornie - jou woorde is ‘n sagte briesie op dag 1 van die 21DaeFokus❤������

    ReplyDelete
  3. Hou asb aan om hierdie persoonlike ervarings te deel! Dit help met al die warboel van gedagtes wat verdwaal rask te midde van hierdie tydperk van afsondering. Dit help ook om die afsondering persoonlik te ervaar deur nader aan God te kom en werklik sy stem te hoor en te luister. Ek besef weer: ek het God en Sy beloftes nodig! Ina

    ReplyDelete