Wednesday, September 28, 2011

Moeder aarde se lewende spruite

Soos ek met 'n vorige geleentheid gewoord het, hierdie 4e kwartaal is in 'n paar opsigte 'n opeisende ervaring (nie dat ek naiewelik dink ek of ons net verby-gangers is nie). Daars hierdie effe krakerige, klam, taai en natlyf gevoel (seker soos 'n padda wat te lank in die son gebak het) aan die emosie en intellek van hierdie deel van die jaar wat 'n nasmaak (ek weet nie of dit noodwendig 'n sjokolade nasmaak is nie) in mens se mensmond agterlaat. Ten spyte daarvan is daar spesiale ervarings wat ek kon deel met mens, dier en plant.

Ek sit nou ander dag alleen langs 'n rivier (onder 'n Kiggelaria Africana), rustig besig om te mediteer, dink, bid, stoei en verwonder. Die oomblik selwers was spesiaal, maar soos ek oefen om my aandagspanne in te zoom en bewus te word van God en alles wat sy teenwoordigheid met my deel, sien ek iets snaaks en vir my buitengewoon. Daar is vier rivierpaddas (ek noem hulle sommer so, ek het my nog nooit veel aan die grillerige dinge van die lewe gesteur nie en kan net 'n plat-anna identifiseer) wat my aandag vaspak. Eers hoor ek die een se roep wat dringend, so drievoet van my, harder word. Ek soek hom of haar tot ek hom of haar mooi kon sien en ook hoe sy of haar keel opswel of eerder opblaas met die gepratery en roepery. Twee ander sit op klippe, so spoegafstand, maar dit is asof hulle kontak wil maak. Hulle lywe is reguit na my gedraai en loer my stip. Natuurkenners sal seker lag en sê, maar natuurlik, hulle voel bedreig en is met hulle hele lywe gereed om na veiligheid te spring. Maar dit was anders. Die volgende padda (dalk 'n prins, hy het nie geantwoord toe ek praat nie en ek wou nie soen nie, want ek het 'n vrou en is seker van my voorkeure) loer eers na my, so oog-hoogte bo die water. Toe begin hy nader kom en spring so vier voet weg van my af uit op die kant van die rivier. Maar hy bly nie daar nie, hy wip-spring nog nader totdat ek amper aan hom kan vat en draai homself gemaklik en toe begin hy ook loer. Ek het nie veel klere aangehad nie, maar my winterlyf-lae maak nog voorsiening vir die somer wat nog nie deur die koelte gebreuk het nie. So, daar is niks vir hulle om na te loer nie, ek bedoel lyfgewys. So sit ons, ek en die rivierpaddas. Die een praat, seker maar die ekstrovert, die ander loer mik-mik na my. Ek verstaan niks wat die praat-padda uitblaasblaker nie, en kan ook nie die ander se liggaamstaal en kyke interpreteer nie (partykeer kry ek dit wel reg na 17 jaar getroude lewe met Elise, maar sukkel meeste van die tyd). Later antwoord 'n ander praat-padda verder op in die rivier die ekstrovert hier neffens my en begin hulle 'n oor en weer kele opblaas en rasper. Ek het heeltyd gewonder wat hulle nou kommunikeer. Dalk het hulle gekompiteer wie die hardste kon roep of dalk het hulle noodseine aangestuur van een of ander paddavlei wat gesneuwel het onder 'n ontwikkelingsprogram en hoe hulle nefies en niggies daar almal die laaste padda-asem geblaas het. Of dalk het hulle 'n duet-lof gebring. Of dalk het hulle sommer net geskinder oor die paddas wat gaan opsit het, of oor my oortollige lyflae en inligting uitgeruil oor watter oefenprogram die beste sou werk vir hierdie mens-spesimen toestand.

My verwondering vir hierdie oomblik het kort-kort geskuif na die padda op die kant hier by my, wat intussen nog nader tussen die gras gekruip (letterlik) het. Dis asof hy soos 'n troeteldier onbeskaamd kom aandag soek het.

Ek het gevoel hoe ons een word, ons wat saam asemhaal en Moederaarde se oppervlak bewoon. Ek het darem nie soos 'n padda gevoel nie, want ek kan nie onthou dat ek begin het om my keel te probeer opblaas en padda-praatjies maak nie. Dit was vir my iets "unreal" en spesiaal. Ek het begin verstaan dat ek heeltyd in groter Teenwoordigheid is en God se skepping en skepsels met 'n grootsheid moet en kan respekteer en geniet. Ek het nog altyd groot waardering en sensitiwiteit daarvoor. Maar ek het die weerloosheid van my en hulle plek ingeasem

Vir die eerste keer hoor ek hoe die Diederikke die nuwe seisoen inroep. Waar ek ookal in George kom, daar hoor ek hulle roep. Dit voel vir my heel intens en gesuper-highlight. Ek hoor die Piet-my-vrou se roepe meer gereeld en ook die vriendelike helder vloeiende pooodleeo-fluit van die Swartkopwielewaal.

Ek weet dat God se Woord (soos ons dit in die Bybel het) genoeg is en WoW is. Maar as Hy moederaarde en haar spruite gebruik om te praat, is dit groot en is Sy ander Woorde meer real en naby.

Wednesday, September 21, 2011

Lipvasbyt

Ons laai vir Nehan, ons middelkind (met geen verwysing na die middelkindsindroom waaraan ons as westerlinge so verknog is), gister by die George-lughawe af, oppad na die Biathle kampioenskappe in Sofia, Bulgarye. Hy's 'n skammele vars 12 jare in sy voetspore  hier op moederaarde en voor hy deurstap deur die inklok-stasie vee hy so nou en dan skelm trane weg voordat enigiemand dit vir te lank kan sien. Dit breek my pa- en manlike hart om hom so weerloos maar ook braaf te sien vasbyt aan sy onderlip. Ek het lankal myne begin byt en meermale gewens ek of Elise kon saamgaan om daar vir hom te wees. Ek weet ook dat Elise haar onderlip so te sê deurgebyt het, maar sy is meer ekstroverties van geaardheid en het haar hart se sorge lankal in haar oë se walle begin wys.


Ons weet hy weet dat dit is hoe dit nou is. Sy kop is reg en sterk geskroef op sy mondering, gebrei deur 'n innerlike Krag wat Godgegewe is en hyself nie nou-al deeglik besef waar sy Hulp vandaan kom nie. Hy's 'n jong mannetjie met min woorde maar met baie sterk planne van dit wat hy daar annerkant die waters wil doen en bereik en selfs ook hier op Afrika-bodem


My lipvasbyt is 'n mengelmoes van opgewonde-deurnis wat my losse t-hemp ongemerk styf om die boonste helfte van bo-lyf laat span (en dit het niks met my ekstra kilo's of breedte van ingebore skouers te doen nie). Meermale het ek al my stil en hoorbare gebede gebid vir hom en weet ook rustig dat hy in God se hande is. Maar my onderlip is dunnerig en my hart klop bokspring rond. Hy's die bloed van my bloed en die vlees van my vlees.


Volgens die sms-boodskappe is hulle veilig in Sofia en was die vlug "awesome" (sy woorde en ook betekenisvol aangesien hy erg bang is vir vlieg). Ons eie emosies begin nou skuif van vasgebyte lippe na styf geknypte duime dat alles wel sal wees met hierdie jonge aardling van ons. Hoe braaf en sterk ook al, kind bly hy kind.

Spice up

Dit is kwartaal drie hier in Suid-Afrika en veles se energie is al deur die vorige kwarte van die jaar getap. Mens (die uwe) voel dit aan die lyf (wat te min geoefen is die afgelope twee maande en ekke kan niemand anders daarvoor verkwalik nie). Ek is wel deeglik bewus daarvan dat ek uit my eie selwerse subjektiewe ek-bestaan gesels en luister en obserweer. Dis 'n kwartaal in hierdie helfte van die aardbol om moed te hou en moed te skep vir die laaste kwartaal (wanneer die energie-vlakke regtig ernstig 'n tol aan die positiewe lewensuitkyk begin eis).

So paar dae gelede kerf ek vars kruie uit die tuin. Roosmaryn, tiemie, basiliekruid en marjolien (moet noem dat ekself erg ge-impreseer is deur myse afrikaniesering van die ingelse name) vir my geliefde spagetti-bollenys (eie spelling en vertaling). Met die kerf van die kruie wat in 'n bondel opgekrul is tussen my linkerhand se vatvingers, spring daar die geure van iets uit 'n anders oomblik op. Dis amper so ervaring soos van die mense wat die goeie mondspoel op TV adverteer. Dis 'n sensasie ontploffing van varsheid en reuke wat my onmiddellik inspireer om my kykers en gehoor-organe nog groter te sper. Dis 'n oomblik van vervuldheid en dankbaarheid. Dis 'n oomblik van waardering (vir kos, vir mense, vir asem, vir die mooie). Dit is soos daai een digter-singer oor Baufort-Wes singpraat......dis beautiful. Daardie aand was die bollenys (vir my) vol van die skoonheid en gawe van lewe.

Wat my agterna pla van die kruie-ervaring was dat dit net vir 'n oomblik of drie iets spesiaals was. Daarna was die reste en kwarte van die ander lewensoomblikke oordonder deur die dag-tot-dag realiteite wat die skoonheid gulsig opge-eet het. Ek wonder oor my onvermoee om die geskenk van daardie lewe-vars-oomblik in te dra in die moegmaak realiteite van die kwartaal wat ons mooikyk en goedluister spasies baie klein en beknop maak.

In my agterkop skroef daar nou 'n plan oop wat ek weet, my gaan help om so bietjie meer bruisborrels in my dagstap te kan bring. Ek dink ek moet sommernet so gereeld as moontlik van die roosmaryn by die voordeur  in die verbyhol so tussen my linker en regterhand se vingers vryf en so nou en dan (nie kosmaak-tyd) na my nuwe kruie-bakke gaan loer en dieselfde spice-up ding daar gaan doen.

Wednesday, September 7, 2011

Dis tyd vir rugby

Ek leef in 'n gemeenskap wat oorwegend wit, afrikaans en uiters versog op sport is. Dalk moet ek eerder sê dat ek meer te doen het met so 'n getipeerde samelewing, of dit nou van pigmentasie, tongval of ontspanningsvoorkeer is. Dit is hoe dit is. Selfs in dele van hierdie gemeenskap wat donkerder gepigmenteerd is, praat die meeste maar afrikaans van een of ander soort en is mal oor sport. Dit is veral een sport wat uitswel bo die ander. Atletiek trek minder aandag, krieket kan soms soos 'n uitgedroogde protea voorkom, sokker is (alhoewel 'n meerderheidsport op moeder Afrika se bodem en baie lekker) 'n sport vir tyd-invul. Swem, tennis en daai sporte is vir 'n sekere klas mense. Dan is daar natuurlik ook golf, maar dit sweep nie die nasies tot een grootse geheel nie.
Rugby is maar die koning wat vele gesprekke se inhoude vul en bepaal. Afhangende van hoe sterk die windstreke waai, sal jy iewers 'n soort taal hoor. Party praat 'n blou-taal, ander 'n oranje-taal, ander gestreep en ander swart. Behalwe as jy 'n doelbewuste besluit geneem het om nie hierdie taal te praat nie en jou willekeurige en onwillekeurige assosiasie met 'n tipe gemeenskap soos hierbo van gepraat word, afgesweer het is hierdie tyd van elke vierde jaar 'n lente wat aanbreek vol groen (bokkie-blom) verwagtinge.

Ander sporte is ook groot en indrukwekkend, maar dis  asof alles nou groener in die natuur is. Die geel van die son (effe ovalerig) is goud en as dit donker word aan die einde van 'n groen-goue dag, begin jou hart onrustig klop. Kompleet asof al die toeriste-gedrewe "haka's" van die suid-see-eilande se kant-af  'n tsunamiese pikswart polsing in jou onderbewussyn veroorsaak. Sonder dat jy dit kan help sluk jy stadiger en swaarder met die flitssekonde drogbeelde van silwervaringagtige gespierde swartgedoentes en jy hoop hulle choke-seisoen het weer aangebreek.

Ek moet maar net vir myselwers en baie mense om my begin lag. Dit is tyd vir rugby (behalwe vir die pa wat eergister met ons kinders se laaste rugby-wedstryd vir my noem dat die jaar (2011) se sport nou verby is).

Ons doen ons eie voorbereidings deeglik bepland. Ons laai wedstrydskedules af en doen haarfyn berekeninge van ons bewegings en wanneer ons op watter stoel moet sit. So asof ons vir lynstaan-ingooie oefen. Ons praat nou 'n groen-taal en alles anders moet versigtig inpas by hierdie nuwe tydsones. Dit maak nie saak of jy +2 ure of -6 ure van die Greenwich geposisioneer is nie, solank jy realisties is en jou tyd gesinkroniseerd is.