Monday, April 25, 2011

Tydhouers om my arm

My geliefde armtydhouer (normaalweg genoem 'n polshorlosie van 'n soortvan bekende naam) se sewende bandjie het twee weke gelede gruwelooslik die gees gegee (dit was sy tyd). Hoewel ek omring is deur super-tegnologiese instrumente wat saam tydhou en met een of ander grootklok iewers op 'n plek in die wereld (weet nie waar nie) gesinkroniseer word, het ek gou verlore gevoel. Die tik-tik-tik van 'n tradisionele tydhouer het ek al afgeleer om te hoor as gevolg van die digitale invloed. Maar die gerustheid om te weet hoe laat dit is, hoe laat ek is, of hoeveel tyd oor is voor 'n volgende afspraak of  "task" (behalwe vir werksgoeters, veral deesdae die op en aflaai van my kinders by allerhande dinge wat hulle moet doen) het 'n nuwe tik-tok-ritme deur my hartspiere gepomp.

Na 'n week sonder my tydhouer, onthou ek dat daar iewers in 'n kas 'n geskenk-horlosie van my pa is. Hoewel dit nie 'n bekende naam het nie, lyk dit darem of die tyd eweredig gehou word. Die gespot van my geliefde en my spruite oor die fynheid van die betrokke tydhouer wat nie pas by breedte van my skouers en die lengte van my arms nie was redelik ergelik. Maar dit was die stil-oomblikke wat klokslag gebreek word deur die tiktok tik-tik van die sekonde-afteller en my gedwing het om 'n besluit te neem. My hartslag was nie gewoond hieraan nie en het 'n ongedwonge angstigheid in my laat posvat. Daarby het 'n paar goeie vriende my uitgedaag om sonder my armtydhouer klaar te kom (ook nadat hulle die fyner armtydhouer aan my arm sien blink het)......wie het dit in elkgeval nodig om tyd te hou van die lewe se verbyvlug ......tyd vlieg vanself en het nie tydhouers nodig nie.  Skynbaar is dit baie bevrydend om sonder een klaar te kom. Ek weet een van my broers haal syne oor naweke en vakansie-tye af. So asof mens tyd se vlerke so effe daarmee kan knip om stadiger te vlieg in hierdie spesiale tye.

Vir die afgelope paar dae loop ek sonder enige vorm van armtydhouers. Die gevolge was ietwat rampspoedig (wel, ok niks lewensbedreigend nie). In die eerste plek het ek agtergekom dat ek redelik afhanklik geword van my tydhouer en 'n roetine ontwikkel het om hom nou en dan te beloer om my dag te orienteer. Ek het ook laat gekom vir 'n paar afsprake ten spyte van ander tydinstrumente rondom my (soos ek al genoem het, ek hou nie van laatkom nie, en hou nie daarvan om te wag nie). In my afhanklikheid van hierdie tydhouer, wat boonop 5min vroeg gestel is(eintlik 'n stupid idee, want ek kan myself nooit verneuk met die idee dat ek daarmee tyd kan wen nie) weet ek dat iewers weer 'n plan gaan maak vir 'n ordentlike bandjie. Laasgenoemde wat van goeie stoffasie gemaak is, kos min of meer soveel soos 'n nuwe tydhou-instrument. Ek weet ook dat ek nie my afhanklikheid moet voed nie, maar so kan dit ook nie aangaan nie........

Wednesday, April 6, 2011

Wekker wakker en helder oomblikke

Ek wonder vanoggend so met die nag-dag-klanke van kommando voels, krieke, kransduiwe, padda en iewers iemand se nagstof-hoes: Hoe word mense wakker? Wie gebruik nog wekkers of eerder, wie gebruik elke oggend 'n wekker om uit die soete skone rusritme van jou lyf (kenners sal seker se dat ons hele mens-wees dit nodig het) waaksaam vir die nuwe dag jouself op te beur vir nog 'n aftiek van die dagligtyd? Ek wonder daaroor omdat ekself oor my eie wekker-wakker vroegdag sessies begin twyfel en wat die effek daarvan op my menswees is.

Ek twyfel in die sin dat ek elke keer voor enige wekker sy/haar slag wil slaan, wakker le (ek twyfel ook oor die geslag van 'n wekker, dit hang seker af van hoe jy op gegewe oomblikke oor 'n vrou of man voel en/of hoe moeg jy is as die wekker skree of jou uitnooi na 'n mooie dag). Ek wag vir die wekker, in die somer: al swetend; in die winter:opgekrul in 'n warmhoekie van die duvet. Dit voel nie vir my reg nie.

As ek dan 'n ingeboude wekker het, moet ek myselwers nie weer aan die wekker-wag-spanning  blootstel nie. Ek gaan lekker slaap en net ingeboude-wakker-wekker word (baie egalig, nie skrik nie) in die oggend en met 'n glimlag slofpof-wankel-slaapstap na die "eerste beste ding van die dag" (alias wyle Jan Spies).

Daar is genoeg dinge in die lewe wat die adrenalien deur jou hartspier laat bokspring-bons en te veel daarvan kan nie goed wees nie. Daarom kan 'n wekker nie 'n goeie ding wees om nog ekstra adrenalien of negatiewe gedagtes in jou binneste te laat kook nie. Ek vermoed nou al meer dat die wekkers oral om (selfone, radio's en polshorlosies) te doen het met my pynigende ongeduld (oor laasgenoemde, vra maar vir my liewe vrou en lieflike kinders). Sien ek hou nie van wag nie, en as ek  die dagbreek moet inwag begin alles mos twee tree terug. Ek dink ek het die kortpunt van my draad nou raak begin vat.
So wekkers is uit. Ek dink ek het 'n helder oomblik beleef.......