Wednesday, April 6, 2011

Wekker wakker en helder oomblikke

Ek wonder vanoggend so met die nag-dag-klanke van kommando voels, krieke, kransduiwe, padda en iewers iemand se nagstof-hoes: Hoe word mense wakker? Wie gebruik nog wekkers of eerder, wie gebruik elke oggend 'n wekker om uit die soete skone rusritme van jou lyf (kenners sal seker se dat ons hele mens-wees dit nodig het) waaksaam vir die nuwe dag jouself op te beur vir nog 'n aftiek van die dagligtyd? Ek wonder daaroor omdat ekself oor my eie wekker-wakker vroegdag sessies begin twyfel en wat die effek daarvan op my menswees is.

Ek twyfel in die sin dat ek elke keer voor enige wekker sy/haar slag wil slaan, wakker le (ek twyfel ook oor die geslag van 'n wekker, dit hang seker af van hoe jy op gegewe oomblikke oor 'n vrou of man voel en/of hoe moeg jy is as die wekker skree of jou uitnooi na 'n mooie dag). Ek wag vir die wekker, in die somer: al swetend; in die winter:opgekrul in 'n warmhoekie van die duvet. Dit voel nie vir my reg nie.

As ek dan 'n ingeboude wekker het, moet ek myselwers nie weer aan die wekker-wag-spanning  blootstel nie. Ek gaan lekker slaap en net ingeboude-wakker-wekker word (baie egalig, nie skrik nie) in die oggend en met 'n glimlag slofpof-wankel-slaapstap na die "eerste beste ding van die dag" (alias wyle Jan Spies).

Daar is genoeg dinge in die lewe wat die adrenalien deur jou hartspier laat bokspring-bons en te veel daarvan kan nie goed wees nie. Daarom kan 'n wekker nie 'n goeie ding wees om nog ekstra adrenalien of negatiewe gedagtes in jou binneste te laat kook nie. Ek vermoed nou al meer dat die wekkers oral om (selfone, radio's en polshorlosies) te doen het met my pynigende ongeduld (oor laasgenoemde, vra maar vir my liewe vrou en lieflike kinders). Sien ek hou nie van wag nie, en as ek  die dagbreek moet inwag begin alles mos twee tree terug. Ek dink ek het die kortpunt van my draad nou raak begin vat.
So wekkers is uit. Ek dink ek het 'n helder oomblik beleef.......

No comments:

Post a Comment