Sunday, April 5, 2020

Bevoorreg


DNR Responds to First Wildfires of 2019 - Lake Chelan News and ...
DAG 10
Ons sit langs en om ‘n vuurtjie in die Swartberge. Die nag vou haar sterre-kombers oor ons. Die soel bergbries kalmeer en masseer die eise van die dag se woel. Die water in die bergstroom bring jou binnestrome saam by ‘n rustige bergpoel. Ons eet die kos, maar ons eet en drink veel meer as kos. ‘n Heilige liturgie gebeur vanself. En dan kom dit, my vrou se kort cantata. 

     Sy begin so: 
          “Julle! Ons is.......”. 

     Almal wat saam is weet, hoe om in te val (soos ‘n respons-lied):  
          “........bevoorreg!” 

Dis so half “Ja-ja ons weet!”, maar almal weet die waarheid lê wyd oor die berge, hoër as die sterre, sagter as die bergbries en varser as al die strome en poele.

Vanoggend weet ek steeds ek en ons almal is bevoorreg. Dit is meer as ‘n nostalgiese onthou van ‘n geliefde plek. Waar ek sit of staan of lê of trap of vat, waar ek kyk en sien, luister en hoor, waar ek asemhaal –vinnig of stadig-, waar en wat ek proe en sluk, daar bly die voorreg van lewe ‘n waarheid-filter.

As ons vorentoe dink, mag ons ongeag die Covid 19-realiteite, wat soos ‘n modderpoel is waarin almal troebel voel, steeds kies vir die waarheid van ons Voorreg.

Mag ons wanneer ons vanaand voor ons oë toemaak, en môre-oggend weer voete uit die bed sit, begin met die respons: 
Julle, ons is..............!”

No comments:

Post a Comment