Wednesday, April 1, 2020

Wonder


DAG 6

Stilword tye is noodsaaklike soort suurstof vir die mens. Vir die kop-tot-tone, binne-kant en buite-kant van die hele mens. Dit dwing ons om die wonder van sommer net wonder te herontdek.

Wonder, hier nie as twyfel of onsekerheid nie, maar as ver-wonder-d wees. Dit word die ruimte, gelaai met die potensiaal van beide die moontlike en onmoontlike, waarin ons verbeelding aangegryp kan word. Dit is ook die plek, wanneer jy lank genoeg en gereeld genoeg daarvan gebruik, jy broodnodig op jou knieë gebring word en ook opgelig word met krag en energie om die moontlike en onmoontlike te gaan doen. In beide hierdie aksie-posisies gaan jy agterkom dat jou mond oopgaan om die suurstof van wonder diep te asem. Per definisie word jy nog dieper stiller van verwondering.
 
Dit is ook hier waarin ons ons konneksies herontdek. God wat Homself in die stille wind van wonder kom wys as die getroue liefdevole en genadige Wonderwerker. Ek wat myself weer raaksien, in perspektief met lewe en dood tot die skille afval en ek respekvol verwonderd is oor hulle om my, mense, ander mense, snaakse mense, die kleur en reuk van die grond, plante, diere, goggas en die krag van wind, water en vuur.

Mag ons ‘n wonder-like dag hê!


No comments:

Post a Comment