Monday, April 20, 2020

Hond se gedagtes


DAG 25


Blykbaar is ek baie kwaai met my honde. Nee, laat ek net kwalifiseer, nie een van die drie honde is myne nie. Ek is baie lief vir honde en ek dink die honde weet dit. Dit (my voorkeur-liefde vir hulle bo ander troeteldiere) en my hare en gemoed wat soms woes staan, maak seker een of ander indruk op hulle.

In my kinderdae het ek die Trompie boek-reeks verslind en toe dit omgesit is in ‘n TV-reeks, het ek dit nie gemis nie. Een toneel wat ek altyd sal onthou was ‘n honde-storie. Trompie het gaande geraak op hulle Tuinman se hond (of so iets) en toe besluit hulle die hond moet self kies tussen hulle twee. Hulle gaan staan toe so klompie tree wegweerskant van die hond en roep en fluit gelyktydig vir die arme brak. Die hond kies toe die “regte” persoon. In my eie gedagte-gang, weet ek dat al is nie een van die honde op die werf myne nie, luister hulle in die eerste plek vir my. Om die waarheid te sê dink ek hulle is die enigste asemhalende skepsels op die werf wat tot ‘n redelike mate effektief reageer op my stem, arms swaai en versoeke.


Wanneer ons op die stoep eet mag die honde nie op die stoep saamkuier nie. Dan het hulle geleer om so paar meter weg, af van die klippie-area te gaan lê-wag tot ons klaar is. Hulle luister nogals. Die een Labrador, Mila, is seker die gehoorsaamste hond wat bestaan. Sy doen dit sommer vanself. Tigger, wel getroue ou Tigger, hy is oud en stokdoof. Hy reageer net op gebare taal en op sy eie spoed soos sy lyf hom toelaat. Hy stap dan maar geduldig (nie heeltemal tevrede nie) af van die stoep en klippies. Die jonge dame Gretjie, sy is slim, probeer domineer, energiek en ‘n uitstekende kansvatter, maar luister darem ook. Wanneer hulle dan so ent weg van ons lê, loer hulle na ons met groot aandag. Daar is sulke storie-vertel kyke, partykeer bietjie leepoogagtig en ander keer wakker en spelerig grootoog (dit hang ook af hoe warm dit is op die spesifieke dag). Dis so asof hulle ons gedagtes wil lees en ons gesprekke volg. Hulle lê-wag regtig met oorgehaalde aandag. Dan gebeur daar klokslag 'n interessante ding. As ek opstaan om iets te gaan haal of te gaan doen en dan terugkom, dan is die vier blafskepsels stertswaaiend op die stoep. Gelukkig hoef ek nie eers te praat nie, ek gebare taal net om hulle weer op hulle plekke te laat lê-wag, terug in hulle eie gedagtes in.
Dan besef ek net weer dat wanneer hulle so lê en loer (en maak asof hulle meer intellegent is as wat ons dink), dan is hulle gedagtes en my gedagtes nie dieselfde nie. Die honde se gedagtes is op twee plekke, volgens my terugkyk-mense-wysheid. Hulle wag dat ek opstaan sodat hulle vinnig kan inbeweeg vir ‘n sarsie ekstra aandag by die ander mense op die stoep. Of hulle wag dat iemand dalk ingaan en die kombuis se deur oopmaak en hulle self ietsie te ete kan kry. So lê hulle en wag, die twee Labbies baie geduldig, maar Gretjie wag whine-whine. Maar wag wag hulle.

Hond se gedagtes kry – verstaan ons dalk met iets in die rigting van agterdogtig raak , wantrouerig wees oor iets of iemand. Maar ek wil (dalk geforseerd omdat dit "my" honde is.....net ‘n grappie) "my" honde se gedagtes anders lees in terme van die hulle commitment om te wag. Hulle vertrou, terwyl hulle daar wag-lê, terwyl ons eet of kuier op die stoep, dat daar iewers in die nabye toekoms iets nice vir hulle gaan wees. Hulle is ook ok om daar te lê en wag, want hulle sien, hoor en ruik (proe ook, want iewers kort gelede het hulle ‘n paar lekke aan menslywe uitgedeel) ons daar op die stoep. Hulle lê dalk so bietjie verder weg, maar hulle is steeds deel van die kuier en saamwees. Hulle sou graag by ons, onder ons voete wou lê, dalk die geselskap so bietjie oorvat en die onderwerpe van gesprekke word. Maar hulle wag eintlik heel geduldig, maar angstig dat die inperking so gou moontlik opgehef kan word.

Ons leer verseker as deel van God se pad met ons om ook te wag. Dalk kan ons so bietjie in-tap in ons honde se gedagtes.

Psalm 130 se bid-sanger wag so:
5Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom,
ek wag op die vervulling van sy woord.
6Ek wag op die Here
meer as wat die wagte op die môre wag,
wagte op die môre.
7Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.

Mag ons vandag met vertroue wag op die Here!

No comments:

Post a Comment