Tuesday, May 25, 2010

Elke ding het sy tyd

Party mense is meer geroetineerd as ander. Sommige hou nie van roetine nie en doen alles in hulle vermoë om die roetines te breek. Hier op die duin het ek nog steeds my gewone roetines. Ek staan vroeg op (behalwe vir lyf wat seer raak van te veel bed-rus) om die res van ons huishouding aan die gang te kry. Ek maak koffie, kry die papgoed reg en jaag almal met 'n ysere dissipline uit die bed (soms vat ek dit ver deur die samajoor in my volle mag te gee) en jaag hulle aan om betyds klaar te wees. As ek verslaap of laat inlê dan is almal meesal omgekrap. Meesal gee ek nie om vroeg voor almal aan die gang te wees nie, want dit is stil en kan ek vir 'n paar oomblikke eenkant toe staan en bid en lees en dink en soms nonsense skryf. Laasgenoemde doen ek te veel en die eerste paar te min.

Dit lyk my dat roetine en orde saam gaan, dit veroorsaak 'n vaste bekende ritme waarbinne mense en alle ander skepsels kan asemhaal. Dit is seker deel van die groot Song, die Ritme van God. Roetine gee ook geboorte aan unieke ritueeltjies. As jy opstaan in die oggend is daar altyd sekere dinge wat jy doen: jy drink eers 'n glas water, sit die ketel aan, loop 'n draai (as jy op die plaas is en dis vroeg genoeg, tot by die plek wat so groen is waar jy elke oggend water ten gronde laat; as jy in die huis is, wel dus logies waar die enigste opsie is), maak koffie, ens. As jy dorp toe gaan het jy ook die dorp-toe-gaan-ritueel. Hou maar vir Morne Steyn dop (en enige ander skopper), die skop-ritueel word 'n bygeloof. Roetine is in klein dingetjies, selfs vir die visserpersoon/hengelaars. Alhoewel ek vermoed dat vir visserpersone/hengelaars geen ding klein is nie. Die regkry van hulle toerusting, wat hulle doen as hulle by die viswaters kom, die regpak van die gerei, elke ding op sy plek sodat daar nie tyd gemors word met aas aansit en ingooi nie.

Diere het ook hulle tyd en ritmes. Hulle wei op 'n sekere tyd van die dag, die veiligste tyd. Gewoonlik skemertyd. Bv. Koedoes begin klokslag teen 16:00 uitbeweeg uit die skaduwees. Diere gaan drink 'n sekere tyd van die dag water, ens. Die Kaapse fisante kom groet my elke oggend so teen 7:30, hier op die duin. Soms, meer gereeld is daar 'n Fiskaal laksman wat ook nuuskierig nadersit. Die Kwikkies kom loer by die huis in so 9:30 se kant. Die dolfyne roer die "viswaters" min of meer op dieselfde tyd van die dag en speel soms vermakerig in die duinings asof hulle vir enige surfer wil wys hoe die branders eintlik gery moet word: klim in die "swell" betyds en klim betyds uit.

Daar is 'n orde daarin wat gerustellend is. Soms doen dit die menslike spesie goed om betyds uit te klim uit 'n vaste roetine net om 'n "mini-me" adrinalien ervaring van iets anders te ervaar. Dit is goed, want dan kan jy soms rus van die meedoenlose meesleuring van 'n gewone dag. Dis eenvoudig: loop eers die draai in die oggend voor jy die ketel aansit en was heel laaste jou gesig voor jy in jou kar klim om in te val by die ritme van die verkeer. As jy inklim in jou kar (sit maar eerste jou veiligheidsgordel aan, dis die veiligste maw nie terwyl jy ry oppad na die eerste verkeerslig nie), skakel dalk eerste die radio aan en sit dan jou sonbril op. Hoe dit ook al sy, ritme en roetine is goed. Ek dink nie dit moet 'n wet wees nie, maar gee soms 'n hupstoot aan die soeke na sin in die lewe. Dit bied 'n ander tydsbril aan dit wat jy altyd doen. Die herprogrammeer jou lyf met 'n nuwe soort energie.

Vir sommige is dit (ritme, roetine en rituele) die veilige spore waarbinne hulle moet funksioneer. Daar is niks mee verkeerd nie. Vir ander is die uitdaging om nuwe ritmes te vestig. Ook dit is goed. Vakansies is so verandering van ritmes en roetines. Dis die sabbat van die gejaag van 'n ses-dae bestaan om geld te maak, naam te maak, iets in die lewe te bereik en ook kos op die tafel te sit. Elke familie se vakansie het oor weer sy eie ritmes. Jy stop oppad na die Noorde elke keer by Boufort-Wes se Wimpy vir ontbyt nadat jy, soos elke ander vakansie 6:00 vertrek het en alles reeds die vorige aand gepak was (soos elke ander keer).

No comments:

Post a Comment