Thursday, November 18, 2010

Spanwerk, malkop en afkop hoenders

Dit klink grillerig om so in die publiek van afkop goeters te praat, maar ek word vanoggend wakker met hierdie woorde wat in my kop rondtol, om heel ander redes as bloederige drome.
Om die een of ander rede dink ek terug aan my ma se broer (myse Oom en my enigste oom) wat vertel van hulle hoender-dinge daar op Marlow Landbouskool (een van die Top skole in die land.....regtig). Vir 'n uur en half in die middae is almal  in spanne ingedeel by 'n plaas-afdeling om prakties te doen, ons het die "Spanwerk" genoem. Party van die afdelings het vir groot pret gesorg, veral by die Pluimvee wanneer daar hoenders geslag moes word. In daardie dae was die slagtegnieke nog nie so tegnologies gevorder nie. Dit was maar 'n meganiese aksie wat verskillend toegepas was (afhangende van die slagter se vernuf). Die hoenders wat geslag moes word se koppe is laat waai en dan moes die manne vashou vir 'n paar oomblikke tot die oorle hoender tot ruste kom om ontveer te word. Soms het 'n paar manne per ongeluk hulle greep verloor en het die afkop-hoender daar bloederig rondgespartel (baie keer gelyk na iemand wat two-step met 'n paar slukke te veel voggies). Maar genoeg van die afkopbloedstories. Met die slagtery het die manne soms lus geraak vir gebraaide hoender. Dit was voor die dae van KFC en Marlow is 10 km buite Cradock. Die onnie sou nooit vir hulle een gee nie en hulle het ook nie geld gehad om een of twee te koop nie. Hulle sou wel een of drie mooi afgeslagte afkoppies kon laat verdwyn tot na Spanwerk. Maar in daardie dae het die gemiddelde ou nog sterk gewetes gehad en boonop is elke afkop hoender getel tot in die koelkamer. So....hierdie witvleis (of soos ernstige rooivleis eters sou praat: groente-) lus moes dus intoom gehou word.

Daar is niks wat die mensspoortrappers so inoverend maak soos hongerte en min geld nie. Soos ons altyd gepraat het in die vorige bedeling: "'n Boer maak 'n plan!" (bedoelende die ouens wat regtig geboer het en nie die witvelvloekwoord  vir almal van Europese oorsprong nie). Sit 'n paar boerklonge bymekaar en skep 'n geleentheid saam met die hongerte en siedaar.

Soos dit ook soms gebeur word van die hoenders siek en moes van kant gemaak word. Dit het ook sy eie pret verskaf vir die manne. Maar dit is nou waar die geleenthede welig begin groei het. Van die skerper ouens het die geleentheid sien wortelskiet in die simptome van die siekte. As die hoender dronkerig rondstap, al in die rondte, dan kon sy kop maar waai want die arme malkoppie se strepie is getrek en kon dalk ander hoenders aansteek. En dit wou die Onnie nie he nie. Kort voor lank was daar 'n malkop-simptoom-tegniek ontwikkel wat tot menige geveerdes se afkop gelei het. As jy die hoender se kop afdruk en haar so klompie kere in die rondte draai (ek kan nie die detail van die tegniek hier bekend maak nie) en die hoender word gelos, dan is die gevolg daarvan perfekte simptome......hoender stap dronkerig in die rondte. Ongelukkig het die Onnie snuf die neus ontwikkel toe daar heelwat hoenders van kant gemaak moes word.  Maar tot die genot van die uitgehongerde boerklonge, het heelwat malkop-afkop braaikuikens geword.

Die vierde kwartaal blues het die geneigheid om ons koppe omlaag te forseer en ons in die rondte te draai en loop ons dronkerig in die rondte teen mekaar vas. Van bo-af lyk ons geskarrel waarskynlik soos malkop-afkop hoenders in een of ander pluimvee afdeling tydens spanwerk.

As 'n klompie honger boerklonge tydens spanwerk 'n "goeie eerlike" plan kon maak, kan ons ook sekerlik saam iets kreatiefs uitdink en doen om die hongerte in ons tot bedaring te bring en nie soos 'n two-step afkop rond te trap nie. Boonop gee die Here ons genoeg van sy teenwoordigheid en liefde om kreatief-begaafd ons eie Spanwerk tyd te benut.

No comments:

Post a Comment