Monday, June 6, 2011

Dorsland

Soos wat koue fronte van binne en buite op my (en ons almal) inspeel, so is daar ook die grootse wye Dorsland-ervarings. Volgens oorleweringe het daar hardebaard mense van verskillende dele van Suid-Afrika in vorige vorige eeu, die pad gevat na iewers in Angola en toe die dorste vlaktes van onder andere Namibie met mening getref. Daar was groot swaarkry dorskry tye en is die Dorsland woord gemunt uit hulle koorstige droogmond wedervaringe. Volgens die gebede van 'n skaapwagter-kryger-koning in die Bybel is daar ook sulke groot dorstye in mens binneste wat die lewe laat uitstrek soos woestyn landskappe. Selfs dan en veral dan word jou lippe krakerig soos gebarste na-reen modderpoele en jou hart en denke 'n uitdroogde oordroog stuk biltong wat sy lus vir mooi lyk verloor het.

Met 'n sekere Liefdeskyk na mense om jou (en ook na jouselwers), sien mens die grootDors le barslip-vlak in almal se kiewe. Party van ons se dorsland is 'n dubbeldoor (buite-binne)-landskap. Maar dors is ons dors. Dis 'n groter dors as die na-nag dors van 'n groot partytjie. En omdat ons heeltyd soek na water om ons gebarste lewenslippe te salwe, word ons dag tot dag bestaan 'n soek-soek skattejag na die fontein wat selfs in droogtes die soetste water borrel.

Hoewel ons weet van 'n ander groter Koning-Herder wat vir almal in die Dorsland, die pad na die fontein van soetste ewige water wys, bly meeste van ons dorstig blindoog soek-soek deur die lewe gaan. As lipgebarste soeker sal ek altyd glo dat die Groter Dors van ons Dorsland-lewe vir altyd ons paaie met hierdie Herder-Koning kruis.
Daarom kan ek elke dag maar net bely, ek dors, ek soek, ek stap in Dorsland en elke oomblik drink ek dankbaar Water wat ekself nog nooit kon uitput uit 'n dorre aardkors bly.

No comments:

Post a Comment