Friday, March 12, 2010

Besluite oor keuses



Dit klink na 'n impressive besluit van die veelvuldige keuse kanaal se diknekke om nie die porno-keuse kanale oop te stel nie. Duisende het die afgelope tyd hande in die lug gegooi van moedelose-kwaadgevoelens. Nou is die hande in die lug van dankbaarheid.
Wat my wel nogals laat dink in 'n land met gruwelike geweldmisdaad syfers, is die min moedelose-kwaad-hande-in-die-lug veldtogte oor die geweld waaraan ons en ons kinders (en ook ons ouers) blootgestel word, selfs op die nie-veelvuldige keuse kanale. Hoor en luister mooi (ek praat maar met myself), ek voel nie goed oor enige van hierdie kale en bloederige oordaad nie, maar ons mis iewers iets van die punt.
As ek so luister en hoor en dink en wonder, dan wil ek my hande opgooi oor die vaardighede wat ons en ons kinders (en ons ouers) aangeleer het en bereid is om aan te leer, om te kies vir die goeie, die skone, die opbouende........vir die lewe.
Daar is baie realiteitsprentjies, goed en sleg. Ons kan mos kies hoe ons reageer op elkeen daarvan. Dis seker waar dat om op te staan in die publieke lewe en 'n mening te lug, 'n uitdrukking van ons keuses is. Ons is gemaak om te kies wat ons praat, wat ons hoor, wat ons doen en ons dink. Ek dink ons kan ook besluit om konsekwent te kies.

Wel dis maar hoe ek wonder terwyl die water sag neersif in die uitgedroogde Suid-Kaap en ek nou kies om my dankie-hande op te lug.....

No comments:

Post a Comment