Friday, January 10, 2014

Klere-gedrag

Die vakansie-tyd was, soos almal dit heeltyd praat: "....lekker, te kort en te vinnig verby...". Ons was op so paar plekke met die verloop van die "te kort" vakansie en oral het ek bewus geword van 'n ou en interessante tendens. Ek wil dit sommer "klere-gedrag" noem. My ervaring of eerder bewuswording het egter ou prentjies oopgemaak van my jongerdae se lewe, se klere en se gedrag. As plaaskind het ek groot geword met plaasklere, dorpklere en kerkklere (en dan skoolklere en sportklere). As ek mooi terugdink was daar ook vakansie-klere. Laasgenoemde was, indien ons seetoe was, sommer 'n swembroek en 'n t-hemp en handdoek met 'n hoed. Al die klere het lokaliteite, van nature. Maar daar is ook 'n sekere, spesifieke, gevraagde, ongevraagde, natuurlike en onnatuurlike gedrag wat in die materiaal (die tekort en oordaad daarvan), in die ontwerp, in die kleur (ek dink so), in die some en "brand" (dis nou daai labeltjie waarvoor jy so duur betaal.....ja ek weet ek almal weet, maar ek vryf dit net in die some in) ingeweef en uitgeleef.

Hierdie is nie 'n groot oordeel oor ander nie, maar 'n obserwasie van my eie lyf en ander om my se lywe, se reaksie op die klere wat ons dra, die plekke waar ons dit dra en hoe ons dit dra.

Ek gaan koop so paar eet-benodigdhede in 'n bekende kettingwinkel. Terwyl ek in die betaalry staan en (on)geduldig wag, kom daar in die middel van die dag 'n man met drafklere ingestap. Hy draf nie meer nie. Hy stap net. Maar sy stap is nie soos iemand wat dalk 'n chino-broek en blokkies-hemp met Woolies-skoene aan, dra nie. Hy loop met so ekstra hop in sy linker of regterbeen. Sy drafhemp beklemtoon die rede waarom hy draf. Sy drafbroek dateer uit Johan Fourie se tyd en het hom ook vanmelewe se tyd betaamlik gepas. Sy houding, sy lyf se reaksie op sy klere en sy ritme praat rapsodieus saam. Ek is nie seker wat nie, maar dit is hoe dit nou is in realtime. Hy lag nie, hy huil nie, hy is lewensernstig met dit waarmee hy nou besig is.

Op die strand gebeur die byna onmoontlike. Mense loop 95 persent nakend rond. Die meeste mense sy klere lyk soos onderklere. Ons noem dit strandklere vir die strand. Dis wonderlike klere. Daar is 'n hele groot ekonomiese bedryf wat dit rugsteun en ook afhanklik is daarvan. Daar is verskillende kleure, daar is sommige wat soos amper lang broeke lyk en onder 'n oorhang maag ingetou word en 'n ortopeutiese verskil maak aan die postuur. Maar dit maak nie saak watter kleur, hoe groot, hoe min, klein en petite dit is nie. Almal se houding verander sodra daardie strandklere aangetrek, oorgetrek, ingetrek en opgetrek word. Mense loop regopper. Sommige ouens se arms begin hang nie meer nie, dis asof hulle iets vasknyp in die armholtes. Soms lyk die grootte van die "denkbeeldige" voorbeeld in verhouding met die grootte van die maag. Ek spot nie en kyk nie af na hierdie postuur en klere-gedrag nie. Ek praat met groot respek. Want almal met strandklere aan het baie selfvertroue. Daar is ' n magiese effek van hierdie klere op mense se loop, sit en lê.

Daar stap 'n lang maer man doelgerig in die straat af oppad werk toe geklee met 'n netjiese broek, hemp en ontwerperskoene. Dis vroegoggend. Sy donkerbril sit effens ongemaklik op sy skraal belynde gesig. Dit is duidelik dat sy stap se hip-hop dik in sy pype, sy skoene se sole en sy bril se donkerte gebore word. Sy hemp se formaliteit gee 'n diknek-houding aan sy ekstra lenigheid wat grens aan een of belangrike ou se lyfwag. Daar is  egter geen limosine insig nie, ook nie 'n Duitste wa met getinte vensters nie. Sy arms se plek van bo-af tot langs die sye het 'n effense uit-die-loopritme heen en weer beweging. So, sy stap en klere-tooisels gaan vir die tyd saam soos 'n kat en sy soepelsag bewegings. 

1 comment: