Friday, April 23, 2010

Soos 'n boom by waterstrome

Ek lees vanoggend Psalm 1. Dis weereens so vars oorbekend, net soos die bergwater wat koud verby die wildeperkses, die taaibosse, die olienhoute en al die ander wat ek nog nie ken nie, rustig kabbel. Die water het gestyg na die lekker reën van gister en is dit ‘n sterker stroom wat boodskappe van hoop en lewe bring. Ek lees ook ‘n stuk van ene dr. James van Standford oor die doop (die doop het mos met water uit te waai). Die doop-issue het ook op Hofmeyr weereens wortel geskiet met al die Queenstown-strominge en in hierdie dokter se geskrifte vind die dopelinge hulle rus en woorde vir hulle reddingservarings. Dit is seker goed so. Ons buurman daar is onrustig oor al die aantuigings van die “regte dopers” en hy soek rus.
Ek is net self onrustig (as ek te lank na die kabbel van waterstrome, of dit riviere of branders by die see is, dan word iets weer onrustig) oor die aansprake wat ons almal maak in ons oordink van die Woord. Ek hoor die digter praat van dag en nag oordink. Maar ek dink ons verstaan nie wat hy bedoel nie. Ons (suigeling-dopers, weer-dopers, bekeringsdopers en selfs die gewoonte-dopers) dink oor die Woord, lank en aanmekaar. Dan gebeur daar iewers ‘n snaakse ding, die Woord word ons woorde, ons prentjies, ons beelde en ons lewe. Tog lyk dit vir my of dit nog snaakser en hartseerder kan raak as ons woorde en al daai goed, uiteindelik Die Woord raak wat vorm gee aan die woorde wat God gegee het om ons te vorm. Dan raak dit ‘n gevaarlike gemors (soms is sommige gemors wel goeterig, want ons kan mos recycle) wat mense uitmekaar jaag, verhoudings doodsteek, woorde vergiftig en vertroue ‘n familie-skandaal maak. En dit is nie die tweesnydende Swaard nie. En dit is nie vervolging van God se kinders nie (hieroor sal graag woorde wil mors oor ons soms masochistiese soeke en oordrewe begeerte om enige vervolging uit te snuffel sodat ons tog net as stryders en martelare onthou kan word, maar ek het klaar woorde gemors).
Ons dink elkeen ons het die waarheid beet, dalk het ons. Is dit nie dalk dat God se Waarheid ons moet beetkry nie. Dit maak ons nederig, liefdevol teenoor almal (nie net hulle wat soos ons is en dink en lyk en ruik en ryk en bly nie). Die Waarheid gee ons plek en menswaardigheid en laat ons luister en versigtig woorde kies. Die Waarheid omvorm ons om op te staan vir liefde, reg en geregtigheid, vir die weerloses, vergifnis, vir vrede en diensbaar te leef. As ons die waarheid beetkry en ons woorde is die “Woord” dan dink ons ons is magtige name wat nuwe grense stel en mure bou waarbinne en waarbuite ander moet en kan wees. Ons woorde is harder en dit kom voor of ons weet waarvan ons praat, want sien ons oordink mos die woord.
Ek kan mos nie die woord wees nie. Die Woord het wel mensgeword en onder ons kom woon. Nie om mense te laat doop nie, maar God se hart te wys en ons harte oop te maak vir God en ander (selfs vir onsself). Jesus Christus het die Koninkryk van God kom vestig nie om nuwe rituele te vestig nie (ek weet ons as mense het dit nodig om tog maar sin te maak van ervarings en gedagtes), maar onder andere om vrede te bring, reg en geregtigheid onder ons weer te laat leef en ons God se wil te laat doen (dit is omsien na die weerloses, so hoor ek Miga 6 en Matt 25).
Hier by die rivier, voel dit vir my, kan ek net groei en rus, nie as ek en ons met dogmatiese-tegniese-interpretasie-stryd-bekers God se water wil skep nie, maar met dapper-eenvoud-waagmoed die koue vars bergwaterstroom indrink (nie as besprinkelde of onderdompelde woordgeworde mens nie) en voluit kind van God (nuwe kinders van Abraham, gelowiges, christene, liggaam van Christus en nie wedergebore-christen of selfs wedergedoopte nie) kan wees. Hier langs die waterstroom staan sommige bome in die water, ander langs-effens in die water en ander so ent of wat weg. Maar almal is ‘n boom by die waterstrome. Dit is die regte plek om te wees en op die regte tyd gee hierdie bome vrugte.
(Let wel: hierdie woorde is ‘n mens-man-kind van God se woorde oor God se Woord en daarom is daar ook iewers agter elke letter, komma, punt, dubbelpunt en hakie ‘n dogmatiese-tegniese-interpretasie)

1 comment: