Tuesday, July 13, 2010

Oud en koud

Vir die eerste keer sal dit erken dat ek hier in George koud kry. Alhoewel die berge wit getop is van die sneeu/kapok (daar in die Oos-Kaap het ons dit kapok genoem), het ek altyd geglo die koue hier is nie so snyerig soos waaraan ek gewoond was nie. In die gange van die dae hoor ek gereeld van my portuurgroep dat ons nou oud raak. Ons raak vinniger onfiks (ontstellende gedagte) en vat baie langer met meer moeite om weer fiks te raak (nog meer ontstellende gedagte) en daarby begin ons vinniger koud kry.
In die jaar 1994 was ek en Elise die Opsieners by die Stellenbosch Nagskuiling en het een van die Omies daar altyd geweier om te was (nie 'n geurige gedagte en realiteit nie). Sy verweer was klokslag elke keer dat ons met die gewassery veroorsaak dat hulle hul velle afwas en boonop is die winter oppad en dan is daar niks wat hom kan warm hou nie. Dalk het hy 'n punt beet, dat hoe ouer mens word en van al die jare se gewassery het die velle so min en dun geword het en dat die nuwe velbedekkings wat oorbly of probeer herstel te dun word vir die elemente van die natuur. Saam met die feit dat mens se liggaam met die verbyvlietende dae langer vat om vinnig genoeg te herstel na 'n onfikse uitoefen episode (vir party van ons is dit jare), voel die Oom se argument al meer waterdig. Die nuwe dun velle is gewoon nie geoefen vir die elemente nie en hoe ouer, hoe langer die aanpassing terug na normale fikse funksionering.
'n Erg jong 50 jarige vriend van ons, noem Saterdag so in die filosofering oor ouderdom die volgende: "You act your age!" Ek het baie vinnig saam met hom gestem, want ek voel nog 19 en wil nog so voel. Ek weet ek is nog glad nie oud nie, al het ons op skool gedink die Ooms wat 25 jaar reunies hou is al ou ramme. Ek is volgende jaar 25 jaar uit die skool.
Ek kry nou skielik warm (nie van die wintersontjietjie nie) en my velle voel dik gejas.... Al flikker die woorde "oud en koud" sulke angstige emosies in my binneste gaan ek aanhou jonk en warm (op alle terreine) probeer bly. Al briek my vingers domkoud om hierdie woorde te tik, is dit 'n ooreenkoms wat ek gereeld met my eie lyf wil en sal maak.

2 comments:

  1. Daai berge lat my ook nou koudkry - aangesien ons die week die tweede keer die winter n rekord temperatuur van 6grade gehad het - nou sal ek ook maar vanaand se bad skiep - hie-hie-hie...

    ReplyDelete
  2. Bad twv almal om jou, maar moenie te hard oor die velle vrywe nie

    ReplyDelete