Thursday, August 12, 2010

"Flat" Coke

Ek weet nie of dit die ou mense is nie, maar iewers het die geloof in flat Coke as 'n toniek vir maagkrampe ontstaan. Ek dink nie dis die ou ou mense nie, want hulle het net bossies en kruie gehad en Coke was nog nie daar nie. So dit moet die nuwe ou mense wees wat so glo. Of dit regtig werk, die weet ek nie. Al wat ek weet is dat ek nie daarvan hou nie. Coke wat flat geword is nie lekker nie.....klaar....punt. Daarom moet dit seker medisyne wees, want medisyne is nie lekker nie. My punt is dat ek van min mense weet wat doelbewus flat Coke sal drink om dit te geniet. Hou maar hulle gesigte ook dop as hulle sulke borrellose koue drankie afsluk. Ek verstaan ook dat smaak verskil, maar Coca Cola se maatskappy sou 'n spesiale lyn uitgebring het wat bekend kon staan as Flat. Maar hulle het nie.
In sommige Ingelserige lande soos die US of A praat hulle van 'n flat, bedoelende 'n papwiel. In ander Ingelserige lande noem hulle 'n papwiel iets anders (ek kan dit nie sommer so probeer spel nie, want daardie deel van my brein is nou bietjie flatterig al weet ek dit is 'n maklik een om te spel). Maar 'n flat is 'n flat. So ook Coke wat flat is.
Die afgelope week het ek so borrel-gaslose tyd beleef (met 'n borrel-volle-lewe bedoel ek nie die cloud nine storie nie). Dis soos die flat Coke ervaring. Ek hou nie daarvan nie en wil nie daardie beker drink nie. Dit is nie 'n depressie ding nie. Dit is eerder dat ek iets so 'n tipe bewussynlose week beleef het. Ek het nie geluister en gekyk nie. Dit was asof ek nie kon nie. Dis soos 'n droee bergwind wat alles in jou plat maak. Alle gas word uitgeskud. Vir myself voel dit dan of alles wat ek wel hoor en sien en selfs proe, soos 'n glas flat Coke is. Al is jy dors, bly dit nie lekker. Jy sluk omdat jy dors is, maar dis flat.
Die bietjie wat ek kon hoor en sien was dat ek saamstap met ander mense en by hulle dieselfde ervaring beleef. Party erken dit, ander wil dit nie erken nie. Mens hoor dit in hulle woorde en sien dit in die spore wat hulle sleep-sleep trap. Mens sien hoe hulle (ons) halfhartig werk, gasloos (dit is liefdeloos of mensloos) met ander omgaan en ook met 'n kamma-borreldans ander probeer mislei. Mens sien dit in beide die brose-weerlose commitment en ook die totale gebrek aan commitment. Hoe ons ook al sluk, dit bly 'n flat-bestaan.
Ek is deeglik bewus van al die(dalk eerder die meeste) goedbedoelde vinnige "goeie" antwoord-oplossings. Ek is ook baie seker dat al hierdie sogenaamde oplossings nie 'n kits-Gas-ervaring van die lewe bied nie. Al wat ek weet is dat ek nie van flat Coke hou nie, maar ook dat ek met alles in my moet en kan commit tot die Lewe om deeglik en goed te Luister en Kyk. Daar is vir myself (en ek is seker vir ander mense ook) baie oorsake vir die gaslose-Coke ervarings. Ek weet ook verder dat ek eerlik moet wees hieroor. Wat ek wel ook weet, nou, is dat ek lewe en dat dit opsigself beter is as enige selfgemaakte  Sodastream gaskoeldrank (daardie soort borrel-cola het ook nooit vir my na die ware jakob gesmaak nie). Ek lewe nie omdat Ek lewe nie, die is mos lankal dood. Ek lewe omdat dit God se groot geskenk is. Maar soms, soos die afgelope week, het my soeke na woorde om hierdie lewe te bewoord en celebrate doodgewoon nie gebeur nie.
Al wat ek nou weet is dat ek van vooraf weer moet Luister en Kyk, want dit was nog altyd 'n Goeie ding.......vir my...

No comments:

Post a Comment