Thursday, August 5, 2010

Om jou "plek" te kry

Dit is 'n groot irritasie as jy jou plek in 'n boek te verloor. Jy het dalk so vae idee tot waar jy laas gelees het en kan selfs tot op die bladsy kom waar jy verlore geraak het en dan kom daar die fyngescan om die paragraaf en sin te kry waar jy was. As jy jou plek kry, is dit so kop-op-die-kussing-inwikkel-lekkerte-ervaring wanneer jy weer begin lees. Dis 'n ander tipe frustrasie as jy jou plek in 'n ry verloor. As jy 'n kind is en die ry is vol kinders, dan is die kans om jou plek terug te kry skraler as rietskraal. Volwassenes het hopelik so bietjie meer maniere en takt geleer en is die kans bietije vetter as die riet om weer plek te kry. My gevolgtrekking is dat ek altyd die hoop het dat 'n mens wat plek verloor het weer iewers op 'n reendag die spore in die modder terug na sy plek sal opspoor.
Daar is egter 'n ander soort plekverloor wat my maag drie draaie gee en met 'n rock-konsert-onrustigheid laat. Hierdie is my eie gevolgtrekking nie van akademiese of wetenskaplik geverifieerde soort nie. Ek het so bedompige sinusagtige vermoede dat ons as menslike spesie ons plek hier op die skepping verloor het. Op 'n teoretiese en selfs godsdienstige vlak is daar baie kennis oor hierdie plek van ons. Ons het selfs in die Christelike geloof 'n deeglike teologie hieroor. 

Simptone: besoedeling, oorbeweiding, ontbossing, uitsterf van diere en plante as gevolg van .......
Soms lyk dit of ons nie weet wat ons soek nie, want ons soeke na rykdom, na nog, die soeke om die onuitblusbbare onversadigbare drang na groter beter en in beheer wees, lei tot 'n verlies aan die vermoe om te luister (hoor), te kyk (sien) en te voel. Ons raak gedisorienteerde asemhalers wat alles en almal om ons uitput ........ ons het plek verloor. Ons soek ons plek, maar ons soek dit verkeerd en op verkeerde plekke. Dit word in baie gevalle uiteindelik 'n toegesmeerde magspeletjie tussen mens en mens. Die res van die skepping word fyngemaal in die stof van hierdie soort soeke na plek. Vir my het magspeletjies op enige vlak van lewe nog altyd geruik na 'n oneffektiewe rioolplaas wat orals uitlek en besoedel. Magspeletjies is soos besoedeling, nee dit is besoedeling. Jy sien soos bv met enige besoedelde rivier die gevolge daarvan eers op 'n ander plek, laer af uit die sig van hulle wat harteloos besoedeling veroorsaak.
Baie kere verloor ons ook ons plekke omdat ons doodgewoon te lui. Ons ly aan 'n soort leunstoel-aartappelsak-sindroom. Dit vat te veel moeite om ons plek te soek en dan voluit daar te leef (dalk weer eendag later praat hieroor)
Oral is daar "groot"mense wat probeer plek soek en plek maak en ander aanmoedig om vir mekaar weer plek terug te gee, maar dit lyk na 'n hopelose ding. Die verlies aan ons plek op die aarde en in die kosmos het baie redes, maar ek dink baie daarvan is dat ons soos redelose diere tekere gaan om een of ander legacy te bou. 
Ons het nie net plek verloor nie, maar ook hart verloor (ekologiese moraliteit).  Een van die Suid-Afrikaanse teoloe (Ernst Conradie) wat vir die kerk telkemale 'n ekologiese skrefie wil oopmaak, skryf in 'n artikel  "The Earth in God's economy" oor die mens se geskiedenis (storie) wat ingeweef is in die ganse kosmos en die weerlose plek wat ons inneem, soos volg (hy gebruik hier 'n ander skrywer se woorde):   "Tim Cooper notes that the place of humans within the earth community may be understood in terms of two metaphors. We may function as the nervous system of the organism that can register and respond to any pain impulses that threaten the organism. Alternatively, humanity may form a colossal, cancerous growth that threatens the survival of the whole ecosystem....(See Cooper 1990:150-1. These metaphors are derived from Peter Russel’s book The awakening earth)

Ons sal weer ons harte moet soek en ons eie plekke nederig moet bewoon. Een van die beste plekke om hiervan bewus te word is buite in die veld, tussen diere en plante. Daar waar ons anders die klanke kan hoor, die grond kan voel en ruik, die plante en diere leer respekteer en bewonder en die wind nuut oor ons voel waai. Ons het dit broodnodig, nie net terwille van alle ander skepsels nie, maar terwille van ons eie sinvolle bestaan en mede-voortbestaan.
Ek weet ek moet by myself begin en baie meer onder 'n boom gaan sit en kyk en luister........





No comments:

Post a Comment