Tuesday, August 31, 2010

Vrae en antwoorde

My kop hak vandag vas by 'n ding waaraan ek myselwers nou gaan skuldig maak. Hoekom werk ons koppe met 'n vraag-en-antwoord-sisteem? 
In die Woord is daar wel Job-se-gewonder, so paar van die Psalms-se-gebiddery, die dissipels-se-dowwe-dolla-momente, ens. Maar verder is die Bybel vol verhale (van 'n volk wat volheid gefees en gevou het, van ouens wat gelowig praat oor drome, ander wat slimwoorde het, ander vertel die Jesus-storie, sommige skryf briewe) maar nerens is daar 'n Q&A-afdeling wat alles van die lewe maklik maak (antwoord) nie. Met dit alles wonder en vra ons elke dag en soek antwoorde. Kyk maar hoe gewild is Wikipedia en ek sien daars deesdae ook ande wiki's (wikihow, wikianswers, wikispace en nog 'n hele internet vol). Eintlik wonder ek maar net, want ek kan en wil nie te diep ingrou in my grysstowwe nie......ek het gisteraand te hard geval met 'n touchie-wedstryd saam 'n klomp jong(er)manne en dan het ek ook nog littekens oor van my eerstejaar by US met die vak Logika (Filosofie onderafdeling).

Logika was vir my soos sin, cos en tan op skool. Ek het altyd net gemaak of ek weet wat aangaan. Soms het ek regtig probeer weet, want ek moes 'n punt kry om deur te kom. Dan het ek maar vrae gevra (net soms want ek wou nie dom klink nie), ander ouens se vrae in ou vraestelle bewerk met moontlikke antwoorde en selfs probeer luister wat ander ouens vra (die slim ouens se vrae was gewoonlik slim vrae en kon ek lekker parasiteer op hulle vrae en antwoorde wat gevolg het). Volgens sekere reels oor elke vakgebied, was my antwoorde reg of verkeerd.

Wanneer die vraag-en-antwoord-ding binne verhoudings in werking kom, skop 'n ander strorie in. Dit voel vir my dat die reels van hierdie vakgebied anders benader en verstaan moet word. Vir verliefdes is dit 'n lekker ontdekkingspeletjie. Met ou getroudes, familie en gewone vriendskappe word dit 'n versigtige, emosionele en veelkantige bestaans"risiko". As ouers vrae aan hulle kinders of tieners (veral lg) vra en sekere antwoorde verwag, is dit  frustrerende momente. As getroudes dit doen, is daar baie op die spel. Die stemvolume, die pitch van stem, die pouses tussen elke woord, die kyk in die oog, die liggaamshouding en die mood van elkeen is maar net 'n paar faktore wat my gedagtes laat hakkel.


Vandag wonder ek maar net weer en vra hier aan die voet van die mooi berg vir myself hierdie vraag en weet ook ek wil eerder versigtig wees met (maklike)antwoorde en ook versigtig en sensitief moet omgaan met almal wat saam met my asemhaal.

No comments:

Post a Comment