Thursday, September 2, 2010

Lente en bome

Dit is heerlike lente......hoe gaan daai ou liedjie? Vandag was dit weer-gewys 'n goeie Lentedag. Sonskyn en bome wat begin bot. Hier's min vrugtebome, so ek kan nie van bloeisels getuig nie. 
Grootwordtyd het die Lente een van die lankverwagte ingelei......die eerste Lente-reen. Dit het vir ons niks anders beteken as die hekke wat oopgemaak word na ons swemdam op die plaas. Ons mag eers swem as dit gereen het na die winter, maw die eerste Lentereens. Ons het begin bewe van die wag en my Ma het swaargekry om ons weg te hou van die dam. Na lekker winter koutes (en al die lekker wintergoed soos jag en kaggel en biltong en jag en ....)  is daar niks so volledig soos die eerste swem van die nuwe seisoen nie. 

Ek dink nie ek gaan baie vinnig in die water plas hierdie jaar nie. Nie noodwendig van die Lentereens wat laat kan wees nie, maar dis net nog te koel oor my winterlyf en die velle is ook mos al dunner van die jare se verweer. Ek hou van swem, maar deesdae kyk ek meer (na my kinders se swemmery) as wat ek myself toelaat om te waag. Dit maar eers daar gelaat.

Lente is tyd om die potensiaal van die seisoen en die lewe te benut. Die uitloopsel op die takke en die feestelike bloeisels skop enige donkerwolk gedagte na 'n nuwe rat oor. Daarom is die Boommense (nie die soort wat gerook kan word nie, regte bome) so ernstig om in hierdie maand bome te plant. Selfs die maan lyk reg volgende week. Mens hoef nie vir die eerste Lentereens te wag en ook eers 'n waterlafenis te doen nie. Plant net 'n boom, want dis lente.

No comments:

Post a Comment