Thursday, June 24, 2010

Vuvuzela-bloos na blaas

Vandag het ek teen wil en dank van my geliefde, vir my 'n Vuvuzela gekoop. Hy/sy is  gekleur met die kleure van Brasilie. Ek kan nie besluit of die Vuvu 'n hy of sy is nie, want dit is nie 'n dit nie. Na Bafana is Brasilie my span, net omdat ek hou van die vorige wereldklas speler Ronaldo en omdat dit 'n Suid-Amerikaanse span is wat hierdie rondebalspel so passievol leef en speel. Ek is nie 'n musikale kalant nie en het dit my so paar privaatgeslotedeur-sessies geneem om agter die kap van die byl te kom om hierdie selebrasie-instrument tot sy/haar reg te laat kom. Die blaasklanke wat ek voortbring klink nie so dringendoorverdowerend soos die skares in die stadions nie, maar blaas gaan ek hom/haar blaas (dalk meer in my private hoedanigheid). Hoe meer ek blaas, hoe minder selfbewus word ek. Ek het in die eerste drie blaaspogings myself gevang dat ek bloos (nie blaas nie). Ek het totaal magteloos gevoel oor die soort klank wat so pofadder-agtig uitkom. Dit het darem gepaard gegaan met 'n vrypostige laggie. Na 'n hele paar uitasem pogings, met vasberadenheid en 'n bo-aardse rustigheid, het die liptegniek ewe skielik gebeur en kon ek my ore nie glo. Elke blaas daarna het effe beter gegaan en was weer onkeurbaar vergesel met 'n giggelopgewondelaggie. Volgens navorsing is dit gesond om te lag daarom het ek geweet hierdie was 'n goeie ervaring. Ek is nie 'n klankkalant nie en is hierdie blaas-selebrasie 'n oorwinning van 'n ander dag. Alles het nog agter 'n toe deur gebeur en ek het daar uitgestap asof "niks" gebeur het nie en as iets gebeur het, dan het ek hierdie rondte met my Vuvuzela gewen.

Soos ek wegstap van die geslote sessie en my Vuvu trots gaan staanmaak op my lessenaar, besef ek daar is rede hoekom mens nie die vuvuzela's alleen blaas nie. Om fees te vier kan nooit regtig alleen gebeur nie, daar is ander asems en klanke nodig. Maar vir my was hierdie geslote blaas-selebrasie goed, dalk gaan daar nog sulkes wees. Tog weet ek kan dit ook great wees om saam met ander te blaas-bloos-lag. Alleen of saam, maak nie vir my saak nie. Ek het my Vuvu......

No comments:

Post a Comment