Monday, June 7, 2010

Stof en roes en fietsry en Wind

Na 'n lang breek en weg van enige prekerig-situasie (behalwe vir my kinders) was Sondag en verlede week 'n grootse uitdaging om my roes en stof van ontslae te raak. Dit is nie net met die voorbereiding en saam-wees in die eredienste van Sondag nie, maar dit was en is ook in my persoonlike ruimtes.
Wat die eredienste betref kan mense seker reken dat dit soos fietsry is. Vra maar vir enigiemand wat na 'n langtyd weer op die saal van 'n fiets klim en enige bult en afdraand aanpak. Behalwe vir die pyne onder en in jou boude en bene is die melksuur eers regtig aan die werk twee dae later. 'n Vriend noem nou ander dag dat om nuwe gewoontes aan of af te leer neem ongeveer 30 dae van aanhou. Dit maak vir my sin en besef ek dat ek gelukkig geen keuse het as om aan te hou nie.

Op my bergfiets in my stowwerige garage is die stof nog dik, en van die staan by die see het daar ook roes ingeslyp. My studeerkamer en garage is op lys om goed afgestof te word en enige verwering uit die weg te ruim. Dit moet en gaan nou alles gebeur tot groot vreugde van my vrou.

Ek besef ook dat hierdie afstop, ontroesing en selfs op die saal-klim ervaring dieper loop as net 'n paar domestieke (my skepping, weet nie eers of daar so woord bestaan nie) ruimtes. Om onder die boom te leef, sny altyd dieper want daar is 'n groter Wind wat verby trek. En dit is 'n goeie en uitdagende ervaring. In so pad is daar altyd die soms spanningsvolle momente van keuses wat gemaak moet word: Wat om net af te stof, wat om weg te gooi en wat moet aangepas word om meer leefbaar te leef en saam-leefbaar te wees? Dit is die journey van my tyd.

Iewers sal die erediens-melksuur en roeserigheid en dik lae stof minder raak en sal ek dalk minder uitasem van die saal kan afklim. Die Asem-Wind van God waai nog altyd en waai op Sy manier goed in elkeen van ons......ook in my.

2 comments:

  1. welkom terug inni saal. gelukkig hoef jy nie te worrie oorie 30 dae se herhaling nie, want dis nie nuwe gewoontes nie, maar slegs goedgevestigde oues waarmee jy net wee inpas moet kom. hoop allie poefies van voor jou verloftyd het nou goeie kompos geword om diep gespit te word vir lekke tuin maak in God se akker... Sterkte Outoppie - o ja daai melksure - jy vat hom bydie karring en jy maak hom die soetmelkkaas, dan hy es nie meer die suurmelk nie....

    ReplyDelete