This blog is part of my journey with God, my family, and anyone and anything else. It is, I believe, a time of crossing borders and growth. To be in the shade of any tree is always refreshing and a creative space
Monday, April 25, 2011
Tydhouers om my arm
Na 'n week sonder my tydhouer, onthou ek dat daar iewers in 'n kas 'n geskenk-horlosie van my pa is. Hoewel dit nie 'n bekende naam het nie, lyk dit darem of die tyd eweredig gehou word. Die gespot van my geliefde en my spruite oor die fynheid van die betrokke tydhouer wat nie pas by breedte van my skouers en die lengte van my arms nie was redelik ergelik. Maar dit was die stil-oomblikke wat klokslag gebreek word deur die tiktok tik-tik van die sekonde-afteller en my gedwing het om 'n besluit te neem. My hartslag was nie gewoond hieraan nie en het 'n ongedwonge angstigheid in my laat posvat. Daarby het 'n paar goeie vriende my uitgedaag om sonder my armtydhouer klaar te kom (ook nadat hulle die fyner armtydhouer aan my arm sien blink het)......wie het dit in elkgeval nodig om tyd te hou van die lewe se verbyvlug ......tyd vlieg vanself en het nie tydhouers nodig nie. Skynbaar is dit baie bevrydend om sonder een klaar te kom. Ek weet een van my broers haal syne oor naweke en vakansie-tye af. So asof mens tyd se vlerke so effe daarmee kan knip om stadiger te vlieg in hierdie spesiale tye.
Vir die afgelope paar dae loop ek sonder enige vorm van armtydhouers. Die gevolge was ietwat rampspoedig (wel, ok niks lewensbedreigend nie). In die eerste plek het ek agtergekom dat ek redelik afhanklik geword van my tydhouer en 'n roetine ontwikkel het om hom nou en dan te beloer om my dag te orienteer. Ek het ook laat gekom vir 'n paar afsprake ten spyte van ander tydinstrumente rondom my (soos ek al genoem het, ek hou nie van laatkom nie, en hou nie daarvan om te wag nie). In my afhanklikheid van hierdie tydhouer, wat boonop 5min vroeg gestel is(eintlik 'n stupid idee, want ek kan myself nooit verneuk met die idee dat ek daarmee tyd kan wen nie) weet ek dat iewers weer 'n plan gaan maak vir 'n ordentlike bandjie. Laasgenoemde wat van goeie stoffasie gemaak is, kos min of meer soveel soos 'n nuwe tydhou-instrument. Ek weet ook dat ek nie my afhanklikheid moet voed nie, maar so kan dit ook nie aangaan nie........
Wednesday, April 6, 2011
Wekker wakker en helder oomblikke
Ek twyfel in die sin dat ek elke keer voor enige wekker sy/haar slag wil slaan, wakker le (ek twyfel ook oor die geslag van 'n wekker, dit hang seker af van hoe jy op gegewe oomblikke oor 'n vrou of man voel en/of hoe moeg jy is as die wekker skree of jou uitnooi na 'n mooie dag). Ek wag vir die wekker, in die somer: al swetend; in die winter:opgekrul in 'n warmhoekie van die duvet. Dit voel nie vir my reg nie.
As ek dan 'n ingeboude wekker het, moet ek myselwers nie weer aan die wekker-wag-spanning blootstel nie. Ek gaan lekker slaap en net ingeboude-wakker-wekker word (baie egalig, nie skrik nie) in die oggend en met 'n glimlag slofpof-wankel-slaapstap na die "eerste beste ding van die dag" (alias wyle Jan Spies).
Daar is genoeg dinge in die lewe wat die adrenalien deur jou hartspier laat bokspring-bons en te veel daarvan kan nie goed wees nie. Daarom kan 'n wekker nie 'n goeie ding wees om nog ekstra adrenalien of negatiewe gedagtes in jou binneste te laat kook nie. Ek vermoed nou al meer dat die wekkers oral om (selfone, radio's en polshorlosies) te doen het met my pynigende ongeduld (oor laasgenoemde, vra maar vir my liewe vrou en lieflike kinders). Sien ek hou nie van wag nie, en as ek die dagbreek moet inwag begin alles mos twee tree terug. Ek dink ek het die kortpunt van my draad nou raak begin vat.
So wekkers is uit. Ek dink ek het 'n helder oomblik beleef.......
Thursday, March 17, 2011
Streskomplot
Neem nou maar die stres wat al die voorbereidings vir 'n vakansie op jou bring. Veral dat jy nie betyds alles gepak gaan kry nie, of dat jy nie alles wat regtig nodig is gaan onthou nie, of dat al die dinge vir jou bestemming uitgesorteer is, of jou rammelkasworry of jou motor dit gaan maak en ook of almal dit darem sal geniet. Wanneer jy uiteindelik by die bestemming is, met 'n versnappering in die hand na al die uitpak en uitsorteer, almal op hulle plekke en gelukkig, dan en net dan pak daar iewers 'n onheilswolkie oor die saligheid wat jy beleef as jy die kinders sien speel en jy wonder: "ek hoop nie die kinders kry seer of tel 'n bloederige wond op nie!". Of na 'n ruk besef jy dat jy seker al die vuur moes aangesteek het om vroeg te braai, want almal is moeg. En so word jou salige vakansie die somkomplot van allerhande onbenullige klein stressortjies.
Eintlik is ek 'n rustige ou, so glo ek meeste van die tyd. Maar dit is daardie ongenoemde, onbeskryfde, onsigbare klein chiwowa-keffer aksies van die lewe om my, wat hier binne my introvertiese bestaan opbou tot 'n groot boerboelagtige ongemaklike stresvlak. Omdat ek nie hou van stres nie (ok, wie hou daarvan, maar vir my veroorsaak dit blindheid en doofheid), wil ek soms glo ek dat daar 'n streskomplot ingeskryf is in die lewensplan. Die blote feit dat ek dit so praat, laat my besef hoe ver ek al heen is. Dit klink na 'n ge-eggo van die jare 80 van die vorige eeu met die rooigevaar en totale aanslagte. Ek hou nie hiervan nie.
Ek weet eintlik baie goed dat ek die hoofteler is van hierdie knaende gevoel. Ek wou nog altyd Boerboele geteel het (het al jare gelede dit ook gedoen), maar hierdie keffer-bestaan is nie my idee van teel nie. Daarom weet ek ook dat ek en ek alleen hiervoor moet instaan, want die lewe gaan aan en wag nie vir die son om te sak of op te kom en dalkies tussen lig en donker 'n oomblik te verwyl vir almal om net 'n slag by te kom nie.
Monday, January 31, 2011
Stywe nekke en houdings
Jy is in jou twintigs en het in die groter wereld jou diknek onwillig halfpad verloor, daar is ouens en vrouens met baie dikker nekke as jy. Jy loop ook meer gemaklik in jou eie spore, en die kyk in jou oe se silwerblouwolke het 'n donker rant. Werk is al skaarser en jy moet settle en allerhande skulde begin betaal.
In jou dertigs (wel 'n lekker tyd van mens se lewe) is jy so besig om te bestaan en die ritmes van 'n nuwe handeklap op te soek (die goedkeuring van jou base in die note van jou bankbalans) dat jy selfs dan nie eers jou houding bewonder of bevraagteken nie.
Iewers in jou veertigs, sien en beleef ek, besef jy jy het 'n keuse. Jy het jou eie woorde en menings en word vry om dit bekend te maak sonder om te veel oor die handeklap te wonder. As jou nek styf voel, moet jy dokter toe gaan vir 'n ernstig ondersoek, want die grootheid van die lewe het jou al met sagte-growwe hande losnek gemasseer (en dit gebeur nog steeds).
Party van ons het egter stywe nekke eers later in ons lewens gekry en dit het tot op hul oudag nooit weer losgeraak nie. Seker maar die rimatiek of iets. Party het stywe-nek-houdings van geboorte af omdat dit in hulle familie se genetika vasgeteel is. Ander hunker oordrewe na sulke nekke en besef nooit die skalkse spotlag van almal wat verby hulle leef nie.
Houdings is dieper in ons lywe as ons nekwerwels, ruggraat, arms en bene. Dit is die klop van jou hart, die waarde-grense van denke, dit is ook die ligtheid (of swaarheid) van jou spore hier op aarde, dit is die ruimte wat jy skep in jou saamwees met ander vir ander, dit is die maklikheid van jou lag en groet.
Ek dink tog.....die styfheid (dis nou die mediese geval nie) van jou nek en houding bly 'n keuse en iets waaroor ek myselwers harde dinksessies moet hou.......
Tuesday, January 11, 2011
Ratwerk van voorentoe en agtertoe
‘n Ruk terug het ek vertel van Oom Sambok (die Shangaan Veldwagter in die Kruger Wildtuin saam met wie ek daar langs die Olifantsrivier gestap het) se opmerking oor stappery:”Terug is ver en voorentoe is naby!”. Iets daarvan het ek ervaar, nie met stap nie, maar met ons geliefde Condor. Met Saterdag se aankoms op De Uitvlucht wil ek tru-ry om die waentjie te parkeer sodat ons kan aflaai. Die volgende oomblik, met die los van die koppelaar en versigtige voet op die brandstofpedaal, is dit ‘n geklak-klak, twee tree tru en toe ‘n gekrrrruuuu sonder enige beweging. Klink soos ‘n eend wat die hond se been ingeslurp het. Ek dog eers dis net ‘n misgisting (die Condor loop met ‘n maand oue nuwe koppelaarplaat en ‘n dag oue nuwe cv-joint), maar na ‘n paar probeerslae kom ek agter die ou Condie het ‘n iewers ‘n groot mistasting in sy ratwerk of is dit eerder sy gebit. Maar ek is nie seker wat dit is nie. Al wat ek weet is dat ek nie kan agtertoe beweeg sonder die gansbeengeklak nie. Alles agtertoe of terug voel meteens baie ver en tokkel my geduld se snare totdat dit breek (daaroor mag ek nie in die openbaar praat nie as gevolg van persoonlike redes). My geliefde vroulief se woorde word soos haastige swaeltjies wat verby my swiep sonder dat ek dit mooi kan behoor, selfs nie eers die beste gehoor-gedoentes sou kon help nie. My kop is te bewolk en die hare op my lyf staan alles reggop soos ‘n verweerde maanhaar-leeu in die droe lope van die Olifantsrivier se sytakke. Onheilswoorde spat deur my toegekettingde mond en hulle blitsgeslypte kante steek diep in alle vlees rondom my. Die bewolkheid in my kop maak my eintlik dofkop want toe die waentjie afgly teen die se kleinvoorste wieletjie en ek die swaargelaaide ding optel met die eenhand en die wiel se skroef met die ander hand vas maak (dit was eerder dom leeukop hand-bewegings) en toe ook sommer dit opdraend staanmaak op die regte plek, toe reageer my tussenribgespiertes en rugvleise op ‘n baie realistiese wyse. Saam met hierdie skiet-skeur-pyne slaan Oom Sambok se woorde soos reuse slagtande in my woeskop vas. Ek kon nie toe al daaroor glimlag nie, was of te kwaad of te trots……
Die pad gister terug George toe om die Condor se ratwerk te laat diagnoseer was ver, al het ek dit vinnig gery. Die diagnose, later gistermiddag, dat twee tande van die tru-rat nie meer met ons is nie, het die tyd tot nou toe ook ver gemaak. Hoe kan tyd ver wees? Ek sit hier in die huis en my vrou en kinders (en een hond) sit in die berge en ek wil by hulle wees en ook daar wees en nie met ‘n aftand Condor sit nie. As dit net vir tandestop was, sou ek seker al amper kon ry, maar daar moet nuwe tande ingeplant word. ‘n Hele desektering van die Condor se gebit. As alles klaar is, weet ek gaan die pad voorentoe lekker naby wees, want ek glo vir Oom Sambok, hy is ‘n wyse man wat deur die tyd en natuur geletter is.
Kersfees 2011 en Oujaar 2011 voel vir my heelwat naby, so byvoorbaat mooi wense en mag al die ratte mooi vat……
Friday, December 24, 2010
Binnelanders, Kuslanders en Uitlanders, tongvalle en Kerstyd
Bloot op grond van hoe jou tong val, kan mens agterkom waar jou voete op die aarde val. Soms is dit 'n goeie ding want dan kan jy as mens-mens, voor God en saam met ander, sensitiewer met jou voete staan en ekstra moeite doen om beter te praat en te luister. Maar ander kere is dit nie 'n goeie ding nie. Vat nou maar as die November-blues jou beetgekry het. Dan is jy min lus vir selfs die spoortrappers in jou eie huis, wat nog te se van die ander wat met 'n binnelandse of uitlandse tongval jou gehoorruimtes betree. 'n Langtou by 'n winkelsentrum maak jou vinniger ge-irriteerd met hierdie ander klankmakers (om nie van die beperkte spasie op 'n nie-reenerige dag in die branders van Vicbaai te praat of die oor-besige strate vol anderse nommerplate nie en die parkeerkaartjie omdat jy nie kon plek kry in 'n "wettige parkeerarea" nie). Tongvalle kan dus tot misverstande lei, tot 'n oningeligde meningsvorming van ander sonder om hulle harte te hoor.
Ons is meesal maar vinnige om ons ore te spits as ander mense se tonge wat anders as ons eie val.
Kerstyd is juis 'n tyd wat ons harte en ore groter wil oopmaak om meer plek te maak vir ander en sagter te luister na ander se klanke.
Mag elkeen hierdie volgende paar dae en in die nuwe jaar, hard oefen om ongewone of net anderse klanke van ons mede-spoortrappers met 'n onverdiende goedheid te ontvang en die grense van die lande wat ons skei, af te breek.
Mag almal 'n Feestyd saam en alleen beleef en in die nuwe jaar in die goed en sleg met liefde reageer.
Thursday, November 18, 2010
Spanwerk, malkop en afkop hoenders
Om die een of ander rede dink ek terug aan my ma se broer (myse Oom en my enigste oom) wat vertel van hulle hoender-dinge daar op Marlow Landbouskool (een van die Top skole in die land.....regtig). Vir 'n uur en half in die middae is almal in spanne ingedeel by 'n plaas-afdeling om prakties te doen, ons het die "Spanwerk" genoem. Party van die afdelings het vir groot pret gesorg, veral by die Pluimvee wanneer daar hoenders geslag moes word. In daardie dae was die slagtegnieke nog nie so tegnologies gevorder nie. Dit was maar 'n meganiese aksie wat verskillend toegepas was (afhangende van die slagter se vernuf). Die hoenders wat geslag moes word se koppe is laat waai en dan moes die manne vashou vir 'n paar oomblikke tot die oorle hoender tot ruste kom om ontveer te word. Soms het 'n paar manne per ongeluk hulle greep verloor en het die afkop-hoender daar bloederig rondgespartel (baie keer gelyk na iemand wat two-step met 'n paar slukke te veel voggies). Maar genoeg van die afkopbloedstories. Met die slagtery het die manne soms lus geraak vir gebraaide hoender. Dit was voor die dae van KFC en Marlow is 10 km buite Cradock. Die onnie sou nooit vir hulle een gee nie en hulle het ook nie geld gehad om een of twee te koop nie. Hulle sou wel een of drie mooi afgeslagte afkoppies kon laat verdwyn tot na Spanwerk. Maar in daardie dae het die gemiddelde ou nog sterk gewetes gehad en boonop is elke afkop hoender getel tot in die koelkamer. So....hierdie witvleis (of soos ernstige rooivleis eters sou praat: groente-) lus moes dus intoom gehou word.
Daar is niks wat die mensspoortrappers so inoverend maak soos hongerte en min geld nie. Soos ons altyd gepraat het in die vorige bedeling: "'n Boer maak 'n plan!" (bedoelende die ouens wat regtig geboer het en nie die witvelvloekwoord vir almal van Europese oorsprong nie). Sit 'n paar boerklonge bymekaar en skep 'n geleentheid saam met die hongerte en siedaar.
Soos dit ook soms gebeur word van die hoenders siek en moes van kant gemaak word. Dit het ook sy eie pret verskaf vir die manne. Maar dit is nou waar die geleenthede welig begin groei het. Van die skerper ouens het die geleentheid sien wortelskiet in die simptome van die siekte. As die hoender dronkerig rondstap, al in die rondte, dan kon sy kop maar waai want die arme malkoppie se strepie is getrek en kon dalk ander hoenders aansteek. En dit wou die Onnie nie he nie. Kort voor lank was daar 'n malkop-simptoom-tegniek ontwikkel wat tot menige geveerdes se afkop gelei het. As jy die hoender se kop afdruk en haar so klompie kere in die rondte draai (ek kan nie die detail van die tegniek hier bekend maak nie) en die hoender word gelos, dan is die gevolg daarvan perfekte simptome......hoender stap dronkerig in die rondte. Ongelukkig het die Onnie snuf die neus ontwikkel toe daar heelwat hoenders van kant gemaak moes word. Maar tot die genot van die uitgehongerde boerklonge, het heelwat malkop-afkop braaikuikens geword.
Die vierde kwartaal blues het die geneigheid om ons koppe omlaag te forseer en ons in die rondte te draai en loop ons dronkerig in die rondte teen mekaar vas. Van bo-af lyk ons geskarrel waarskynlik soos malkop-afkop hoenders in een of ander pluimvee afdeling tydens spanwerk.
As 'n klompie honger boerklonge tydens spanwerk 'n "goeie eerlike" plan kon maak, kan ons ook sekerlik saam iets kreatiefs uitdink en doen om die hongerte in ons tot bedaring te bring en nie soos 'n two-step afkop rond te trap nie. Boonop gee die Here ons genoeg van sy teenwoordigheid en liefde om kreatief-begaafd ons eie Spanwerk tyd te benut.