Monday, March 30, 2020

Nie met die voëls gepla

DAG 4


Toe die dag se lig skramsweg kop uitsteek, was die voëls vanoggend weer sterk besig met hul lofliedjies. Ja, ek noem dit maar lofliedjies. Daar was nie paniekliedjies nie. Ook angsliedjies of vlugliedjies nie. Net lofliedjies. Hulle, die voëls is nie in ‘n grendelstaat nie. Hulle klink meer vry (moediger) is voorheen. Maar ek weet dit is nie so nie. Hulle word nie aangejaag om betyds te wees of by nog iets uit kom nie. Hulle is net waar hulle nou moet wees en sing soos hulle kan sing.

So in die skemerte is ‘n Kaapse Ooruil besig met ‘n laaste wyse lied voor die dag volkome oopbreuk. Die Kaapse Glasogies, altyd teenwoordig, en vanoggend voor in die koor so asof hulle groter as ‘n witkruis is. Die Swartkopwieliewaal klokhelder op die noot wat in die leë strate nog verder gehoor kan word. So halfblok weg skerts ‘n Kardinaalspeg met die ander in kort en kernagtige lied (die meeste lidmate sal wens die dominees se preke is so kort en kragtig). ‘n Tortelduif koer ‘n rustige lied en die Groot Ringnek duif val met ‘n dieper lied in, iewers drie takke verder. Die Mikstertbyevangers se vriendelike oor-aktiewe lied laat my eerste voet uit die bed val en ek my oggend-danklied binne-toe brom. Gelukkig hoef geen van die nootvaste vere-skepsels my te hoor nie. Dalk sal hulle lofliedere verander in lagliedjies. Maar dit maak seker nie saak nie.

Gewoonlik word voëls, vir ons mensvel-skepsels, gesien as boodskappers. Boodskappers van vrede, verandering, vryheid en mag. Martin Luther het die voëls in die Swartwoud gesien as teoloë wat ons leer om suiwer aan ons Godlied te sing. Ek hou daarvan.

Jesus noem in Matt 6:26 die wilde voëls die “objekte” van God se Vadersorg.

Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Sy woorde help om te fokus op God as Vader wat liefhet en sorg. Juis daarom kan ons sing.

Kry jou lewe-lied, al hoor niemand anders dit nie. Sing dit binne-toe, buiten-toe. Al voel jy soos ‘n Glasogie lyk, klein. Sing asof jy ‘n Witkruis is. Wat groot met wye vlerke vlieg en vry is. 

Jy is geliefd en word voor gesorg. 
Sing maar!


Nuttelose inligting


     Die Amerikaanse Hummingbird is die enigste voël wat agteruit kan vlieg.
     Die pikkewyn is die enigste nie vlieënde voël wat kan swem.



Sunday, March 29, 2020

Wysheid is om ons


Dag 3

A wise man can see more from the bottom of a well than a fool can from a mountain top .
Unknown

Ek het iewers gelees of dalk gehoor dat wysheid het onder andere te doen met die vermoë  om kennis, insig en verstaan te integreer in die daaglikse lewe op so manier dat dit op ‘n praktiese wyse (soms voor die handliggend) lig aan enige persoon gee om te leef, om keuses te maak en sinvol met ander te konnek.

Die Bybel is nogal baie direk daaroor.

 

Soms is dit makliker om wysheid by ouer mense raak te sien of te hoor. Hulle kyk verder en dieper en kalmer en het baie keer meer gereedskap om alles bymekaar te bring. Maar soms sien en hoor jy wysheid by ‘n kind, ‘n tiener, ‘n jongmens of iemand nog nie so oud nie.


Mag ons almal in hierdie inhok dae nie net self Wys wees nie, maar wysheid om ons raaksien, raakhoor en raakleef.

Saturday, March 28, 2020

Bewus-wees en rubberhandskoene

DAG 2

GLOVE NITRILE POWDER & LATEX FREE MEDIUM 100PCS
So twee weke gelede gaan koop ek items by ‘n apteek om my eie handontsmetters te maak. Alle klaar vervaardigde handontsmetters was reeds uitverkoop en ons hande moet mos ontsmet word. Die kassier-dame het sulke blou rubber handskoene aan, gereed om gereed te wees en die apteek se beleid om ‘n veilige en ‘n kliniese omgewing vir die klient te bied. Ek plaas my items voor haar neer en net voor sy dit neem gebeur die onverwagte. Dit is asof alles in stadige aksie gebeur, want die sinapses van die boodskappertjies in my brein is verstar in ongeloof, en hulle koes-koes (darem nie hoes-hoes) voordat hulle voortgaan om te doen wat hulle moet. Die kassier-dame gee so lekker gewone nies, gelukkig vir haar het sy haar handskoene aan en is haar nies-hand veilig. Sy het darem met die nies weggedraai van my en veilig in die hand genies. Daarna gaan sy dood luiters aan en vat my items wat voorheen heel skoon en ok was en bedoel was om self in ‘n ontsmettingskonkoksie gebruik te word, en lui dit op. Niks snaaks het mos eintlik gebeur nie. Maar dit is 12 ure na ons President ‘n noodtoestand aangekondig het en ons volk geleer het van nies en groet.


Gelukkig kom daar ‘n kalmte oor my, na my aanvanklike verbasing en verstardheid. Dieselfde breinboodskappers laat my blitsig insien hier kan nou verskillende senarios afspeel en ek moet die beste een kies wat my nie op nasionale TV sal laat beland nie. Dalk was dit eerder die gerieflikste een. Ons land het nie nou konflik nodig nie en die ouens met die rooi oorpakke in die parlement gooi genoeg kinderagtige vloermoere. Ek vat toe my goed en trek ferreira. Vir ‘n tyd gaan daai apteek my nie weer sien nie (totdat ek weer iets nodig het en hulle ‘n special het en ek weer uit my huis mag gaan om dit te gaan koop).

Onkunde is saligheid

Daar is ‘n gesegde in Engels “Ignorance is bliss” (uitgeneem uit ‘n gedig van die 18e eeuse digter Thomas Gray) wat waarskynlik in Afrikaans vertaal kan word met “onkunde is saligheid” (Google). Dalk het sy nie van beter geweet nie en is sy nog steeds salig onbewus van alles en is haar hand ten minste skoon. Sy het mos haar rubberhandskoene aangehad. Maar dalk het ek gekies in daardie oomblik om nie te weet nie, want wat ek eintlik weet gaan my te veel ontstel en die koers van my dag op ‘n ongemaklike pad sit. Ek maak maar eerder asof ek nie gesien het nie. Ek is dan mos nie bewus van wat gebeur het nie. So, “ignorance is bliss”.

In die Bybel is daar ‘n hele boek waarin al die verhale skouer skuur hiermee. Een van die frases wat gereeld gebruik word in Rigters is “en elkeen het gedoen wat goed was in hulle eie oë” en een van die groot redes was dat hulle of vergeet het van God se pad met hulle en daarom onkundig was. Of hulle het so half en half subtiel gerieflik gekies het om nie te weet of wil weet van God se pad nie. Dit is baie makliker om te doen wat goed is vir myself. Die gevolge kan rampspoedig wees.

Die ander kant is ook waar. Om terug te kom na God en sy Pad te vat, bewustelik en daarop te bly loop en sy Wil te leer ken en deur Hom gevorm te word, so tussen die niese, handontsmetters, pandemie en slot-af-tye.

As ek nou hierdie bewustelike oomblik beleef, wat behoort ek nou te doen aan die apteek-nies-situasie? Ek kan nou niks daar gaan doen nie, maar ek gaan dit in ‘n grappie-kas van my brein stoor en kies om daaroor te lag. Dit was “iets”, maar ek is nog ok en tog was dit op ‘n manier snaaks. Dit hang af hoe ek dit vertel en ek het mos so bietjie kennis opgedoen deur die stap van die Pad.

Kennis is mag, het my ouma altyd gesê, en ook bevrydend wanneer dit reg, goed en tot voordeel van almal gebruik word.

Mag ons vandag bewus wees, van God, van mekaar en met insig lewe!

Friday, March 27, 2020

slotaf: STILTE

Stilte
Vanoggend word ek wakker (dankie tog), al wat ek hoor is die voëls. Geen voertuie in die strate en teen die Outeniqua-pas. Geen honde wat blaf vir vreemdelinge in die strate of mekaar soos telefoontjie-telefoontjie-speletjie aanblaf nie.

Die voëls het die verhoog vir hulself. Amper soos dit hoort.

Maar dit is die ironie. Dit vat ‘n onmoontlike virus om weer die skoonheid van oorspronklike oggendklanke duidelik te hoor.

Dit is ‘n mooi en vreemde stilte.

Ek dink, so hier by myself terwyl die dag blou breek, dit is ‘n goeie tyd om terug te kom na ‘n voedingsbron van ons oorspronklike Konneksie. Konneksie met hoofletter. Ons kan weer die vreemde stiltes gebruik om weer en weer stil te wees voor God, te fokus op God, te luister en te hoor, te fokus op hulle om my onder die dak waar ek nou moet wees.

Ek hoor vanoggend weer die ou lied:
Bedaar en erken dat Ek God is,
hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Ps 46: 11 (1983-vertaling)
of
“Wees stil en weet Ek is God!
Ek sal vereer word deur die nasies,
verhewe wees oor die hele aarde. (NLV)

Daar is ‘n lied in die kerk wat hierdie woorde eggo:
"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek spreek, en wind en golwe bedaar,
Ek sal ook jou getrou bewaar.

"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Ek ken jou pyn, jou donkerste nag.
Ek is by jou, Ek gee jou krag.

"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Kom bring na My jou kommer en vrees.
Ek sal vir jou 'n toevlug wees.

"Wees stil en weet: Ek is die Heer.
Bly waak en bid; volhard in geloof.
Ek is by jou soos Ek beloof."

Ek bid dit vandag vir elkeen in hierdie nuwe-ou-vreemde stilte!

Friday, October 26, 2018

Kies lewe


Lewe

I have set before you life and death
Therefore choose life – Deutr 30:19

Dis so mooi, hierdie woorde!
Nou ander dag sit ek langs die see, en kyk en dink en bid en kyk en sit en dink en voel en toe maak ek my skuldig aan 'n geïnspireerde nie-rymende woord-oomblik.

Ek sit en kyk oor die see
met haar sonblink silwer pens
en die diep basstem van branders se waterwitval
‘n Suide bries koggel kielie blare takkies

Voëltjies vlieg en sing vry
Elkeen almal dans ‘n vrye eie dans
Elkeen almal sing ‘n eie vryheidslied

Ek sit en luister
my oë nou toegebid

Ek hoor en sien 
als in een perfekte lewenspas

Asem
vloei
bries
brandend
skoon


Sunday, May 8, 2016

Perspektiewe en gesindhede

Die afgelope tyd het ek amper te veel om elke hoek, draai, winkelrak, braaivleisvuur, intieme spreekkamergesprekke, whatsapps en telefoongesprekke te doen gekry met mense, en veral vrouens, wat 'n worsteling met kanker het. Teveel in die sin dat net oorweldigend voel. Al het die jare se luister na mense se seer en stoei oorlewingseelte in my ore, hart en lyf gevorm, is elke gesprek en die terugbons-kyke in mense se oë 'n middelpen-uitboul vol vrae en soeke na hoop en moed en heelword binne flentersheid. Van baba-kinders tot oud en afgeleefdes, wat iewers saam met hul families hierdie diepseerwond pad moes stap, het ek al begrawe. En elke keer is maar soos 'n stywe-arm duikslag om die steelkant van die skrum (en glo my, ek weet hoe dit as skrumskakel, flank en agtsteman voel om so onkant gevang te word).

Ek weet dat ons almal die dood moet vat as deel van die lewe ('n "kontradiksie" in terme), maar dit is 'n seker feitlikheid wat aan meer vrees en seer geboorte gee as wat ons regtig eerlik sal wil erken. Henry Nouwen skryf in sy boek Our Greatest Gift hoe ons met oop arms oppad na die dood moet kies om te leef. Die dood is nie ons vyand nie, maar 'n geskenk. Soos 'n kind wat uit die baarmoeder-wêreld met geboorte, deurgaan in 'n nuwe wêreld wat wag. Net so is dit met die dood. 'n Geboorte in 'n nuwe wêreld waarin ons ingenooi word om anders te leef. Hierdie soort gedagtes of perspektiewe help om dalk anders te dink en reageer. Ek weet ook dat 'n kanker diagnose nie noodwendig 'n doodsvonnis beteken nie. Dit bring mens wel by 'n klomp eerlike perspektiewe en vra diep keuses oor die pad wat geloop word.

Dis net dat die kanker-ding soos haelstorm deurtrek sonder om te bedaar. Dit is nie net die oes op die lande wat deurloop nie, maar ook die blygoed en rygoed wat soos hoopvolle voëlverskikkers die skerpkante van storm weerloos in die gesig vat.

By elkeen van hierdie mense leer ek baie van die lewe en van die dood. Sommige is moedeloos plat, ander kan nog nie glo hierdie soort storm het sopas hulle in repe kom slaan nie. Dan is daar diegene wat met 'n blinkglinster in die oog, maar met 'n regop lyf en 'n wip in die stap die skerwe bymekaarmaak en hulle geloof en vertroue soos gare gebruik om die repe weer aan mekaar te werk. Wanneer hulle praat, soek hulle nie krag nie, maar is daar krag en lewe in elke woord en stilte.

Saam met elkeen van hierdie mense en hulle storie, journey leer ek tree vir tree om met perspektief  te kies vir 'n nuwe soort gesindheid.

Elke oggend voor ek opstaan, sit ek my voete op die grond langs die bed en voel die koelte van die vloer optrek deur my slaaplyf en dank God met 'n eenvoud gebed......dankie vir vandag, dankie dat ek vandag kan leef....

Tuesday, April 21, 2015

Bangbroeke?

As kind was ek altyd bang vir die donker. Om alleen in die donker te loop (nee, hardloop) was een van my grootste uitdagings as kind. Ek het nie lewensdramatiese-tsunamie-agtige uitdagings gehad om te hanteer nie. Ek was 'n normale kind met normale dinge en uitdagings. Maar die donker was elke keer, wanneer ek die binnestes daarvan moet moes betree, soos om in die oopbek van 'n grootwitdoodhaai in te kyk. Ek het nog nooit, maar nadat ek JAWS in 1977 gekyk het, het alles verander. Die donker maak musiek wat jou hartklop verander in diep stereo borskasbasklanke in die trillings van jou oordromme. Dit skroef die deure van jou verbeelding oop en loop rond soos mis-bewegings in jou skaduwee as die som van alle onbewuste rillerprentjies. Jy voel vreemd in jou eie hoendervel en jou bene wil soos 'n kop-af haan onwillekeuring weghol-rondtrap in jou broek na waar die lig bekend en veilig voel. Soms, wanneer die donkerte so erg, vreemd en bedreigend die suurstof uit jou mond wil steel, word jou wêreld verplaas na  skemertes met slierte swamdrade wat oor elke boomtak in jou gedagtes gedrapeer is. Dis die onderwêreld van jou skaduwees waar jy alle klanke, beelde, gedagtes, reuke en teksture onrealisties super groottes gee. Dit volg jou, elke beweging, elke aksie, elk geluid......

Wanneer jy weer "veilig" terug is in die lig, kleef die dampe van die donker nog taai in jou asem en in die sinapses van en na jou brein. So voed ons (en ek maak nou kwantum-spronge by gebrek aan geduld, tyd en spasie) die honger van ons vrese, ons vrese vir alles en almal wat anders is.
.
Ek weet nie of dit regtig so werk en so erg is nie, maar ek het 'n mistige vermoede dat ons vrese en onsekerhede gewillige bedmaatjies is van ons instinkte om te oorleef. Of ons veg, of vlug of doen net mooi niks nie, op grond van die boodskappe in ons brein (dat ons nog lank ons broeke hier op moeder aarde wil dra).

Volwassenes is bang vir baie dinge wat soos spinnerakke deur jou lewe van een kant na 'n ander kant, van een dag na 'n volgende jaar gespan word. Ons is bang ons verloor ons werk, ons huis, ons kar. Ons is bang ons maak nie genoeg geld nie. Ons is bang ons kinders maak keuses waarvoor ons nie kans sien nie. Ons is bang ons mors (nog meer) verhoudings op.  Ons is bang vir....... ek weet nie, dalk jaag ek spoke op.

In ons geliefde land word die buitelanders nou oor die grense gejaag deur mense wat agendas het. Ek dink iewers in die fynskrif van die agendas is daar die instink op oorlewing. Die vrese kook op, naamlik dat vreemdelinge van ander dele van donker Afrika en die Ooste uit die skadus van hul eie oorloë kom en ons eersgeboorte reg voor ons wegraap. Ek is seker die media se aptyt vir grootnuus het petrol gegooi op hoe so klompie Suid-Afrikaners gereageer het op hulle oorlewingsinstink en die donkergange van hulle vrese. Die situasie op die oomblik is soos 'n "moerby"-potjie met allerhande bekende en onbekende bestandele (gooi nog die standbeeld-protes-situasie vir ekstra geur by), maar wanneer dit eers in die pot ge"m#@r" is, is die resultaat buite beheer en is die kos in jou bord 'n onbetroubare bouquet vir jou palette. Onwillekeurig word jy ingeruk in die donkerbangbroek-ervarings van kind-wees waar geen rasionele redenasies jou by 'n veilige verligte plek kan bring nie.

Ek is nie meer 'n kind nie en ek kon darem iewers in my lewe die donkertes in die oë kyk. Maar my donker-bangbroek-tye eggo in tye soos hierdie soos helder skimme deur my lyf. Nog duideliker egter (gelukkig) is die klokhelder evangelie van Matteus 25: 35 oor spesifiek vreemdelinge en ander weerloses (banges). Dis soos 'n inenting  wat jou weerstand teen die vrese laat groei en jou oopmaak vir nuwe dapper soort verhoudings waarin jou mure, grense, stamverwantskappe, kleure, reuke, woorde en kyke deur die Eksodus-woestyne gelei word na die beloofde land. Die beloofde land is meer soos 'n pad wat aanhou, al weet ek nie altyd presies waarheen nie.

Een van die maniere waarop ek die donker-vrese in die oë geloer het, was om 'n liedjie te sing. Veral 'n liedjie wat met God te doen het. Die geloof dat God se lig groter as die donker se basklanke is, het waarskynlik my gemotiveer om uitasem 'n liedjie te sing. Ek het Psalm 23 baie gesing. Ek het nog steeds my spore lig getrap, maar ek kon stadiger begin asemhaal en my oë op meer plekke oopmaak om te kyk of die donker wêreld in my kop regtig bestaan. Ek kon leer, van een skemer swamdraad na 'n volgende, dat dat die donker aan die einde van elke dag steeds daar gaan wees. Maar ek kon dit meer en meer in die oë kyk. Ek weet ek moet nog steeds. Ek weet ek moet leer om nuwe ruimtes te skep vir ander en ek weet moet meer sing (al is dit net in my kop waar niemand anders die vals note kan hoor nie).